Jongste aktiwiteit:

Pers kom in baie kleure

Pers kom in baie kleure….

van ‘n diep donker inkpers deur die hele spektrum van rooipers tot die sagtste bloupers.

Elke mens het ‘n eie unieke waarnemingsvermoeë wat waarskynlik gekoppel word aan die psige en lewensondervinding of bloot belewing van dinge wat jou verskillend na dinge laat kyk. Sommiges sal ‘n kleur sien as vaal, bruin of grys terwyl ander dit sien as ligroos, lila of blougrys.

My liefde vir pers – alle skakerings van pers – het sy oorsprong aan die kleur van Namibië se berge in die wintertyd. Daardie deurskynende kwaliteit wat die verafgeleë berge aanneem as dit gestroop is van enige groenigheid en deur die meer genadige lig van winter versag word tot ‘n persblou wasigheid wat lyk of dit in die niet wil verdwyn waarvan die Erongoberge ‘n sprekende voorbeeld is. Vandaar die inspirasie vir die gedig –

Erongoberg se blou
iewers tussen pers en grou
huiwer erongoberg se blou
in die verte net ‘n silhoeët
‘n hersenskim, ‘n skaduweeportret
sagblou soos uitgespoelde glas
deur die see uitgewas
mistieke diep geheime
lê in ravyne opgesluit
waar das en klipbok ligvoets loop
moet ek en jy, met onvas tred,
ons spore trap in die vae hoop
om iets hier wys te word
diep verborge antwoorde
op kataklismiese gebeure
bly slegs eggos van ons vrae
legkaart-stories wat ons las
in die hoop om dinge te maak pas
wie’t rotse, reuse balle
soos albasters rondgestrooi,
wie’t stories geskryf op klipmure,
rotsformasies soos figure
uit die ruwe rots gekap
– ‘n olifant, renosterkop, ‘n kaart van Afrika?
wasig blou tuur die erongos
– onverstoord –
oor die kaal, verlate vlakte
hul geheime in ‘n waas gehul
stories uit ‘n vroeër era
geskryf in rotsgravure
vae antwoorde slegs eggos
van ‘n baie vêr verlede

Pers in al sy skakerings kom so algemeen in die dorre woestynland van ons voor. Met die son op die regte invalshoek kan die vaal woestynvlaktes die sagste skakerings van pers aanneem wat die harde ongenaakbaarheid verbloem en ‘n sagte pers sprokieswêreld optower. Die van ons wat gereeld in die woestyn gaan ronddwaal sal weet van die plante wat in alle vorms van pers in malse oordadigheid die bruin vlaktes na die reen verbloem soos die vratjiesbos wat soos ‘n tapyt sy pers ranke oor die grond uitstoot en vele ander wat nog nie eers naam gegee is nie.

Ek kan my verwonder aan die kleure van die rooiborsduif. Getooi in die sagste skakerings van pienkpers, bloupers en koper met pragtige kartel patrone op die vlerke, ‘n ware fees vir die oog vir díe wat die tyd wil neem om die voëltjie mooi te bekyk.

Koperduif
In die rooiborsduif se kleure
skryf ek vir jou ‘n groet
sierskrif aan ‘n purper hemel
in lila, roos en goud

Met die lagduif se gesang
sing ek vir jou ‘n lied
‘n lied van liefde en van leed
van hoe ek na jou verlang

Ek stuur vir jou ‘n boodskap lief
in ryk kaneelgeur kleur
van hoop en moed en baie durf
en oor en weer probeer

My diepste wens stuur ek vir jou
met die koperduif se vlug
dat ons pad belig sal word
soos son op die koperduif se rug

So is die lewe ook. Vir die wat daarna wil kyk deur ‘n pers bril is daar die vele wonders van die lewe in al sy fasette. Dis my keuse wat ek daarvan wil maak, watter bril ek wil opsit. Almal van ons word gekonfronteer met die soet en die suur van die lewe – daar is nie ontvlugting hiervan nie. Ek moet myself toerus om die soet tot die beste te benut en die suur te hanteer sodat ek ook die beste dááruit haal, en sterker en met meer ervaring anderkant uitkom.

Wat belangrik is, is dat ons moet beplan. Ek kan nie sit en wag dat dinge maar gebeur en hoop ek kom heel anderkant uit nie. Ek moet myself voorberei vir die gebeurlikhede van die lewe en na die beste van my vermoë daarvoor beplan. Natuurlik kan mens nie op alles voorbereid wees nie, maar deur ‘n positiewe ingesteldheid te ontwikkel en in stand te hou kan ek myself toerus om krisisse te hanteer en die hoof te bied.

Persoonlik maak ek op my intuïsie staat om my te lei. Ons is dikwels so besig en gejaagd dat ons nie na onsself luister nie. Ek probeer my instel op my innerlike wese, diep te luister en daardie innerlike stemmetjie se raad te volg. Ek maak tyd vir myself, beoefen my passie en skep my eie wêreld en ek verf hom pers in al die skakerings op die spektrum!




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed