DIE WIEL DRAAI HFSTK 6
HOOFSTUK 6
Hulle maak dit nie om sewe uur op die stasie te wees nie maar toe hulle tien oor sewe deur die ingang storm slaak hulle n sug van verligting toe hulle sien dat platform 3 nog skoon is, die trein is dus laat. Hulle is egter skaars op die platform of 665 begin intrek op platform 3 met sy blinkende klas 15E vooraan. Die platform is vol mense maar sien Hans vir Marietjie reeds van ver af waar sy en Elsabe by die venster uitleun om vir hom te waai. Toe die trein tot stilstand kom is hulle almal by die meisies en is Marietjie eerste uit en in Hans se arms. Met haar kop op sy skouer na n lang soen bars sy in trane uit: “Hans ek het so bitterlik na jou verlang, dit was n lang jaar gewees”. Hans druk sy suster styf teen hom van en stoot haar terug om haar mooi te beskou. Sy het groot geword in hierdie jaar besef hy en die ligte bont somersrokkie wat sy aan het beklemtoon die feit dat sy nou n volgroeide jong meisie is.. Hy stel haar aan Jannie en Ronel voor wat haar hartlik verwelkom. Elsabe staan ook skamerig nader en steek hand uit met n: “Hallo Hans, dit is goed om jou weer te sien na so n lang tyd”. Hans is nie links nie en druk haar ook teen hom vas voor hy haar beskou en besef dat sy ook groot geword het en in n pragtige meisie ontpop het. Sy word ook voorgestel en al geselsend beweeg hulle deur die duikweg platform 1 toe nadat n kruier die meisies se bagasie opgelaai het. Van die hoofingang af moet hulle maar roer om by die motor te kom om nie nat te reën nie en bars die groot gesels los toe Ronel vir almal ontbyt maak voor Hans hostel toe gaan om te gaan slaap. Die feit dat hulle hulle slapie vannag van vieruur gemis het eis nou sy tol.
Gelukkig is dit Saterdagoggend en is die werf Saterdag aande nie so besig nie. Wanneer hulle Sondagoggend afteken werk hulle eers weer Maandagoggend en het hulle die hele Sondag vir hulleself. Daar kan dus die naweek dik stukke gekuier word.
Na ontbyt vat Jannie gou vir Hans terug hostel toe om te gaan slaap. Die vorige nag eis nou sy tol ernstig en is hy en Jannie nou redelik moeg en vaak en verlang hulle na n bed.
Toe hy die aand in die loko kom om aan te teken het dit opgehou reën. Die dagskof het loko toe gekom met die lokomotief want die lokomotief moet gaan vir “washout”.
Dit is wanneer die vuur uitgegooi word en die ketels onder hoë druk uitgespuit word om te keer dat die ketel opkalk.
Hulle kry n klas 19D vir die nag en brom Jannie van die begin af: “Hulle kan nie vastrap soos n 12 klas nie, dit sal maar bars gaan om n swaar vrag in die nek in te sleep”.
Nadat hulle voorberei het beweeg hulle sinjale toe waar Jannie stop om uit te bel.
Die sinjale gaan op en gaan hulle oor die wissels op die hooflyn in. Net oor die wissels draai die seinwagter die wissels en gee sinjale deur die hooflyn. Hulle hardloop, kolewa eerste, in die hooflyn af Atbara seinhuis toe waar hulle weer in die werf inkruis. Die rangeerders wag al op hulle en maak hulle sommer dadelik op die eerste vrag vas wat opgebreek moet word. Dit is nie n swaar vrag nie en gaan gou en nadat hulle nog n vrag opgebreek het gaan staan hulle uit onder die waterkolom om vir die volgende vrag te wag om opgebreek te word.
Van die vragte wat inkom is baie blokvragte wat net so deurgaan en dus nie gerangeer word nie. Hier is die geluk vanaand aan hulle kan en kan hulle rustig koffie maak, die vuur bed en die vensters toetrek vir n lang slapie.
Voor daar geslaap word word daar eers gesels toe Hans vra of die meisies hulle darem gedra en nie vir Ronel te veel grys hare gee nie. Jannie glimlag maar net: “Nee wat hulle kuier lekker en hulle sien vreeslik uit na more wat jy die hele dag saam met hulle kan wees, moet sê ek dink Elsabe is dood verlief op jou. Haar oë kry sommer so anderster uitdrukking as daar oor jou gepraat word”.
Hans word bloedrooi maar praat niks. Hy lê net sy kop teen die kant neer en swaai sy voete op die plaat bokant die vuurkisopening om homself uit te trek vir n lekker slapie.
Jannie grinnik en volg sy voorbeeld en word daar heerlik geslaap tot een uur toe toe hulle n vrag moet gaan opbreek.
Omdat daar nie n rangeerlokomotief op Sondae is nie word hulle loko toe gestuur met die lokomotief nadat die laaste vrag opgebreek is en teken hulle vroeg af.
Nadat hulle gestort het is Hans op sy fiets hostel toe en kom haal Jannie hom bietjie later in die oggend. Dit word n heerlike kuierdag tot laataand toe. Hulle besoek ook die begraafplaas en toe hulle tot by hulle ouers se grafte beweeg staan die ander eerbiedig op n afstand. Marietjie sit vars blomme op die grafte en dan kom die trane. Toe sy opstaan staan sy en Hans nog n rukkie by die grafte en sê sy sag: “Pappa, Mamma, ek en Hans sal Boskop terugkry in ons familie, al vat dit baie jare en dit is n belofte”.
Die middag besoek hulle die voëlpark en laat Hans menige jong man groen van jaloesie omdat hy hand aan hand, met die twee meisies weerskante van hom, deur die voëlpark wandel. Die twee meisies is in ekstase oor al die pragtige voëls, vanaf die poue wat loop en pronk tot die swane wat graseus oor die water gly.
Die aand eet hulle op die skeepsrestaurant op Loch Athlone en is dit laataand wat Marietjie haar dagboek nadertrek: “Liewe dagboek. Wat n heerlike dag. Ons is darem nou vandag bederf soos min. Ons het die mooiste voëls in die voëlpark gesien, op n skip gaan eet en ons het Pappa en Mamma se grafte gaan besoek. Dagboek ek en Hans het by hulle grafte n belofte gemaak dat ons Boskop gaan terugkry, al neem dit hoeveel jare”.
Klaar geskryf kyk sy op en sien Elsabe droomverlore op die kant van haar bed sit en besluit sy om die bul net daar by die horings te pak: “Elsabe is jy lief vir Hans, soos in lief wanneer n vrou op n man verlief raak”.
Elsabe bloos bloedrooi en glimlag toe sy antwoord: “Ja Marietjie uit my hart uit, hy is my hele lewe”.
Marietjie glimlag terug: “Dan moet jy hom inkatrol my maatjie, voor Bethlehem se meisies hom inkatrol en jy hom permanent verloor, ek al jou nog help ook”.
Elsabe kyk Marietjie vraend aan maar al wat sy kry is n baie geheimsinnige glimlag: “Watch and see”.
Marietjie kry haar kans om alleen met Hans te praat in die week wat hulle dagskof is toe sy die ander vra om hulle n rukkie te verskoon. Sy en Hans gaan sit op die stoep en val sy met die deur in die huis: “Hans, Elsabe aanbid die grond wat jy op loop. Sy is lief vir jou en ek wil regtig hê jy moet meer aandag aan haar gee en haar beter leer ken. Neem haar een aand bietjie fliek toe, ek sal by die huis bly. Sy is n juweel Hans en sal ideaal by jou pas”.
Arme Hans, hy het nie veel van n kans teen sy suster nie en moet hy Elsabe die volgende aand fliek toe vat want sy wil die prent so graag sien, duidelike sameswering.
Tussen die drie meisies word Elsabe die middag laat mooigemaak en word haar lang blonde hare met sorg versorg om in krulle oor haar skouers te lê. Ronel maak seker dat die vrolike bont somersrokkie wat sy aantrek haar lyne sal beklemtoon.
Toe Hans haar kom haal en sy die deur oopmaak voel hy n warm gevoel deur sy hart trek. Elsabe lyk ongelooflik mooi in die rokkie wat haar figuur beklemtoon met die krulle oor haar skouers en n kunsblom in die hare.
Ronel het vir haar n paar oorkrabbertjies geleen en n hangertjie wat haar perfek pas.
Arme Hans, daar sneuwel die held toe hy n skielike skok deur hom voel trek en toe hy Elsabe se hand vat om saam met haar te loop en is dit n warm gevoel wat hy kry.
Elsabe kom saam met hom terug van die fliek af met n kop wat draai en sterre in die oë omdat Hans haar hand in die fliek ook vasgehou het tydens die hoofprent. Die nag soen is lank en innig toe Hans haar groet.
Alles verloop rustig tot Kersfees toe. Ou Kersdag teken hulle vroeg af en word die rangeerlokomotiewe gekanselleer vir twee dae omdat net die passasierstreine loop. Die enkele vrag wat wel inkom kan wag tot na Kersfees om gerangeer te word.
Ou Kersaand kom hulle almal by Jannie se huis bymekaar saam met Jannie en Ronel se families en kuier hulle om die Kersboom. Niemand kom agter dat Hans en Elsabe stil verdwyn het nie en het hulle hulleself gaan tuismaak op n bankie onder n groot bloekomboom wat in die agterste hoek van die erf staan. Daar sit die twee en is dit Elsabe wat die ys breek: “Hans sal jy omgee as ek ook vir jou n briefie skryf wanneer Marietjie vir jou skryf”.
Hans neem haar hand in syne en vir die eerste keer sien hy hoe mooi Elsabe werklik is toe die maanlig haar gesig sag verlig toe hy antwoord: “Op een voorwaarde en dit is dat ek vir jou mag terugskryf”.
Haar antwoord is haar lippe wat sy vir hom aanbied en treë Marietjie, wat hulle kom soek het, ongesiens met n glimlag terug toe sy hulle in n vurige omhelsing betrap.
Die res van die vakansie gaan soos n droom verby en toe hulle weer sien is dit alweer tyd om te vertrek.
Die laaste aand wat hulle saam is gaan soek Hans en Elsabe weer die bankie onder die bloekomboom op.
Die komende afskeid rus swaar op hulle en vra Hans vir Elsabe vra om sy amptelike meisie te wees.
Elsabe antwoord hom met n vurige soen van haar kant af en lê haar kop op sy skouer neer toe sy antwoord: “Ja Hans ek sal, en onthou oor twee jaar kom ek saam met Marietjie Bethlehem toe en gaan saam met julle aan julle droom werk om Boskop terug te kry”.
Hans kyk haar verbaas aan maar sy trek hom net teen haar vas toe sy sê; “Ek weet van jou en Marietjie se voornemens Hans en julle twee is al wat ek het, my plek is hier by julle en wie weet, dalk word ek nog Elsabe Struwig as jy my dalk eendag vra om met jou te trou”.
Skielik besef Hans dat hy oneindig lief geword het vir Elsabe in hierdie vakansie en is haar antwoord n vurige soen en weet hulle albei in hulle harte dat hulle lewens paaie nou permanent gaan saamloop.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.