Jongste aktiwiteit:

Die telbare ontelbare name van God

Wagner was onseker hoe om te reageer. Sy tegnologie maatskappy het rekenaarbedieners al regoor die wêreld geïnstalleer, maar ‘n Tibettaanse klooster iewers in die Himalajas was ‘n eerste. Hy het ook geen idee gehad hoe om op te tree teenoor die ou man, in sy eenvoudige oranje karsaai, wat oorkant hom gesit het nie.
“Kan u dalk verduidelik presies waarvoor u die bediener wil gebruik?”, vra Wagner nuuskierig.
“Natuurlik,” sê die monnik vriendelik. “Julle OLCF-4 kan maklik komplekse wiskundige bewerkings uitvoer wat gewone rekenaars jare sal neem om te doen. Ons wil dit natuurlik nie gebruik vir nommers nie, maar vir letters.”
Wagner was baie trots op hulle maatskappy se vlagskip bediener. Die superrekenaar kon die mees komplekse berekeninge doen teen die spoed van lig. Fisikusse, ekonome, wiskundiges en kosmoloë het almal al, ten duurste, ‘n OLCF-4 aangeskaf om die mees komplekse probleme op te los. Maar wat sou ‘n eenvoudige klooster in die berge moontlik met so ‘n kragtige masjien wou doen?
“Ek verstaan nie …” het Wagner uiteindelik gesê.
“Dit is ‘n projek waaraan ons al drie eeue werk.” het die ou man geduldig verduidelik. “Ons is besig om ‘n lys op te stel wat al die name van God bevat. Ons het rede om te glo dat elke moontlike naam van God kan met net nege letters geskryf word. Wat ons sowat vyftienduisend jaar sou neem om met die hand te doen, sal binne dae klaar wees met julle bediener.”
“Ek verstaan hoekom julle die bediener wil gebruik, maar … wat is die punt?” Wagner het hard probeer om nie die man te affronteer nie.
Die ou man het ‘n oomblik in stilte gesit en verby Wagner gestaar, sy skouers opgetrek en gesê, “Noem dit maar ritueel. ‘n Filosofiese probleem wat belangrik is vir … ons geloof. As ons elke permutasie van God se name, soos Jehova, Allah, Adonai en so aan op skrif het, sal dit ons probleem oplos. As die polinoom P maal 9 tot die mag 370 tot die mag 7 139 gebruik word, en dieselfde letter nie drie keer na mekaar voorkom nie… Jy sien, dit is ‘n aardige hoeveelheid.”
As ingenieur het Wagner die wiskunde verstaan, maar iets het nie sin gemaak nie. “Ek verstaan maal nege, maar hoekom ook tot die mag 370 en 7 139?”
“O ja! Ek het vergeet om te noem. Die masjien moet die name in elke alfabet en elke simbool wat nog ooit bestaan het, uitdruk. Dit is natuurlik die drukwerk wat die proses effens stadiger gaan maak, maar ek is seker jy gaan ‘n doeltreffende oplossing hê.”
Wagner het sy kop geknik toe hy uiteindelik die versoek verstaan. “Daar is dan nog net een kwessie…”
“Natuurlik!” het die monnik hom onderbreek. “Hier is die bankgewaarborgde tjek. Julle kan dit met graagte solank gaan bank.”

*

Wagner het sy hande vinnig teenmekaar gevryf, terwyl hy oor die ysige landskap getuur. Vir ander mense sou dit dalk mooi gewees het, maar hy het die stad verkies. En hitte. Dit was koud tot op die been hier.
Agter Wagner het George uiteindelik te voorskyn gekom.
“Kom, roer jou litte! Dis nog ver lughawe toe, en dis amper tyd …” het Wagner vies gesê. Oor die laaste drie weke het hy en George dag en nag gewerk om die superrekenaar op te stel en honderde drukkers aan die netwerk te koppel. Uiteindelik is die roetine aan die gang gesit en die drukkers het duisende bladsye begin uitgespoeg.

Een dag het George twee monnike hoor praat in gebroke Engels. George het dadelik, met dit wat hy gehoor het, na Watson toe gehardloop. Hy móés net die brokkie nuus deel. Die hele projek het skielik sin gemaak. Blykbaar glo die Boeddhiste in dié klooster, dat sodra al God se name op skrif is, Sy wil volstrek is. Dit sou dan die einde van die wêreld, oftewel Armageddon, beteken. Watson was nie beïndruk nie. Hy was nou nie regitg gelowig nie, en het glad nie gedink dat die projek ‘n sukses sou wees nie. Dan, volgens hom, sou die monnike hóm definitief blameer vir die mislukking. Dit is hoekom hy en George so vinnig as moontlik hier wou wegkom – enkele ure voor die laaste name op die laaste bladsye gedruk sou word.

*

Soos wat Wagner en George oor die landingstrook stap, dink George hardop, “Ek wonder of die masjien al klaar is met die laaste name…”
“Kyk …” antwoord Watson wat opkyk na die naghemel, en George volg Wagner se blik.
Bo hulle, sonder enige fanfare, verdwyn die sterre een vir een, soos ligte wat afgesit word.

* Arthur C. Clarke het “The nine billion names of God” in 1953 geskryf, toe rekenaars nog met vakuumbuise gewerk het en baie stadig was. Die verhaal is gemoderniseer om moderne tegnologie in ag te neem, aangesien dié interessante mengsel van wetenskapfiksie en godsdienstige filosofie steeds vandag van waarde is. Die analitiese kombinatorika berekening [P(9)^370^7139] gee ‘n getal wat baie moeilik met woorde geskryf kan word, en dus was die oorspronklike titel ook nie meer van pas nie.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Isha Welman het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tokkies het ‘n nuwe publikasie gemaak