DIE WIEL DRAAI HFSTK 3
HOOFSTUK 3
Hans meld tien voor ses by die roosterkantoor aan nadat hy ingeklok het Die roosterkantoor is n redelike besige plek daardie tyd van die oggend soos personeel van diens af gaan en op diens kom. Die roosteropsteller het nie tyd vir hom nie en maak hom sit op n bankie totdat hy aandag aan hom kan gee.
Arme Hans voel vreemd en verwese en niemand steur hom aan Hans nie tot n jongerige man hom aankyk en verneem waarvoor hy nou eintlik wag. Toe Hans hom vertel dat hy n kwekelingstoker is wat vandag sy eerste dag begin stel hy homself voor: “Ek is Koos Wentzel, die loodsman, kom saam met my na die loodsvoorman toe”.
Die loodsvoorman is n ouerige man en nadat Koos vir Hans aan hom voorgestel het word hy terug toevertrou aan Koos: “Vat hom “shed” toe dat een van die ouer “cleaners” hom kan begin touwys maak in die “shed”.
Maar iets is mos nou verkeerd dink Hans by homself, die woordjie “cleaner” staan hom glad nie aan nie, hy is mos n kwekeling stoker nie n “cleaner” nie. In die loods gekom roep Koos n jongerige mannetjie, sy ouderdom, nader en stel hom voor as Piet Marais. Piet sal Hans onder sy vlerk neem en begin touwys maak oor wat hy moet doen en toe maak Hans n fout.
Hy vra vir Koos: “Meneer is hier nie nou fout nie, ek is n leerling stoker, nie n “cleaner” nie”.
Koos kan sy ore nie glo nie: “Hoor hier ou, van watter planeet af kom jy? “Cleaner” is die begin pad vir n stoker. Jy klim nie net op n lokomotief en begin stook nie ou. Dit is n lang harde pad voor jy n graaf in jou hande sal vat”.
Gelukkig is Piet n gawe mannetjie en laat hy Hans by hom op die lokomotief klim wat onder vol stoom eerste uit in die loods staan, duidelik gereed vir die pad. Hans verwonder hom aan die blink meters en begin Piet hom sy eerste les gee: “Hier voor jou sit die “lubricator”. Sorg dat hy altyd vol olie is. Ek sal jou nou nou gaan wys waar die oliekas is. Daardie meter daar bo is die stoomdrukmeter wat die keteldruk aandui. Die maksimum is 210 k.p.a. As die enjin in die shed staan kan die druk maar val na so 150 toe maar as dit tyd word dat sy uitgaan moet jy sorg dat sy op 210 is anders gaan die stoker hel opskop. Sorg dat die peilglase, wat die waterhoogte aandui, nooit meer as half is nie anders het jy ook moeilikheid”.
Piet gaan verder met sy les en wys vir Hans hoe om die injekteur aan te sit, die “blower” oop te maak en hoe om die vuurkis te pak toe hy die lokomotief vir die laaste keer n paar grawe stook voor die stoker kom oorneem.
Piet sluit sy les af met: “Elke enjin het n nommer. Hierdie is 2900, Dick Lees, n befoeterde Engelsman se enjin. Hy werk vandag die Bloemfontein passasiers met haar. Sorg in vadersnaam altyd dat alles skitterblink voor die stoker kom anders is die hel vierkantig los”.
Die res van die oggend gaan soek hulle vir Hans n sluitkas in die badkamer en vertel Piet hom dat hy die middag n slot moet gaan koop om sy kas mee te sluit. Dit word eintlik van hulle verwag om te gaan stort en gewone klere aan te trek voor hulle van diens gaan. Piet is self in die hostel en vertel Hans dat Donderdae wasdag is, dan kan hy sy vuil oorpak saam met sy gewone wasgoed uitsit om dit Vrydae weer terug te kry. Piet wys vir Hans ook die res van die oggend hoe om n paar lokomotiewe op een slag aan die gang te hou en ontmoet hy ook van die ander “cleaners”. Weer begaan die arme Hans n fout toe die loodsman twee lokomotiewe in die loods inbring en Hans homself aan die mannetjie saam met die loodsman voorstel en ewe onskuldig verneem hoe lank hy al n “cleaner” is. Dit lyk behoorlik of die man opstyg van verontwaardiging toe hy Hans sissend meedeel: “Luister boet, ek is by daardie stadium verby. Ek is n “pointsman” en vir jou inligting, jy spreek my aan as meneer”.
Twee uur vertel Piet vir Hans om te gaan uitklok, hulle “veerpote” word nie toegelaat om oortyd te werk nie maar Piet werk tot sesuur toe omdat daar n tekort is.
Die middag gaan koop Hans vir hom n slot vir sy kas asook wat hy nodig het om in die loko te kan stort voor hy van diens afgaan.
Hans leer vinnig en raak gou ingeburger in die loko. Hy begin ook sy eie plesiertjies geniet soos om voor hy gaan inklok n paar oomblikke stil te staan en die toneel van rasende blasende lokomotiewe met rook wat by die skoorstene uittrek in te neem. Hy leer oook gou die verskillende klasse lokomotiewe, die 15E die 12 klasse op die rangeer en die 8 klasse met hulle lang skoostene wat die Frankfort-Balfour Noord lyn werk
Hy mis middagskof en gaan saam met Piet nagskof toe en is dit aan die einde van die week wat die loodsman by Piet verneem of hy Hans al op sy eie kan sit. Hans is al heeltemal gekonfyt in vure aan die gang hou, kyk vir die water in die ketels en weet al hoe om die lokomotiewe skoon te maak en word hy op sy eie geplaas. Vir Hans is dit wat hy wou gehad het, nou kan hy begin oortyd werk en geld begin spaar om Boskop eendag terug te kry.
Kersdag werk Hans nagskof maar is die anders besige loko doodstil. Omdat net die passasierstreine loop is die meeste lokomotiewe in die loko en is dit nogal vinnig beweeg tussen die drie “cleaners” wat op diens is om al die vure en ketels gelukkig te hou. Jy is net klaar om die een se vuur n paar grawe steenkool op te gooi en water in die ketel in te trek dan moet jy hardloop vir die volgende een. Dit is toe hy op een van die lokomotiewe sit wat hy werklik na Marietjie verlang. Hy wonder wat maak sy en toe val dit hom by dat hy nog nie vir haar geskryf het nie. Daardie oggend skryf hy vir die eerste keer vir haar en gaan pos die brief voor hy gaan slaap.
Vir drie maande is Hans n getroue werker. Van diens af nooi die manne hom om saam met hulle te gaan kuier maar Hans stel nie belang nie. Hy staan ook gou bekend as die eenkant mannetjie wat nie met die ander meng nie en laat hulle hom later met rus. Sy ontspanning is veral op nagskof wanneer hy die rasende en blasende lokos se vure onder die dowwe geel ligte in die loods aan die gang hou.
Die reuk van rook en stoom is n reuk wat vir hom uniek word in hierdie wêreld van stoom.
Die loodsman vertrou hom naderhand so dat hy Hans nie eers meer monitor nie, Hans se lyn lokos wat hy moet skoonmaak en gelukkig hou is altyd reg.
Drie maande verder gaan Hans asputte toe om vure skoon te maak. Dit is harde werk want die stokers gee nie meer om hoe lyk die lokomotiewe se vure voor hulle inkom nie, met die gevolg dat die vuurkiste hoog opgestapel is met klinkers en dooie as. Dan moet die klinkers met vuurysters stukkend gestamp word, die as moet deurgekrap word om dit in die aspan te laat val. Dan moet die vuur geskud word voordat die as in die asputte laat val word waar die arbeiders dit dan kom uithaal en in trokke gaan laai. Meer as een dag is Hans se hande waterblase maar raak die hande gou hard en gebrei. Die asputte is ook die breekwater wat van die manne laat tou opgooi en hulle net nie weer kom werk nie. Hans byt egter vas want hy is werk gewoond. Toe hulle nog die plaas gehad het het hy nooit terug gedeins vir werk nie, so jonk as wat hy was. Dit is een ding wat sy pa hom van kleins af geleer het en dit is om nie terug te deins vir werk nie en dat geen werk te eenvoudig was nie.
Sy woorde aan Hans was altyd: “Ou seun harde werk brei die liggaam en die verstand. Harde werk maak van jou net n beter mens”.
Hy skryf gereeld vir Marietjie en vertel haar alles van wat in die loko met hom gebeur en sy skryf gereeld terug dat dit goed gaan met haar nuwe skooljaar. Per brief besiel en bemoedig hulle mekaar om vas te byt.
Hans het in die tyd ook sy ouers se grafte besoek en toe hy sien dat sy ma se graf nie n steen het nie moes hy plan maak om geld in die hande te kry vir n steen.
Gelukkig het hy onthou dat Johan van Eeden altyd sy pa se prokureur was en was die geld wat uitbetaal was na sy pa se dood by hom in trust. Hans kon eers sy deel kry as hy een en twintig is. Die prokureur het omstandighede verstaan en het hy met Hans gereël dat hy die steen uit die trustgelde sal betaal.
Toe hy vir Marietjie skryf en laat weet dat daar aan haar versoek voldoen is was dit of n groot verligting oor Marietjie neerdaal en kon sy Hans nie genoeg bedank daarvoor nie, nou is mamma se graf ook versorg.
Die jaar het spoedig verby gesnel en het Hans op die punteman stadium gekom. Die hardepad deel was verby en is hy een van die “menere” wat saam met die loodsmanne die lokomotiewe asputte en koolsteier toe neem nadat hulle ingekom het. Die lekkerste vir hom is wanneer die loodsman so vier lokomotiewe koolsteier toe vat en hy die hele string van agter af moet stoot sodat elke kolewa onder die “scoop” kom om gelaai te word. Oktober maand is Hans vir drie weke klas toe om na die drie weke sy stokers eksamen af te lê, vir hom n groot gebeurtenis in sy lewe want dit is tog waarvoor hy loko toe gekom het.
Marietjie is net so verheug toe sy die brief kry waarin hy haar die groot nuus vertel en het sy hom bemoedig: “Ek weet jy sal goed doen Hans. Ek leer ook hard om st. 8 deur te kom maar ek is nie bekommerd nie, ek ken my werk en sal deurkom. Ek is net spyt dat ek nie daar by jou is om al hierdie oomblikke met jou te kan deel nie, ons is so gewoond om alles te deel”.
Terug van die klas af en met sy eksamens deurgekom word Hans op die rangeer geboek saam met n ander stoker om bietjie touwys gemaak te word. Die rangeer lokomotiewe is klas 12AR lokomotiewe, met hulle klein wiele vastrappers soos min wat nie maklik gly nie, maar ook parmantig as jy hulle nie reg stook nie.
Na so drie aande saam met n ervare stoker word Hans die aand alleen op rangeerdienste geboek om te stook.
Die drywer is n vriendelike kêrel en stel homself voor as Jannie de Beer en verwelkom hy Hans met: “Ek hoop ons sal lekker saamwerk Hans. Die loodsman het my vertel dat jy n voorslag man is en dit is waarvan ek hou. Hier op die rangeer is dit soms heel nag op en af, hang net van die verkeer af. Ons staan gewoonlik so net na middernag uit om water te vat en vuur skoon te maak en dan is ons maar weer aan die gang tot so vier uur se kant toe wanneer die werk klaar is en ons vir die dagskof wag om by ons te kom oorvat ses uur”.
Hans hou dadelik van Jannie en spring hulle aan die gang om die lokomotief reg te kry vir die nag. Eers klim hy op die kolewa, gooi die deksel af en kyk dat die kolewa vol water is. Tevrede daarmee sit hy die injekteur aan om water in die ketel in te trek tot die peilglase so half is en toe begin hy die vuur pak. Ritmies begin Hans die kole oor die vuur gooi, eers die kante, toe die hoeke, en toe oor die middel van die vuur terwyl Jannie besig is met sy ghries en olie werk. Daarmee klaar maak Hans die smeerder vol en spoedig staan die lokomtief witveer om rasend en blasend stoom af te blaas met n rooksuil wat deur die skoorsteen die lug inseil.
Toe Jannie inklim is sy eerste opmerking: “Hoe lyk dit met n bietjie koffie voor die rangeerders kom maat”.
Hans laat nie op hom wag nie, hy het intussen vir hom n blink kosblik gekoop, word die blik oopgemaak, sy blikbeker kom uit en haal hy Jannie se beker uit sy blik uit. Die koffie en suiker word ingegooi en dan word die tuisgemaakte blik met sy draadhingsel vol water getap en gaan hy vuurkis toe aan die punt van n vuuryster. Na n paar sekondes word die blik met borrelende water met die vuuryster aan die kap opgehang en word n paar sekondes gewag om dit bietjie te laat afkoel. Dan word die koffie gemaak en is dit twee tevrede manne wat op hulle plekke sit en Jannie na die eerste slurp laat sê: “Darem niks so lekker in hierdie lewe soos enjinkoffie nie. Jy ruik en proe daardie heerlike stoom en rook reuk in jou koffie.
Hulle is nog nie klaar nie of die voorman rangeerder, Gert Engelbrecht, kap teen die kant van die kap om hulle aandag te trek. Nadat hy gegroet het deel hy Jannie mee dat hulle nommer ses pad gaan trek en opbreek: “Dubbelvrag drywer, jy sal moet vasvat om die vrag in die nek in te kry. Die “shunter”sal julle oorvat en gaan vasmaak, ek stap solank oor”.
Met die klim die rangeerder by hulle op: “Wissels is reg voor drywer ons kan maar uitgaan vorentoe”.
Jannie maak rem los, stoot haar in vorentoe en trek die regulateur n entjie oop. Die 12 klas begin sulke ligte blaffies gee en hardloop hulle oor die wissels. Die rangeerder spring sommer in die ry by die wissels af en stop hulle met n rooi lig toe hulle oor die wissels is. Jannie sit rem aan en is dit agtertoe toe die rangeerder hulle aanwaai nadat hy die wissels gedraai het. Hy klim sommer weer in die ry op en hardloop hulle deur n skoon lyn om. Weer oor die wissels word gestop en dan is dit vorentoe om die vrag te hak. Die rangeerder koppel hulle op, Jannie gooi bietjie sand op die spore vir vastrap met die terugbeweeg, en dan n stampie as hulle koppel op die vrag. Die vakuummeter se naalde sak n slag toe die rempype deurgesit word op die voorste paar trokke en klim dan weer vinnig tot op 17dm.
Toe Jannie reg is fluit hy en die groen lig kom van die kontrole rangeerder af. Die voorman rangeerder gee ook groen lig en Jannie trek oop. Eers net so effens vir vasvat en dan groter. Die 12 klas gly nie maklik nie en begin vasvat. Stadig maar seker met die eerste blaf deur die skoorsteen begin sy die vrag terugsleep. Jannie trek bietjie groter oop, die 12 klas wil gly maar Jannie stoot toe om die gly uit te haal en trek weer oop en die 12 klas stap stadig maar seker al vinniger in die nek in met die vrag tot die rooi lig van die punt af kom om hulle te stop.
Kort kort moet hulle terugkyk om seker te maak dat hulle nie oor die stopblok aan die end van die lyn gaan nie. Dit het al gebeur dat n onversigtige drywer oor die stopblok gaan en dan die lokomotief in die grond in boor.
Die rangeerspan is reg, die brieksmanne wat saam met die trokke op die lyne inry om hulle brieke vas te draai as hulle op die lyne inhardloop is op hulle plekke, die leier draai wissels en die voorman maak tussen die trokke los. Hy het voor die tyd langs die vrag afgeloop en gemerk waar hy gaan losmaak en dit op sy skopkaart aangeteken.
Die eerste handsein kom en is dit vorentoe stoot tot hulle gestop word as die voorman die eerste trokke losmaak. Die eerste brieksman vang hulle en ry saam soos hulle in n lyn inhardloop om hulle op hulle plek te stop. Dan is dit weer vorentoe nadat die leier die wissels gedraai het en die volgende trokke word losgemaak om weer op n ander lyn in te hardloop. Dan is dit weer n ent terugtrek om afstand tussen die punt van die vrag en die wissels te kry. So gaan dit die hele tyd tot die hele vrag gerangeer is maar soos die vrag korter en ligter word gaan dit al vinniger. Dan moet hulle eers stilstaan vir n trein om in te kom en dan is dit die volgende vrag se beurt.
Hans kom gou agter dat om op die rangeer te stook nie maklik is nie. Daar word baie stoom gebruik en moet die vraatsige vuur gedurig gevoer word om die stoomdruk hoog te hou en loop die injekteur gedurig om die ewe vraatsige ketel van water te voorsien.
So gaan dit die hele aand aan tot twaalf uur toe wat hulle gaan water vat en vuur skoonmaak. Toe is dit maar weer aan die gang tot vieruur toe wat hulle weer waterkolom toe gaan, vuur skoonmaak en water vat. Toe is dit vensters toetrek, die nag se werk is klaar, en n slapie vang tot hulle afgelos word. Voete op die plaat bokant die vuurkis opening en kop agteroor teen die kant agter die sitplekke, spoorwegmanne leer die kuns van sit en slaap baie vinnig aan.
Net na ses stop die kombi wat die dagskof manne bring by hulle en neem hulle terug loko toe om te gaan afteken.
Nadat Hans gestort het is hy op sy fiets koshuis toe waar hy sy moeë liggaam bedwaarts sleep om dadelik in n diep slaap in te tuimel want die nag het hom uitgeput.
Hans kom egter gou in die roetine in en is sy grootste beloning Jannie se woorde een nag: “Hans jy is n gebore stoker. Ek kan sien jy voel die 12 klas se nukke en grille aan en dit is nie almal wat dit regkry nie”.
Hans en Jannie word groot vriende in die paar weke wat hy vir Jannie stook en is daar altyd n gemoedelike atmosfeer tussen hulle op die voetplaat.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.