DIE WIEL DRAAI HFSTK 7
HOOFSTUK 7
Dit is net na die vakansie wat Hans en Jannie se paaie skei toe Jannie sy aanstelling as drywer kry en hooflyne toe gaan om Hans op die rangeer agter te laat. Jannie se belofte toe hulle die laaste keer saam afteken is: “Hans ek sal jou nie vergeet nie. Kom kuier as daar kansie is en al is ek nie by die huis nie, Ronel is daar. Die eerste keer wat hulle sukkel om vir my n stoker te kry vra ek die rooster opsteller om jou saam met my te boek”.
Hans maak deeglik van die aanbod gebruik en maak nogal dikwels n draai by Jannie en Ronel. Op hierdie manier raak hy en die rooikop Ronel ook hegte vriende as hy daar kom kuier en Jannie op die pad is. Elke slag moet Hans vertel wat Marietjie en Elsabe skryf en platjie wat sy is, trek sy altyd Hans se siel uit oor Elsabe. Sy het ook met die vakansie agtergekom dat Elsabe dood verlief op Hans is maar in haar hart weet sy dat hulle die perfekte paartjie sal uitmaak en laat geen gras onder haar voete groei om dit vir Hans met elke geleentheid te vertel nie.
Met sy verloftyd gaan kuier Hans vir die meisies op New Canada. Hy het nie veel van hulle nie want hulle moet bedags skool toe en smiddae moet hulle huiswerk doen. Dit is net saans wat hy n rukkie by hulle kan kuier.
Gelukkig het hy vir die week wat hy daar is n kamer in n losieshuis naby die tehuis gekry en eet hy maar saam met Marietjie en Elsabe by die tehuis want die huismoeder reken dat een bord kos ekstra tog nie sal saak maak nie. Die naweek is die hoogtepunt wat hulle meer tyd saam kan deurbring. Hans neem hulle fliek toe en sit hy en Elsabe die hele tyd en handjies vashou. Die Saterdag en die Sondag bring hulle bedags die hele tyd in mekaar se geselskap deur en kuier hulle saans in die sitkamer by die tehuis voordat Hans losieshuis toe gaan om te gaan slaap.
Dit is n hartseerafskeid toe Hans weer moet terug maar is daar ook die blydskap van n weersiens met die Julie vakansie wat hulle weer sal Bethlehem toe kom.
Dit is net nadat Hans van verlof af terug is dat Jannie sy belofte nakom en is dit toe hy een oggend afteken wat die roosteropsteller vir hom sê: “Hans moet nie vir die rangeer teken nie. Jannie de Beer se stoker het af siek geboek en hy het spesifiek gevra dat jy vir hom kom stook. Ek weet dit is kort rus wat jy uitdraai maar julle is twee uur aan diens vir 654 Kroonstad toe”.
Hans is uit sy vel uit en toe die roepman hom een uur kom roep is hy lankal gereed vir sy eerste hooflyn rit.
Hans stap kombuis toe om sy klaargepakte blik te gaan haal en daarna fietsloods toe. Die blik word agter op die draer vasgemaak en is Hans in die pad loko toe. By die loko aangekom bêre hy sy fiets in die fietsloods, haal sy blik af en begin aanstap roosterkantoor toe met n lied in sy hart. Sy eerste rit op die hooflyn lê voor die deur.
Voor die loods steek Hans n oomblik vas om die rasende en blasende lokomotiewe wat langs mekaar in die loods staan te beskou. Rook trek lui by die skoorstene uit en die rookreuk vul sy neusgate. Hy sien dat dit n dubbel voorspan is wat eerste uit op nr. 2 staan, hulle is dus dubbelvoorspan. Toe hy in die roosterkantoor kom sien hy op die rooster dat hy reg is, Koos Lourens en Piet Marais is ook aan diens vir 654 en stap hulle net die rooster kantoor in om te kom aanteken. Soos gewoonlik is die roosterkantoor n byenes van bedrywigheid maar kry die roosteropsteller darem kans om hom sterkte toe te wens met sy eerste rit op die hooflyn: “As jy goed doen vandag hou ek jou op die “pull” en gaan jy nie weer terug rangeer toe nie”, is sy belofte aan Hans.
Hy stap saam met klein Piet Marais store toe om te gaan olie, ghries en poetskatoen trek en laai dit op die kruiwaens wat daar staan. Dan is dit sluitkaste toe om die gereedskap op te laai en dan nr. 2 toe om voor te berei. Voor staan Koos se skitterblink 2875, sy gereelde lokomotief met nie so blink 2880, n “pull” loko agter aan gekoppel. Die jong drywers het nie vaste lokomotiewe nie en kry dus elke rit n ander lokomotief.
Hans laai gereedskap op en begin voorberei. Eers gaan maak hy seker dat die kolewa vol water is en dan sit hy die injekteur aan want die peilglase lê maar op kwart. Duidelik het die “cleaner” laat slap lê want die vuur is ook nie watwonders nie. Die stoomdruk staan maar op 150 pleks van 210. Hy gooi eers n paar grawe kole op die vuur en draai die blower oop dat die trek oor die vuur hitte kan opbou. Terwyl hy besig is om die smeerder vol te maak kom Jannie en heet hom welkom met n breë glimlag en n stewige handskud voor hy begin om 2880 te olie en te ghries. Hans draai die blower voloop en begin die groot vuur op reëlmaat te stook, eers die voorste hoeke en dan die kante. Dan die agterste hoeke en dan oor die middel van die vuur. Die 15E se vuurkis is heelwat groter as die 12 klas se vuurkis kom Hans gou agter maar hy is dood gelukkig, sy eerste rit op die hooflyn.
Toe Jannie klaar is klim hy in net toe Hans ook klaar is. Eers word daar gou bietjie koffie gemaak terwyl hulle wag dat 2880 onder stoom kom met n rooksuil wat saam met 2875 se rooksuil die lug inklim. Dan ontplof die veiligheidskleppe met hulle geraas toe die ketels se druk 210 kpa is. Koos fluit weg voor en Jannie antwoord met n kort fluit dat hulle ook reg is. Die vakuumnaalde klim 17dm toe en met oop silinderkrane op 2875 begin hulle kontrolepunt toe beweeg soos Koos hulle vorentoe trek.
By die kontrolepunt stop hy en klim af om uit te bel; “654 loslokos vir die werf”. Die seinwagter in die seinhuis draai die wissels en bedien die dwergsinjaal vir hulle. Oor die wissels stop hulle en draai die seinwagter weer die wissels en gee hulle sinjale terug werf toe. Nou is dit Jannie wat hulle moet terugtrek. Die omstellerwiel kry drie draaie na links vir agtertoe en trek hy die regulateur net so effens oop om hulle terug te trek. Blasend en sissend beweeg hulle terug en met n swaaiende kolewa beweeg hulle oor die wissels werf toe waar die kontrolepunt rangeerder hulle inwag om hulle voor aan die vrag te koppel. Spoedig geen hy n koppelsein en beweeg hulle stadig terug tot hulle met n ligte stampie vooraan die vrag koppel. Die laaste entjie het Koos en Jannie sand op die spore gestrooi om te help vastrap as hulle vorentoe kom.
Die vakuumnaalde sak na nul toe toe die rangeerder die rempype deurkoppel en begin die naade stadig klim. Die treinafsender is by die voorste lokomotief om vir Koos die walyste en die vrag te gee want hulle is kondukteurloos.
Hans gooi weer n paar grawe kole op die vuur en met blower voloop, die geskraap van sy graaf elke slag as hy die graaf onder die kole indruk, met die geblaas van die blower, wat hy nou toedraai, vorm die geraas n klank simfonie van sy eie saam met die afblasende veiligheids kleppe. Dit word afgerond met die reuk van rook en stoom met rooksuile hoog die lug in.
Koos fluit weg voor en Jannie antwoord met n kort fluit, hulle is ook reg. Die kontrolerangeerder gee hulle aan vir die seinhuis en die sinjale gaan op. Groen vlag van die kontrolerangeerder af en groen vlag van die treinafsender af en word die omstellerwiele drie draaie na regs gegee vir vorentoe. (Die15E het rotary cam of R.C.Duplex klepwerk gehad en nie die meer algemene Waelschert klepwerk waar die drywer n omstellerhefboom langs die kant van die kap gehad het wat hy net vorentoe of agtertoe gestoot het nie.) Met silinderkrane oop word die regulateurs so halfpad oopgetrek en kom 654 in beweging. 2880 begin gly maar Jannie haal die gly vinnig uit deur die regulateur toe te stoot en dan weer oop te trek. 2875 begin ook gly maar doen Koos dieselfde om die gly uit te haal. Die stoomdrukmeters se naalde ruk met elke blaf. Hulle begin effens vinniger beweeg en word die regulateurs vol oopgemaak stasie toe. Silinderkrane word toegestoot en die wêreld begin weergalm van die harde geblaf van die twee 15E lokos wat hard aan die werk is om die swaar vrag steenkool voort te sleep. Die lokos swaai effens heen en weer op hulle wiele van die krag wat deurgaan na die silinders toe en dit lyk of hulle ook effens wieg.
Deursinjale op die stasie wat met n gedawer van n geblaf deurgestorm word en klein Piet op die voorste loko vang die tablethouer met die Bethlehem Langspruit tablet by die stasievoorman op die platform en dan storm hulle deur die passasierswerf. Die klim Langspruit toe begin en die klanksimfonie van die geblaf deur die skoorstene rol ver oor die veld met die rooksuile wat by die skoorstene uitborrel en dan soos n lang slang agter die trein bly lê om deur die wind weggevoer te word. Toe hulle Boskop op die regterkant verbygaan is dit n groot heimweë wat in Hans opkom maar eendag sal dit weer syne wees.
Langspruit se sinjale kom in sig en kontroleer hulle sinjale. Jannie wys twee vingers, buitehuis en afstand sinjale is bedien, Hans erken met twee vingers. Langspruit word deurgestorm, klein Piet op die voorste loko gooi die tablet skuiwend oor die platform met n draaibeweging af en vang die Langspruit Meets tablet by die stasievoorman terwyl hulle by die goerderetrein wat in die uitwykspoor vir hulle gestaan en wag het verbyskuif.
Op Meets kry hulle n welkome verposing toe hulle uitgekeer word vir n kruising en gaan dit nou meer afdraande wees Valsrivier toe waar hulle gaan loko vat.
Toe die trein wat hulle gekruis het deur is kry hulle n kruistablet om die passasierstrein op Kriekdraai, n onbemande kruisplek, te gaan kruis. Hulle is eerste daar en stop hulle voor die wissels. Klein Piet kom haal vir Hans om hom te wys hoe te werk gegaan moet word om n kruising op n onbemande kruisplek te voltooi.
Eers word die wissels met die drywer se wisselsleutel oopgesluit en word dan vir die uitwykspoor gestel. Dan trek die drywers in en word die wissels weer vir die hooflyn omgestel en die voorste drywer stap wissels toe om die passasierstrein in te bring. Hy ruil dan sommer kruistablette met die passasierstrein se drywer en dan moet die stokers weer die wissels aan daardie kant oopsluit en omstel sodat hulle weer kan uitbeweeg. Met die trein oor die wissels word die wissels weer vir die hooflyn gestel en toegesluit en die wisselsleutel verwyder. Met die stokers terug word die rit Valsrivier toe voortgesit waar hulle n hele ruk later met Piet se “hokaai” van die kolewa af tot stisltand kom met die wateropeninge in die kolewa reg onder die groot waterkrane.
Nou begin die harde werk van vuur skoonmaak terwyl die kolewaens vol water loop. Die klinkers word met die vuurysters stukkend gestamp en die as moet deurgekrap word. Daarna word die vuur geskud en moet die as en klinkers in die aspan doodgespuit word met die “spraypyp” voordat die aspan se deure oopgemaak word om die die as in die asput te laat val. Dan is dit weer die vuur stook om weer stoomdruk op te bou, die injekteur word aangesit, blower word aangesit. Met die kolewaens vol word die waterkrane toegemaak en met die drywers, wat intussen geghries en ge olie het, terug op die voetplaat is dit tyd vir koffie maak terwyl die stoomdruk weer opbou.
Toe die witvere klap fluit Koos weg. Hulle moet egter nog n paar minute staan vir n trein van voor af en toe die trein in is bring die stasievoorman vir hulle die tablet Kaallaagte toe om die reis voort te sit. Die wegtrek is maklik, effens afdraende en spoedig vul die geblaf van die lokos weer die lug met rooksuile wat soos n kombers oor die veld bly lê tot die wind dit wegwaai.
Dit is al skemer toe hulle op Arlington weer loko vat en toe hulle op Arlington wegtrek kom die dinamos se gefluit by die klanksimfonie toe die aangesit word vir die ligte.
Voor hulle lê die spore soos twee silwerstrepe in die donker en sê Jannie vir Hans: “Ek sal jou sê as ons moet begin uitkyk vir sinjale, in die nag kan jy hulle maklik mis as jy nie weet wanneer en waar om te kyk nie”.
Die eerste keer sukkel Hans bietjie om te kyk vir Kom spruit se buitehuis en afstandsinjale maar sien hy gou die twee groen liggies teen die sterrehemel en storm hulle Komspruit deur Steynsrus toe waar hulle uitgekeer word vir n kruising. Na die kruising is dit weer in die pad Wonderkop toe waar loko gevat word en na n kruising is dit in die pad Featherstone toe wat hulle deurhardloop. Spoedig skuif Gunhill by hulle verby waar die rangeer lokomotiewe hard aan die werk is om vragte op te breek.
So agtuur se kant hardloop hulle die Noordwerf op Kroonstad in en is dit haastig terug Gunhill toe om daar te gaan loko vat en die lokomotiewe te draai om op n vrag mielies te gaan koppel. Die terugrit verloop ook heel voorspoedig en is Hans se beloning toe hulle drie uur die oggend afteken die roosteropsteller se woorde: “Jannie sê jy is n gesoute stoker. Ek sit jou op die ooprooster vir die hooflyne Hans, Mooi so”.
Hans stook nog n paar ritte vir Jannie tot sy stoker weer kom werk en toe begin hy vir verskillende drywers stook. Soms stook hy nog op die rangeer ook wanneer daar n stoker kort en raak hy gou die roosteropstellers se gunsteling stoker want Hans is altyd bereidwillig om soms kort rus uit te draai om n gaping op die rooster te vul. Onder die drywers raak hy ook gewild omdat hy sy werk doen en kom hulle agter dat Hans die beste uit n lokomotief kan uithaal, al is die kole soms van swak gehalte of hulle sit met n lokomotief wat nie lekker wil stoom nie. Onder Hans se hande stoom sy.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.