En nou kan ek nie slaap nie
Die dag lê my gedagtes vol –
van varkies in oranje
tot by die verste blouste see.
Van misreën in die oggend
tot waar die hunker van my lyf
met die soelheid van ‘n herfsdag
innige verbonde smee.
Van woorde uit ons monde
tot by vrae
wat stom – en sonder antwoord –
agter geslote lippe lê.
*
Ek vaar oor wye waters
tot waar wolke oor die kim verskyn.
Ek word Venus en ‘n maan,
ek word sterre.
Ek word die son
wat vroegaand in die donker kwyn.
*
En nou kan ek nie slaap nie –
die dag herhaal hom in refrein.
En vul elk gedagtepaadjie
wat kronkel deur die wakker
van my gestimuleerde brein.
© Carma Shaw
12 April 2017 (net na middernag)
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Elroux
Allerlieflikste gedig