Aftrede…en verlange
Soos amper alle mense het ek ook saam met my man planne gemaak vir ons aftrede en so 15 jaar gelede Hentiesbaai toe gekom na sy aftrede in 1999. Vir 15 jaar het ek nog aangehou met werk tot ek ook nou die dag, na sorgvuldige oorweging, besluit het dis nou my tyd. Nou wil ek doen wat ek graag wil – skilder, reis, skryf of waarvoor ek ookal lus is, terwyl ek nog jonk en gesond genoeg is om hierdie dinge te geniet.
Ek droom drome van reise, maar meesal in my eie land en die Kaap – plekkies waar ek nog nie was nie. Kaokoland, Kalahari, die Sederberge, Namakwaland in die blomtyd, kaapse platteland en klein karoodorpies. Ek wil op grondpaaie deur die Sederberge ry en gaan kyk hoe lyk Wuppertal. Ek wil gaan kuier vir dae lank op ‘n dorpie soos Prince Albert en al die passe in die Klein karoo en die Overberg gaan ry. Ek wil fotos neem om te skilder en skryf oor my ervarings.
En dan wil ek op die herinneringslaan gaan terugloop, in die suide waar ek grootgeword het. Ek wil in Keetmanshoop se strate gaan ronddwaal en kyk of ek nog van die pragtige ou klipgeboue kry wat ek uit my laarskooljare onthou. Ek wil gaan kyk of Daan Viljoen Laerskool se koshuisgeboue met die bloedrooi kamerdeure wat ek so goed onthou toe ek op my eerste skooldag oppad koshuis toe verdwaal het, nog bestaan. En die ou geboue, in 1962 toe ek skool toe is reeds in onbruik, waar ons skelm bok-bok gespeel het, om verstaanbare redes streng verbied vir ons meisies deur Mnr Biddolph, die destydse koshuisvader.
Ek wil gaan kyk of die Stumpfes se bakkery, waar ons die vetste oliebolle vir 20 sent gekoop het, nog bestaan, die ou slaghuisie op die hoek waar ek die graagste lewerwors gekoop het, die ou seunskoshuis Buk-en-Kruip (wat lankal nie meer bestaan nie). Ek wil weer by die poskantoor verbyloop en onthou hoe ek week na week pos uitgehaal het en weer die opgewondenheid ervaar van ‘n moontlike pakkie met gedroogde kweperlekkers van Ouma af, of ‘n briefie wat vertel van haar lewe in Makwassie. Ek wil gaan kyk of die ou tuintjie met die visdammetjie regoor die polisiestasie nog bestaan.
Ek wil op my pad terugloop van die koshuis af na die ou flieksaal waar ons elke week gaan fliek het en oppad by die Milky Bar gaan roomys koop of melksommel drink het. Ek wil weer balletklas toe loop en by Stumpfe bakkery vir my ‘n oliebol gaan koop, of ‘n stukkie lewerwors sommer so vir die peusel op die pad. Ek wil gaan kyk of ek nog die roomyskarretjie kry wat elke namiddag aan ons roomys en creamy toffies verkoop het.
En dan wil ek die grondpad vat by die Vaalkop verby Toekoms toe – daar waar my wortels lê en halstarrig nog steeds nie wil verplant nie. Ek wil deur die poort ry en kyk of die kokerbome blom en of daar nog dassies bly. Ek wil deur Ma-se-Hek ry – so genoem na my ma hom uit die aarde gery het. Ek wil fonteinkamp toe gaan en kyk of die gronddam nog bestaan, en deur die poort oppad Garib toe. Dan wil ek deur wuiwende gras na die ou plaashuis ry en kyk of die soetdoringbome, die palmbome en die groot ou bloekombome nog daar staan. Die ou bome waaronder ek en my kleinboetie met ons karretjies en dolosse plaas-plaas gespeel het en vir die mierleeutjies miere gevoer het. Ek wil weer die windpomp hoor sug soos hy swoeg om ‘n bietjie water uit die aarde se dieptes te suig en my hand onder die koel water hou waar dit in die sementdam val. Ek wil kraal toe loop, daar waar die groot ou vyeboom gestaan het, ek wil skaapmis en beesmis in die koeistal ruik. En erdwurms uit die leivoor haal om in my tuin te kom plant. Ek wil na my pa se kantoor toe stap en ruik of dit nog na ou boeke en skaapwol ruik. En ek wil die son in die weste agter die windpomp sien sak in ‘n gloed van goud en rooi glorie.
Land van my hart
Ek wil weer soos ‘n kind oor die vlaktes loop
deur die wuiwende gras, blink van hoop
die soet kneusing daarvan diep inasem,
‘n aroma wat my omkelk soos wasem
Ek wil die geur van kraalmis in my neus voel kriewel
as die westewind dit opjaag in ‘n dwarrel
altyd maar ‘n voorspel tot die droogte,
die swaarkry wat so deel van my wêreld is
Ek wil weer die son oor die koppies sien sak
in ‘n bloedrooi voorspel tot die nag
met die windpomp, skeefgetrek teen die skemer lug,
sy kermende hartseerlied, ‘n jammerlike sug
Ek wil weer onder die bloekoms speel
my diepste geheime met hul deel
luister hoe die wind deur die blare streel
en myself allerhande sprokies verbeel
Ek wil jou groet ‘n laaste maal
jou vir ewig in my siel gaan haal
Toekoms, my geboortegrond
land van my hart…verlore grond
En as ek my siel vol gedrink het uit die ou beker van herinneringe wil ek Aroab toe ry, en Narabis toe, en daarvandaan met die agterpad Karasburg toe en verder suid.
Dit was my plan…toe brand ek my kombuis af en al die reisplanne warrel saam met die rook die lug in! En bring my terug na die werklikheid en die besef dat net miskien is my droom bietjie onrealisties. Ek gaan nie meer al daai herinneringe raakloop nie, meer waarskynlik die teleurstelling van ‘n harde werklikheid, die verval van die plek waar soveel mooi stukkies van my lewe lê.
En ek besef weer eens, pers het baie kleure. Koester liefs die sagpers van kinderherinneringe en ontdek nuwe skakerings. Verf die res van elke deel wat nog ontdek moet word sy eie pers wat saam met al die ander herinneringe in die geheue gebêre kan word vir die uithaal en afstof wanneer die verlange te veel word – of bloot om vir die lekker aan te knibbel, stukkie vir stukkie soos aan romerige sjokolade.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.