
DIE WIEL DRAAI HFSTK 5
HOOFSTUK 5
Die 12 klas staan doodstil onder die waterkolom in Bethlehem se rangeerterrein met net n lui rokie wat by die skoorsteen uittrek toe die bussie stop om vir Jannie en Hans af te laai en die dagskof personeel op te laai loko toe om te gaan afteken. Aan die oosterkim is die son besig om laag te sak teen n swaar bewolkte lug. Die swart rooksuile wat by die 15E, wat op die hooflyn verby hardloop met trein 71 na Harrismith, se skoorsteen uitborrel en die lug op maat van die geblaf inseil, word skerp afgeteken teen die swaar donker wolke in die lug.
Hans laai hulle gereedskap en benodighede dadelik op en begin met sy pligte om die 12 klas voor te berei vir die nag se werk. Eers word die smeerder vol olie gemaak en dan word die vuurkis oopgemaak. Met reëlmaat begin Hans weer die vuur aan die gang kry soos hy die grawe kole op die gloeiende kole in die vuurkis gooi. Eers word die hoeke gepak, dan die kante en dan oor die middel van die vuurkis. Dan word die hele proses weer herhaal en die vuurkis se deure toegestoot. Die blower word oopgedraai en die injekteur aangesit. Hans klim gou op die kolewa om seker te maak dat die kolewa vol water is.
Jannie ghries en olie intussen die wiele en met hulle voorbereiding klaar maak Hans gou vir hulle koffie voordat die rangeerders hulle kom haal vir die nag se rangeerwerk. Dit lyk of dit n besige nag kan wees want die terrein se paaie is redelik vol.
Hulle is ook net klaar met hulle koffie toe die rangeer ders hulle kom haal en hulle omhardloop om die eerste vrag te gaan hak om opgebreek te word. Hulle hardloop deur n skoon pad en dan waai die rangeerder hulle terug op die eerste vrag met sy handlamp. Die 12 klas staan nou witveer en die stoomdrukmeter bewe op 200 kpa, reg vir die werk. Hulle is net gekoppel toe die bekende sisgeluid kom soos die rangeerder die vakuum pyp van die prop aftrek en deursit op n paar trokke. Die vakuummeter se naalde val na nul toe en klim dan na 17dm toe. Intussen het die voormanrangeerder sy skopkaart uitgemaak en die rangeerders trek die stringe onder die trokke om die remme los te maak.
Alles reg en Jannie fluit weg. Die kontrolerangeerder gee n groen lig agter en die voorman rangeerder gee n groen lig. Jannie trek die omsteller terug en trek die regulateur so effens oop om net styf te trek. Dan word die regulateur verder oopgetrek en die dapper 12 klas begin die vrag eers stadig, dan al hoe vinniger in die rangeernek intrek met n harde geblaf deur die skoorsteen wat rookwolke die lug laat insteier. Kort kort kyk hulle terug om seker te maak hoe ver die rooi lig op die stopblok, wat verlate onder die werflig staan, nog is en kom die rooi lig van die punt af toe die hele vrag oor die wissels is.
Dan is dit weer vorentoe, die voormanrangeerder maak los waar hy gemerk het en werk sy lamp oortyd om die seine vir die drywer te gee. Die seine word deur n raneerder wat halfpad tussen die rangeerpunt en die lokomotief is, oorgedra. Die leier draai die wissels en soos die trokke op die lyne inhardloop ry die brieksmanne die brieke om die trokke tot stilstand te kry. Kort kort moet hulle n entjie terugtrek as die punt te na aan die wissels is om weer die voorman spasie te gee om los te maak. Spoedig is die vrag klaar opgebreek en word die volgende vrag gehak om die hele proses te herhaal. Intussen moet daar soms stil gestaan word vir n trein om in die terrein in te kom of n trein om te ry Harrismith toe.
Op Germiston klim twee opgewonde meisies in die trein Kroonstad toe. Hulle is vrolik, dit is Desember maand en die trein is redelik vol. Hulle plekke is in een van die Bethlehem rytuie bespreek en nadat die huis vader, wat hulle gebring het, hulle plek by die kaartjies ondersoeker gekry het en hulle in hulle koepee ingehelp het, groet hy met n laaste vermaning dat hulle versigtig moet wees en is hulle reg vir die avontuur.
Dit is nie die eerste keer wat Elsabe trein ry nie maar vir Marietjie is dit die eerste keer. Sy vergaap haar aan die mensemassas op die verskillende platforms en die gejaag van platformtrekkers met stringe waentjies met pakkies en possakke daarop.
Dan kom die man met die swart uniform met die drie breë silwerstrepe op die eppoulette op sy skouers langs die trein staan, Elsabe beduie dat dit die stasieinspekteur is wat die trein kom wegsien. Hy praat met die kaartjies ondersoeker en stap na n telefoon toe wat hy optel. Marietjie wil nie n oomblik mis nie en Elsabe moet vertel, haar pa was mos n stasievoorman. Hulle leun by die venster uit en sien hulle daar ver voor word n rooi sinjaallig groen vir hulle trein om te ry.
Oor die luisprekers kom die stem: “Attention please, aandag asseblief. Die trein na Kroonstad en Bethlehem op platform nege is gereed om te vertrek. The train to Kroonstad and Bethlehem om platform nine is ready to depart. Sitplekke asseblief, Seats please. We wish you a pleasant journey. Ons wens u n aangename reis toe”.
Die stasieinspekteur gee n groen lig en hulle voel n ligte plukkie toe die trein in beweging kom. Die trein begin spoed optel en die platformligte gly by hulle verby. Vir die eerste keer gaan sit Marietjie en begin die gesuis en die geklap van die wiele n lied vorm en is dit n opgewonde Marietjie wat sê: “Elsabe ek is so opgewonde, ek weet nie of ek vannag sal kan slaap nie”.
Elsabe glimlag maar net oor Marietjie se borrelende entoesiasme maar in haar hart is sy net so opgewonde dat sy die liefde van haar hart weer gaan sien.
Die voorstedelike stasies gly een na die ander verby soos die twee klas 5E elektriese eenhede hulle voortsleep deur die nag met eerste stop Vereeniging.
Die wiele suis oor die spore wat kort kort deur die ritmiese geklap oor die laste onderbreek word. Net as hulle die stasies deurseil verander die geklap in n vinnige rrrt as die wiele oor die wissels beweeg om weer die geklap te hervat as hulle oor die wissels is.
Marietjie verkyk haar aan die donker glimmende houtafwerking van die koepee en dan hoor hulle n gekliklik en die deur skuif oop. “Tickets please, Kaartjies asseblief”, eis die kaartjiesondersoeker. Met oorhandiging word die kaartjies intens bestudeer voor hy dit knip en weer oorhandig om sy reis deur die trein voort te sit. Op sy hakke is die beddegoedbediende om hulle beddens op te maak maar van slaap is daar nog geen sprake nie.
Dit is eers toe hulle Vereeniging uitgaan wat Marietjie sê: “Ons moet seker gaan slaap. Ons wil nie soos twee verlepte blomme lyk as ons op Bethlehem afklim nie. Netnou skrik Hans hom boeglam vir ons en kies die hasepad en los ons alleen, wat maak ons dan”.
Hulle trek hulle slaapklere aan en klim onder die lakens in maar dit is veel later wat die ritmiese gesuis en geklap hulle aan die slaap maak, elkeen met sy eie drome.
Kroonstad se platformgeluide van rasende platform trekkertjies met stringende rasende waentjies met pakkies en possakke maak hulle wakker. Toe hulle die blinding laat opgaan begroet n toneel van mense en n kaartjies ondesoeker wat plekke gee hulle en dan n ligte stampie.
Nie lank nie of hulle voel n ligte plukkie toe hulle weer in beweging kom. Die gesuis en geklap van die wiele laat hulle weer slaap want hulle kan nie die venster oopmaak om uit te kyk nie, die fyn misreëntjie trek lang water strepe teen die ruit af. Voor kan hulle die geblaf van die 15E duidelik hoor en ten spyte van die toe venster dring die reuk van rook en stoom tog die kompartement in.
Hulle skrik heelwat later wakker en is Marietjie baie nuuskierig en druk tog haar neus teen die koue ruit vas net toe die trein om n draai gaan. Dit geluk haar om die 15E voor die trein in die brekende daglig te sien met sy koppelstange wat haastig voor die wiele verbyflits. Uit die skoorsteen borrel n asemrowende wit stoomwolk wat soos n kombers oor die trein bly hang.
Sy kom agter dat Elsabe ook wakker is en besluit hulle om op te staan en klaar reg te maak vir die dag. Gesigte word sommer in die wasbak in die hoek van die koepee gewas en die lang spieël in die deur word gebruik vir die mooi maak proses want hulle wil op hulle beste lyk vandag en nie soos uitgewaste waslappe nie.
In Bethlehem se rangeerterrein raak dit n moeilike nag. Die weer het skielik opgekom en in die nanag het dit sag begin reën, genoeg om die spore glyerig te maak. Dit maak die rangeerders grommerig want die wiele moet rol of dit nou reën of nie. Vieruur toe hulle wil uitstaan kom die terreinmeester aangestap met sy reënjas oor sy ore getrek met die nuus dat 660 op nr. 1 pad nie sy vrag opgetel kry in die nattigheid nie. Dit is n dubbelvoorspan vrag steenkool vir Vereeniging en die manne het nou al drie keer probeer sonder sukses. Daar is net een genade, Jannie hulle sal agterop moet gaan en help stoot tot in die stasie, hulle bunk met ander woorde.
Jannie praat nie veel nie, vra net dat die rangeerder hulle moet oorvat nr 1 toe dat hulle gaan help maar hy sal eers n rukkie moet staan dat hulle genoeg stoom kan kry.
“Maat gooi een helse vuur aan en sorg dat ons witveer staan, hierdie gaan nie n grap wees nie”, sê hy vir Hans.
Hulle staan n halfuur sodat die manne voor ook weer genoeg stoom kan opbou en die stasie n tablet vir Langspruit kan kry want as hulle in die stasie moet stop vir n kruising sal hulle weer gebunk moet word teen die Langspruitbank uit. Dit sal moeiliker gaan as uit die werf uit want die klim Langspruit toe is baie steiler
Uiteindelik is almal reg en fluit die voorste manne weg. Jannie antwoord en hou die kondukteurswa voor hom stip dop want die kneukels is toegestoot en is hulle nie gekoppel aan die trein voor hulle nie. Dit is dat hulle in die stasie kan toemaak en stop en die trein alleen kan verder gaan sonder om stil te hou. Jannie hou die regulateur ook effens oop sodat hy kan voel as die trein voor hom in beweging kom. Toe hy voel daar is beweging trek hy groter oop en gooi sand onder die wiele. Die 12 klas gly nie maklik nie maar is hierdie darem n swaar vrag en wil daardie klein wieletjies net gly. Voor kan hulle hoor hoe die dubbelvoorspan se drywers begin stoei met die regulateurs as een van die lokos begin gly maar begin hulle momentum optel. Jannie trek die 12 klas se regulateur in die mik en begin hulle spoed optel. Die 12klas wieg en swaai op sy wiele en die geblaf is hard maar toe hulle oor die wissels gaan hooflyn toe is hulle al redelik op spoed en in die stasie maak Jannie toe en sit die rem aan. Voor hulle verdwyn die trein se kondukteurs wa in die reënsluier en kan hulle teruggaan werf toe toe hulle sinjale kry werf toe.
Toe hulle onder die waterkolom in skuif wag die kombi al met die dagskof personeel.. Hulle is al klaar laat en moet nog gaan stort en aantrek en vir Ronel gaan haal want sy het hulle die dood voor die oë gesweer as hulle haar nie kom haal om saam te gaan stasie toe om vir Marietjie en Elsabe te gaan haal nie. Sy is baie opgewonde oor die twee meisies wat kom kuier want vandat sy huisvrou is is die geselskap maar min want sy is maar n huishen wat nie eintlik rondkuier nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.