
Februarie 2023 BLOU projek: Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 14 lede!
WENNERS
GEDIGTE
BRONS:
1ste: NO 1 Fanus Strydom met Blouoog brak
2de: NO 11 Marie Greyvenstein met Vryheid
3de: NO 10 Drienie Joubert Kelly met Hulle dink hulle is vry
SILWER:
1ste: NO 24 Annamarie vd Merwe met Die bloudruk bevry
2de : NO 22 Amanda De Meillon met semels in die seewier
3de: NO 15 Hester Steenkamp met Migrasie
GOUD:
1ste: NO 27 Elmarie Nienaber Van Kampen met Vryheidswaan
2de: NO 19 Andries Fourie met Delictum
3de: NO 25 Elmarie Nienaber Van Kampen met vasgevang
MENINGSTUKKE:
1ste:NO 1 Louisa Van Vliet met In die Hemel
2de: GEEN
RUBRIEKE:
1ste:NO 2 Paula Paxton met Musiek magspel – As musiek my gemoed verander
2de: NO 1 Loret Zwarts met Sielskos
3de: GEEN
ARTIKELS:
1ste:NO 2 Ano met Van soetsappigheid na brandende kole
2de: NO 1 Driekie Grobler met Wanneer intro’s speel
3de: GEEN
VERHALE:
1ste:NO 1 Fanus Strydom met Solank as die rietjie
2de:NO 2 Fanus Strydom met Kan ‘n man dan nie
3de: NO 3 Hennie du Toit met My grootste verleentheid
KOMMENTAAR:
GEDIGTE
BRONS
1. Blouoog brak
Jou gedig is besonders slim. Die verpersoonliking van die afwagtende hond is slim versteek tot in die laaste sin. Selfs met die titel van jou vers verwag die leser nie werklik die uitkoms soos dit uitspeel nie. Jou neologismes is nie myns insiens werklik oorspronklik nie, maar dit is funksioneel in die vers. Die ritme in die gedig is melodieus en heerlik. Jy het ‘n opwindende en vars gedig aangebied en ek is baie beïndruk. Welgedaan.
2. Hunkering
Alhoewel ek baie van jou vers hou, het jy slegs aan een van die voorskrifte voldoen. Jy het 4 kwatryne gepen en geen nuutskeppinge ingesluit of in ‘n voetnota aangetoon nie. Ek kan jou vers dus nie beoordeel nie.
4. Visserman
Ek hou van die vers met mooi versteekte verwysings na ander Afrikaanse liedjies. Wat die neologismes betref: jy behoort die nuutskeppinge te koppel anders is dit doodgewone woorde wat nie die kriteria het nie. Witasem en vishoek-haarnaald-draai. Die “vishoek” woord wil vir my swaar klink wat maklik ‘n tongknoper kan word. Jou vers sou ook kon baat by funksionele punktuasie. Jy het egter al die opdragte mooi nagekom en jou vers is keurig.
6. As hy dieper kyk
Ek begin by die nuutskeppinge: slegs “nardusstraal” is werklik ‘n neologisme. Die res is bloot woorde ter beskrywing van ‘n gedagte en vir seker nie nuutskeppinge nie. Die herhaling in jou vers is steurend en dra nie by tot die geheel nie: (emosionele jaarringe/jaarringe/kleurloos/swart en wit ens.)
Jy het die tipografiese opdrag nagekom en “blou” ingesluit. Ek dink jou vers kan baat by effe redigering.
7. Introspeksie
Oratorium en basviool is vir seker nié nuutskeppinge nie. Die herhaling in die gedig is steurend en dra geheel nie by tot die funksionaliteit hiervan nie. Die vers is kripties en slordig. Dit is nie die beste weergawe van hierdie vers nie.
8. Boelies van die blou
Ek dink nie jou nuutskeppinge is baie suksesvol nie, maar “bloustil” is ‘n mooi beeld. Ek dink jou vers is keurig. Ek weet nie of jou slot die beste weergawe is nie.
9. Beperkte vryheidsug
“Tassoekna” is ‘n interessante skepping. Die vers is keurig maar daar is plekkies waar die inhoud ongelooflik kripties lees. “Wysheidsleer” sal een woord wees.
10. Hulle dink hulle is vry
“Lappetrap” is nie ‘n nuutskeppinge nie aangesien dit reeds wyd in gebruik is. Jou ander neologisme is egter pragtig. Die vers is beeldryk en keurig. Ek verlang skielik na die Karoo.
11. Vryheid
Die nuutskeppinge is interessant. Ek hou van die vers wat mooi omgaan met die geskiedenis van die groottrek. “Leeflinge” is ‘n baie mooi beeld. Keurige vers.
18. Suid Afrika se stand
“Maaifoelie?” Dit is eintlik “maaifoedie” wat nie ‘n nuutskepping is nie. Ek sou daarvan hou as jy ‘n definisie kon aandui vir “spel greep”. Die vers is oor die algemeen keurig.
SILWER
5. Ambivalent
Wat jou nuutskeppinge betref: ek wonder of uilspieëltjies nie beter sou klink en pas as jou keuse nie? Die ander twee is keurig. Ek hou van jou vers. Die beelde is mooi en die woordkeuses is pragtig. Die vers is besonder.
12. Vryheid met ‘n prys
Kyk jou eerste strofe: moet seker blou-bloue lees? Ek weet nie of skuimkombers werklik ‘n nuutskepping is nie. Ek het dit reeds verskeie kere op ander forums raakgelees. Die res van jou vers is keurig en voldoen aan die voorskrifte.
13. Sewe sakke sout
Dit is ‘n besonderse vers wat voldoen aan al die voorskrifte. Die gebruik van die koppelinge is baie interessant en slim. Ek hou van hoe die vers voltrek word. Baie aangename vers. Dankie.
14. vryheidswaan
Die leser sal dalk klei trap met jou beeld van koringblomblou aangesien koring (in hierdie geval foutiewelik natuurlik) aan gelê en bruine herinner. Die pragtige diep bloue (indigo) van die koringblom is besonder. Jou beeld is pragtig. Jou vers verbeeld die herhalende in en uit van die see op die mooiste manier. Pragtige vers en geslaagde nuutskeppinge. Mooi gedoen.
15. Migrasie
Baie interessante vers. Die ontsluiting daar in is baie goed. Ek hou van die beelde in jou vers.
Pragtige werk.
22.Semels in die seewier
Dit is ‘n besonderse mooi ode aan die see. Die beelde is ryk en tasbaar. Jou nuutskeppinge is ook mooi. Welgedaan.
24.Die bloudruk bevry
Die konstruksie van jou vers is baie mooi. Die herhalende frases is ritmies en dra goed by tot die metrum hierin. Die inhoud is oordenklik en die aanbieding is besonders.
26. waarlik vry
Die vers is keurig tog vind ek dit swaar. Die swaarheid spruit uit die gebruik en omskrywing van die “vrugte van die gees”. Die gedig kon daarsonder steeds trefkrag gehad het.
GOUD
16. Losgemaak
Ek sou daarvan hou dat jy krediet gee in jou voetnota rakende Boerneef se “berggans”.
Die res van jou vers is baie aangrypend. Die inhoud se “swaarheid” word deur die sentiment en teerheid geabba. Ek hou van jou vers maar tik jou oor die vingers aangaande die “gans”.
17. Sonder kettings
Die beelde in hierdie vers is so aangrypend en besonders en daarom is dit jammer dat ek jou oor ‘n onbenullige spelfout moet aanspreek: vêrens is wat?
Ek verwag dit NIE van ‘n goue lid nie.
19. Delictum
Uit die aard van my werk lees ek geweldig baie, en dan as ek oor juwele soos hierdie vers van jou struikel dan vind ek moeilik weer my balans. Jou vers is in goud verguld en staan uit. Dit is ‘n pragvers waarvoor ek moeilik die gepaste woorde kan om jou te komplimenteer. Uitstaande!
20. Vrydenker
Die koeplet in die vers is veral treffend. Die beelde regdeur jou vers is lewend en tasbaar. Pragtige lewende vers. Mooi gedoen.
21. Wolkloos was die hemel
Keurige vers. Die politieke kommentaar hierin is baie goed verbloem.
23. Verwronge liefde
Ten spyte daarvan dat ‘n “die” in die 1ste sin van die 3de strofe herhaal word, wat daarop dui dat jy nie jou werk herlees het nie, moet ek tog bieg dat die vers keurig is. Daar is baie sterk beelde hierin wat herinner aan Victor Hugo se “To some birds flown away”. Ek dink glad nie jy het intertekstueel met daardie vers omgegaan nie, maar joune het my daaraan laat dink. Gaan lees gerus die vers, dit is aangrypend. Miskien sien jy dan ook raak wat ek ervaar het. Keurig.
25. Vasgevang
Ek dink jy het slim geskryf deur die klankboks (wat ek aanneem ‘n klavier is) te personifiseer asof die daad van musiek maak van die “dooie instrument” en nie die “lewende, skeppende vingers” afhang. Dit is ‘n besonderse invalshoek wat die aanbieding vars en opwindend maak. Pragtige vers. Die stomp sluiting van die koeplet dra by tot die wonder van jou vers.
27. Vryheidswaan
As ek ooit ‘n klas moet aanbied waarin die trefkrag van dialoog in poësie gewys word, sal ek jou vers gebruik. Die verbysterende eerlike aardsheid in jou vers maak nie net die vers beeldskoon nie, maar dit hang jou talent uit vir ‘n honger woordwêreld om te sien. Ek het my verlustig hierin… dit is absoluut sonder gelyke en ‘n aansporing vir ander digters en ‘n leesfees vir die woordhonger leser. Uitstaande!
MENINGSTUKKE
1. In die hemel
Alhoewel die meningstuk keurig is vind ek die sinne lank en die idees langasem. Let op jou punktuasie.
2. Sprokie vir ‘n stadskind
Koos du Plessis moes besonders oud gewees het vandag as hy reeds 40 dekades dood is. Afrikaans het ook nie as ‘n taal bestaan meer as 400 jaar gelede nie. Jy verloor die crux van jou mening want die gross handel oor Hillbrow en nie die lied self nie.
3. Vooruitsigte van ‘n mooier more
Jy verneuk effe deur die hele liedjie aan te haal om jou woordtelling ‘n hupstoot gee. Keurig nietemin.
RUBRIEKE
1. Sielskos
Punktuasienorms in jou aanbieding kort aandag. Jou aanbieding is baie kort maar keurig.
2. Musiek magspel
Keurige en oortuigende rubriek. Menslik en eerlik.
3. Die woo-woo van musiek en klank
Ek dink jou skryfsel is eerder ‘n artikel met goeie navorsing. Ek sal jou hierdie keer egter oorsien.
4. Die luister werd
Deur die hele liedjie aan te haal om jou woordtelling aan te help is nie aanvaarbaar nie.
ARTIKELS
1. Wanneer Intro’s speel
Jy moes ‘n artikel skryf oor die ontwikkeling van Afrikaanse musiek en nie jou persoonlike ervaring nie.
2. Van soetsappigheid na brandende kole
Goeie navorsing. Insiggewende artikel. Jy verstaan wat ‘n artikel moet wees. Welgedaan.
3. Die ontwikkeling van afrikaanse musiek
Baie goeie navorsing en ‘n goeie aanbieding. Mooi gedoen.
VERHALE
1. Solank as die rietjie
Pragtige storie met goeie konstruksie en goeie dialoog.
2. Kan ‘n man dan nie
Goeie storie. Die ontwikkeling en konstruksie is baie goed. Jou dialoogvorming is baie netjies. Goeie werk.
3. My grootste verleentheid.
Pragtige en komiese storie. Welgedaan.
4. My dag in die kollig
Goeie storie. Mooi gedoen.
5. Jannie wil nie sing nie
Goeie verhaal. Ek het lekker hieraan gelees.
Indien julle die wenplasings wil gaan lees klik op hierdie skakel asb: https://ink.org.za/biblioteek/projek-wenners/
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.