OOM POTTTIE EN DIE 25 KLAS
Daar is so baie stories wat, soos die stoomera, besig is om vir ewig verlore te gaan. Alhoewel hierdie verhaal op die Kimberley De Aar lyn afgespeel het wil ek dit graag ook vertel omdat dit so n klassieke verhaal is wat illustreer van watter stoffasie die stoommanne gemaak was. Hiedie insident het hom in die vyftiger jare afgespeel net na die 25 klas se koms.
Net ter verduideliking vir die leke, die spoorweë het deur die jare verskillemde klasse stoom lokomotiewe gehad en was daar altyd verbeter op hulle en het nuwe klasse die ysterad betreë. Elke klas het sy eie nukke en grille gehad en dan het elkeen wat aan n spesifieke klas behoort ook nog sy eie nukke en grille gehad.
Toe die 25 klas die toneel betreë het was die manne die 23 klas gewoond en was die 25 klas iets heel nuuts wat hulle moes leer ken.
Die spoorweë het al die jare sy eie dissiplinêre kode gehad om met oortreders van reëls en regulasies af te reken en kom hierdie storie van n tugondersoekbeampte af wat hierdie storie wonderbaarlik bewaar het.
Hy vertel dat hy twee dissiplinêre ondersoeke gehad het wat hy op de Aar moes gaan afhandel. In die een saak was n stasievoorman aangekla oor n vermyde botsing (Dit is nou dat daar n botsing sou plaasgevind het as iemand dit nie deur oplettenheid voorkom het nie) tussen n goederetrein en die Union Limited, n snelpassasierstrein tussen Kaapstad en Johannesburg.
Die tweede saak was n saak van aanranding waarin n drywer aangekla word dat hy n stasievoorman n paar warm klappe gegee het. Dit was terwyl hy die stukke sit en bestudeer wat hy agter gekom het dat die twee sake n noue verband met mekaar het, dit moes eintlik een saak gewees het.
Toe hy op de Aar afgeklim het en die kantoortjie betrek het het het hy die lêers reggesit en uitgestap om een van die manne in te roep dat hy met die ondersoek kan begin. Hy het dadelik opgemerk dat die drywer al n redelike ouerige man was en die stasievoorman n redelike jong kêrel. Hy besluit toe om die aanrandingsaak eerste af te handel, hy gaan wel n groot deel waarheid oor die vermyde botsing ook uit die drywer uit kry.
Toe die oubaas erg senuweeagtig inkom nooi die ondersoekbeampte hom om te sit. Toe die oubaas handwringend gaan sit het besef hy toe hy sal die oom gekalmeer moet kry. Nadat hy aan die oom verduidelik het waaroor alles gaan maak hy die fout om oom Pottie te vra om hom alles van die begin af te vertel wat die dag gebeur het, en dit was wat oom Pottie toe doen.
“Ou seun, toe ek die dag aangeteken het vertel die loodsvoorman my dat ek n 25 klas kry om die trein te werk, jy weet mos die goed wat nou net in hierdie geweste begin loop het. Ek wou eers die loodsvoorman vra of hy simpel in sy kop is, ek ken die goed nie, maar besluit toe om maar bek te hou, een of ander tyd moet ek die goed leer ken”.
“Ou seun en toe begin die moeilikheid. Pottie verstaan die 25 klas nie en die 25 klas verstaan nie vir Pottie nie. Die gevolg is dat ons begin tyd verloor het en is dit toe ons op Oranje Rivier loko vat wat ek besluit het om bietjie met die enjin te praat. Toe ek so voor om haar stap om die anderkant te olie stop ek voor haar, slaan haar met die ghriespomp deur die bek, en vertel haar dat sy nou haar nonsens moet stop en haar kant moet bring, hierdie trein sal regte tyd in Kimberley kom”.
“Ou seun dit is toe ons daar wegtrek wat ons mekaar mooi verstaan. Pottie trek tyd op en was dit toe ons die stasie bestorm wat die stoker sê ons het deursinjale, ons gaan deur”
“Dit was net toe ek haar weer wil ooptrek wat die engeltjie op my skouer sê ek moet toemaak hier is fout hier voor. Ek wou nog vir die engeltjie sê maar ons het dan deursinjale wat die stoker benoud skree: “Oom Pottie hier staan n trein voor ons”.
“Ou seun dit roei en stoei met die brieke en back gear, maar ek kry haar toe so vyf treë van die goederetrein se gat af gestop en dit is toe wat die engeltjie vir my sê: “Pottie kom ons stap hier op stasie toe en gaan maak hierdie man se ore vir hom warm. Hy kon ons nou sleg verongeluk het hier”.
10 Kommentare
-
-
Toom
Baie mooi, Neels! Miskien moes jy ook as tema aangegee het ,die dood'. Maar nee, dit was ,die amperdood' - en daai tema bestaan nie. Dan: ,Die dood?' Ook nie? Dan bly maar by ,die lewe!' GvT
-
Koekekranka
Hierdie storie so agterna bekyk, lyk dit mos vir my asof die Tugverhoorbeampte nogal skerp was om vir oom Pottie eerste te laat bieg want wragties, sy vertelling is mos 'n spontane verweer van regstellende aksie! En dan -nogal deur die 'engel' gepor!- sou ek aanbeveel dat oom Pottie met sy groot skrik as 'doli incapax' geag moes word! Heerlik gelees my Vriend en ja, ek glo nes jy dat hierdie tipe gebeurtenisse geboekstaaf behoort te word vir komende geslagte. Ek dink jy moet sommer dadelik met so 'n projek begin!!!
-
Arnold
Ja, al wat nog oorbly is om dit neer te pen.
-
Ronel Janse van Vuuren
Lekker gelees :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
hehehhe.. ek sou ook daai outjie se ore warm geklap het!! Heerlik gelees dankie Neels