DIE OU IN DIE SPIEËL
STERGRADERING: BRONS
WOORDETAL: 878
DIE OU IN DIE SPIEËL
Ek lê op die bed, besig om te herstel na ’n traumatiese hartomleidingsoperasie. My sig het aansienlik verswak, maar volgens die spesialis is dit net tydelik van aard. My gehoor is ook ernstig aangetas, alhoewel ek reeds aan gehoorverlies gely het voor die operasie.Telkens bars ek in ’n onbeheersde hoesbui uit. Ek kan nie behoorlik praat nie. Al wat jy hoor is ’n doodsroggel en ’n gehyg na suurstof. My bors brand soos ’n smeltoond, terwyl sporadiese hoessarsies soos ’n weghol masjiengeweer in my binneste afgaan. Fisies draadjie my lewe tussen wêrelde van magtelose onsekerhede. My gees vryval vreesbevange van onsekerheid, soos ’n valskermsoldaat wat sy eerste nagsprong in ’n oorlogsituasie moet uitvoer. Ongeduld knaag aanhoudend aan my siel. Die woorde van die hartspesialis voor die operasie, is nog vars in my geheue: “Ons gaan van jou ’n nuwe mens maak”. Wat ’n siek grap, dink ek byna hardop. Kyk hoe lyk ek nou, die sogenaamde “nuwe mens”.
Aan die voetenent van my se bed staan ’n spieëlkas. Daar is ’n ou in die spieël wat elke beweging van my baie fyn dophou. Wat ’n bron van irritasie. Ek ignoreer die ou in die spieël nou al vir weke lank. Telkens stap ek haastig voor die ou in die spieël verby badkamer toe en terug sonder om eers in sy rigting te kyk. Ek wil eerder net opgee, want ek kan die pyn en lyding nie langer verduur nie.
Skielik eggo die stem van die ou in die spieël deur elke krater van my brein: “Pieter, byt vas man!”. Ek spring amper op aandag, soos in my weermagdae, en loop so vinnig as wat ek kan tot voor die spieël. Vir die eerste keer in my lewe kyk ek die ou in die spieël reg in die oë. “Wat sê jy?” vra ek uitdagend. “Ek sê byt vas man!” antwoord die ou in die spieël gebiedend.
My moeder se woorde doem ewe skielik vonkelnuut en glashelder by my op: “My seun, maak nie saak hoe benard die situasie is waarin jy jou bevind nie, jy gee nóóit óóit op nie. Ek hoor myself hardop sê: “Ja Moeder, ek onthou”. Ek kon sweer ek hoor ’n melodie in my moeder se stem, en plot haar woorde opnuut binne die ruitverwysing van my hart.
Ek kyk aandagtig vir die ou in die spieël. Emosies potlood die buitelyne van sy gesig, en die ongenaakbare ploeg van die lewe het ook al diep sooie op sy voorkop gelaat, terwyl sy voorkop ook al oor die jare al hoe langer geword het. Sy grys baard rond die prentjie tussen die skulpe van sy ore netjies af. Voorwaar selfversekerd. Dít is die ou in die spieël.
Ek moet sê die ou in die spieël lyk nogal bekend. Dit is egter sy oë wat my aandag trek. Hulle lyk moeg, leweloos, opgee-oë . “Haai jy!” hoor ek myself bevelend hardop sê: “Byt vas, man! Maak nie saak hoe benard die situasie is waarin jy jou bevind nie, jy gee net nóóit óóit op nie. Wat dink jy gaan van jou pragtige vroutjie word as jy nou opgee?”
Ek kyk en ek kyk en ek kyk weer, al dieper in die spieël. Jou werklikwaar daar staan my geliefde vroutjie, styf teen die ou in die spieël. Ek moet sê, ek kon nie help om so bietjie jaloers te voel nie. Hoe op dees aarde kon ek haar deur al my trauma en pyn miskyk? Sy was dan altyd daar vir my. Die soet geur van jasmynparfuum bevestig haar teenwoordigheid. Sy staan en glimlag met haar arm ontfermend om die ou in die spieël. Skielik voel ek die deernis van haar aanraking. Sy is die engel wat langs die ou in die spieël staan, mooier as ooit.
Dan praat die ou in die spieël met my hart. “Onthou jy nog daardie romantiese gediggie wat jy destyds in die Kgalagadi vir haar met ’n kameeldoring in die sand onder die lig van die volmaan, geskryf het?” Ek blaai hardop deur die argiewe van my geheue:
“My liefling
Kom ons spore saam
onder die sluier van die Kgalagadi-maan
wyl die sterre se blink vir ons wink
en kraaknuut die boodskap van die wind
deur die grasvlaktes klink
waar die melkweg sy raam
in die spieëls van jou oë baan
waar ons liefde as kind
tussen die duine vrede kon vind
waar kameeldorings skadu’s sambreel
en vlammetjies hardekool ons harte heel
’n duineliedjie kraaknuut ketter
in elke vlammetjie se letter
my liefling
kom ons trap saam nuwe spore
in die sluier van die Kgalagadi-maan …”
“Wil jy nou werklik opgee met hierdie juweel aan jou sy? Wat sal die ander mense van jou dink, veral diegene wat opkyk na jou? Hulle sien jou as leier, iemand wat voor loop in die lewe.
En God; wat nog altyd by jou staan. Waar en hoe pas Hy nou in jou spieël?’ vra die ou in die spieël.
Ek het my hoof in skaamte laat sak.
“Tel op jou kop my man. Kyk die lewe in die oë. Ons gaan stap, sodat jy jou krag kan begin herwin,” sê my vrou glimlaggend langs die ou in die spieël …
———————oo00oo———————
(© Pieter Mostert)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT