Die man met die ligblou oe. Episode 2 – Deel 5
Die man met die ligblou oë
Episode 2 – Deel 5
Gedurende die gejaag na die lughawe is daar ‘n intense gesprek tussen Daniel en die Kolonel terwyl hy sy gevegsbaadjie aantrek en ook die voertuie voor hulle probeer dophou. “Daar is twee gewonde priesters in die kerk, hulle het groot sakke vol geld by hulle, maar ek dink nie hulle sal dit kan skuif in hul kondisie nie. Dit wil my dan ook voorkom asof die geselsie langs die swembad net ‘n kyk en knik was, want die ou man in die rooi swembroek is heel waarskynlik ook van die kerk. Daar was Italianers betrokke, so dit wil my ook voorkom asof die kerk as middelman optree vir die koop en verkoop van die meisies. Die Indiër is net die koerier, vir ‘n kommissie natuurlik” verduidelik hy sy insigte aan die Kolonel. “Ek dink jy’s heeltemal reg” stem die Kolonel in, “ek sal dadelik mense na die kerk stuur asook oë op die huis kry. Ons kan net daar toesak as iemand ‘n vinger soontoe sou wys, anders is ons bewyse ‘n bietjie skraal, maar moenie jou daaroor bekommer nie. Stop die ontvoering, bring die meisies terug” is al wat die Kolonel sê voor hy aflui.
Daniel bepaal hom nou by die agtervolging van die voertuie. Dit het nou duidelik geword dat hulle oppad is lughawe toe. Daniel is seker dit is al die buitelanders wat hy in die kerk gesien het wat nou voor hulle ry. “Daar’s ongeveer 12 of 14 van hulle” lig hy die ander twee agente in. “Ons eerste objektief is om hulle te skei en dan die meisies af te neem”. Die ander agente knik en almal begin hul wapenrusting nagaan en hul kommunikasie te toets.
By die lughawe draai die twee limosines by die area in waar privaat vliegtuie geparkeer staan. Die agente stop en hou die situasie fyn dop van agter ‘n bagasiewa. Daniel klim uit die motor en sluip versigtig nader tot hy agter ‘n lughawe voertuig halfpad tussen die twee voertuie en die Gelanderwagen kan wegkruip. Hy wag vir die regte oomblik om die agente die teken te gee om toe te slaan. Die grootste groep van die mans is besig om teen die trappies van die vliegtuig op te stap. Dit wil voorkom asof daar drie ouer mans is wat deur die jongeres gehelp en bygestaan word. Daar is ook duidelik wagte wat die area om die vliegtuig fyn dophou. Daniel bly ongemerk en sien dat die bestuurders besig is om die bagasie uit die limosines te laai. Twee van die wagte is ook besig om die meisies hardhandig uit die een limosine se agterdeur te trek. Daniel swaai sy vuis in die lug en die Gelanderwagen se enjin brul soos hy voorentoe skiet.
Die agente kom met skreeuende bande tussen die limosines en die vliegtuig tot stilstand. Hiermee skei hulle die groep, met die meisies aan die kant van die voertuie. Die wagte op die trap begin dadelik op die swart voertuig skiet, maar die agente is reeds uit die voertuig en skiet terug. Twee van die wagte val en die res van die groep beweeg vining in die vliegtuig in. Die wagte wat die meisies hanteer probeer ook op die agente skiet, maar Daniel skiet die eerste een tussen die blaaie, vanuit sy wegkruipplek agter die lughawe voertuig. Die man sak inmekaar en die verwilderde meisie staan vir ‘n oomblik vertseen, onseker wat om te doen. Daniel storm nader en skree vir haar “In, …in die voertuig…klim in!” en hy beduie met sy hand na die motor. Die meisie snap dadelik wat hy sê en duik terug in die agtersitplek.
Die tweede wag swaai om toe hy gewaar dat hulle ook van ‘n tweede posisie aangeval word. Hy probeer ‘n skoot op Daniel afvuur terwyl hy vir Jorike Gunther voor hom vasklou soos ‘n skild. Daniel duik agter die voertuig in en probeer die situasie vining deurdink, maar hy hoor hoe die vliegtuig se enjins begin skree en sien hoe die wiele begin rol. Hy besef hy sal vining ‘n plan moet maak. Die deur is nog oop en van die wagte skiet nog steeds op die agente wat agter die Gelanderwagen wegkruip en sporadies terugskiet.
“Ek sal haar vrek skiet!” skreeu die wag en druk die pistool so hard teen Jorike se kop dat sy ‘n ligte gil gee. Daniel sit sy eie pistool op die grond neer en kom stadig orent agter die voertuig, hande in die lug. Die wag sien hom en dadelik probeer hy weer ‘n skoot op hom aftrek. Die skoot is regs verby want Daniel het reeds weer plat op die grond geduik. Hy raap sy pistol op en skiet onderdeur die voertuig die man deur die enkel. Die wag brul van pyn en slaan agteroor met sy een been in die lug. Toe hy grond vat skiet Daniel hom twee keer, een skoot deur sy bors en die tweede skoot deur sy kop. Die lewelose liggaam bly net daar lê en ‘n bloedplas begin op die sementblad vorm. Daniel spring op en roep bo die lawaai van die vliegtuigenjin na Jorike. “Jorike, Jorike, klim in die kar en bly daar…klim in en bly daar, ons is nou terug!” roep hy na haar terwyl hy na die ander agente harloop. “Ry!” skree hy soos hy in die voertuig spring en met sy hand na die vliegtuig aan die begin van die aanloopbaan wys. Die enjin brul en die voertuig jaag op die aanloopbaan agter die versnellende vliegtuig aan.
Daniel krap in sy gevegsbaadjie, maak die venster oop en gaan staan op sy kniee op die agtersitplek, sy bolyf hang by die venster uit. Wind en stofdeeltjies blaas in sy gesig en die geskree van die vliegtuigmotore is oorverdowend in sy kop. Die ander agent leun terug uit sy stoel en hou Daniel se bene vas soos hy tot op die maksimum rek en buite die voetuig uithang. Die Gelanderwagen se kant word teen die wiel van die vliegtuig geskraap, maar die agent wat bestuur is behendig en hou die voertuig op spoed en onder beheer. Met ‘n bomenslike poging plak Daniel die kleefmyn aan die wielstut van die vliegtuig, net betyds om te sien hoe die wiele die grond verlaat en die massiewe kolos in die lug op van hulle wegbeweeg. Die voertuig kom met skreeuende bande tot stilstand en al drie die agente staar die vliegtuig agterna soos dit steil wegdraai van die lughawe en in ‘n oostelike rigting oor die see begin vlieg. In sy kop hou Daniel telling van die sekondes soos dit drie minute aftel. Hy lig sy hand met al vyf vingers uitgestrek. Dan verminder die vingers een vir een tot net sy vuis in die lug bly. Die vliegtuig verandar skielik in ‘n vlammebal en dan vlieg wrakstukke met ‘n trae boeë na onder om in die see te val. Die agente glimlag vir mekaar en klim almal terug in hul voertuig en ry terug na waar die twee meisies vir hulle langs die limosine staan en wag.
***
“Daar is groot ontsteltenis in Mafia geledere” begin die Kolonel die intel sessie. “Ons verwag stellig dat hulle ‘n redelike groot publieke ding gaan doen om die dood van die drie don’s te wreek. Die ou manne op die vliegtuig was mafioso base. Don Felicio Cordano was hoof van die Sisiliaanse Familia en die ander twee, Don Marco Delemente en Don Frederico De Florente, van New York en Chicago onderskeidelik. Die FBI en Interpol is reeds ingelig en op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas. Ons is afgeraai om enigsins betrokke te raak. Ons objektief was Jorike Gunther, die objektief is 100% behaal, wel gedaan. Dit sal al wees.” Sluit die Kolonel die sessie af en die agente begin na hul onderskeie voertuie beweeg.
“23h00 by Bernie’s!” roep Daniel in die parkeergarage uit en sien hoe die ander vir hom duime wys. Hy glimlag en ry terug na die woonstel. Susan behoort terug te wees en Daniel glimlag soos hy weer aan haar dink. Dit is twee dae sedert hy by The Place ingestap het en nou lê daar 2,5 miljoen dollar in ‘n sak op die agter sitplek. G1 reël is dat belonings gelykop tussen agent en hoofkwartier gedeel word. Daniel glimlag nog breër en besluit dat hy elkeen van die ander agente wat hom gehelp het, ‘n halfmiljoen sal gee, dis net regverdig.
Susan is besig om koekies te bak toe Daniel die woonstel instap. “Gaan stort vir jou” sê sy gemaak-streng nadat hulle lank en innig gesoen het. “Dan kan jy koffie en koekies kry, as jy soet is” Daniel lag en gaan klim in die stort. Later sit hy op die rusbank en geniet die heerlike vars koekies wat Susan gebak het. “Hoekom glimlag jy so…was jy alweer stout?” vra sy met ‘n glimlag. “Nee…” antwoord Daniel ondeund, “maar ek gaan nou wees…kom hier!” sê hy en gryp haar laggend om die middellyf.
Later die aand by Bertie’s gee Daniel elk van sy kamerade ‘n volgestopte sportsak as geskenk. “Net ‘n klein blyk van bedanking aan julle, sonder julle twee sou ons dit nie kon doen nie, dankie….en vir jou…” sê hy soos hy met ‘n glimlag na Susan draai, “…vir jou wag daar ‘n 14 dae bootreis vanaf Italië saam met ‘n man van jou drome” Susan lag uitbundig en maak dan asof sy diep dink “mmmm” sê sy half onskuldig, “ek sal hard moet dink wie dit gaan wees…” maar voordat sy verder kan praat, soen Daniel haar en trek haar teen hom vas. Susan glimlag en kyk diep in die ligblou oë van die man vir wie sy so oneindig lief is, en sug tevrede terwyl sy hom styf teen haar vashou.
Die einde
© Grootvissie
Januarie 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.