OOM DUP EN DIE BETHLEHEM DRYWER
In die dae van stoom en semafoorsinjale het Kroonstad vier seinhuise gehad nl. Kroonstad-Noord, Kroonstad-Suid, Gunhill-Noord en Gunhill-Suid. Gunhill-Noord het die toegang tot Gunhill rangeer terrein saam met die hooflyne na Gunhill-Suid en Kroonstad-Suid beheer.
Oom Doep was n seinwagter in Gunhill-Noord. Sy bynaam was Doep Buikspraak en dit sê heelwat van hierdie legendariese karakter want hy kon werklik buikspraak doen en enige stem namaak. Saam met dit was hy n uiterste platjie.
Laat ek net gou die verskil tussen n seinwagter en n stasievoorman verduidelik. Seinwagters het jy in die groot seinhuise gekry en stasievoormanne op die kleiner stasies.
Seinwagters was net in n gedeelte van treinbedryf gekwalifiseer en stasievoormanne vol gekwalifiseer. Later is weggedoen met die seinwagters en moes hulle die gedeelte wat hulle kort ook eksamens in gaan aflê en het hulle toe ook stasievoormanne geword.
Aan die een kant van Gunhill-Noord het die hooflyne verbygeloop, aan die anderkant die toegangslyn tot Gunhill rangeerterrein.
So het dit een aand gebeur dat n Bethlehem drywer voor die rooi sinjale kom staan het tewyl daar n beweging aan die anderkant aan die gang was. Op die toegangslyn het n stel elektriese eenhede gestaan wat loko toe moes gaan wat ook gewag het vir die ander trein beweging. Dit was toe dat oom Doep gou sy planne met die eenhede se drywer reël.
Toe die Bethlehem drywer van die sinjale af bel was die ander beweging net voltooi en oom Doep reg vir sy plan van aksie.
Toe die telefoon lui antwoord oom Doep met n fyn stemmetjie voordat die drywer n woord kan sê: “Gaan nou vir jou sinjale gee oom wees net geduldig sukkel maar bietjie”.
Drywer: “Wie praat nou en waar is die seinwagter”.
OomDoep: “Dis die veerpoot oom (kwekeling) Die seinwagter het maagwerkings en is in die toilet”.
Elke sinjaalraam het spaar hefbome gehad en gooi oom Doep die telefoon op die tafel neer en begin hierdie spaar hefbome oorgooi en terug sit, die Bethlehem drywer kan duidelik die geklap van die sinjaalhefbome oor die telefoon hoor en die sinjaal bly rooi.
Oom Doep gryp die telefoon: “Is die sinjaal groen oom”.
Drywer: “Nee boet hy is nog rooi. Luister boet ek dink jy moet wag tot die seinwagter terug is. Jy gaan net n f-op maak hier vannag”.
Oom Doep: “Nee oom, ek gaan nou weer probeer”.
Telefoon word weer op die tafel neergegooi en oom Doep gee vir die trein sinjale, gryp die telefoon: “Is die sinjaal nou groen oom’.
Drywer:” Boet hy is groen maar ek dink ek moet net hier bly staan tot die seinwagter terug is. Netnou maak jy n f-op hier”.
Oom Doep: “Nee oom, oom moet ry daar is nog treine agter oom”
Die Bethlehem drywer besluit om te ry. Gaan klim in en kom stadig maar versigtig vorentoe, vertrou nie die spul nie.
Net toe hy by die seinhuis verby kom klim die eenhede se drywer op die fluitjie en sit die koplig aan.
Die Bethlehem manne skrik so groot dat die drywer en die stoker albei uitspring en daar stap die trein sonder hulle aan. Gelukkig nie vinnig ne en toe hulle opkyk seinhuis toe staan oom Doep lekker vir hulle en lag. Daar was nie genade nie en moet hulle die trein agterna sit om weer in die lokomotief te kom, gelukkig het die trein maar teen n slakkepas beweeg.
Een oggend kom die skoonmaker by die seinhuis aan met n splinternuwe hoed op die kop. Doep wil dadelik weet waar kry hy die mooi hoed.
Toe die skoonmaker hom vertel het dat hy die hoed gekoop het vra Doep die hoed, hy wil die hoed bietjie bekyk
“Waar het die man jou gekry”, vra oom Doep.
Buikspraakstem; “Die man het my daar in die winkel gesteel’.
Toe oom Doep die hoed wil terug gee wil die skoonmaker niks weet nie, die hoed het vir jare daar bly lê.
7 Kommentare
-
Anze
hehehe man ek wens ek kon hierdie oom geken het!! Heerlik gelees
-
Ronel Janse van Vuuren
Lekker gelees :-)
-
Toom
Al skryf ek nie dikwels nie -- jy weet mos dat ek jou uiters interessante verhale, besonders die spoorwegstories, graag lees. Mooi man. Goed vertel. Dankie. GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
Hierdie was nou 'n lekker ennetjie. (Meskien kan ons hedendaagse speurders gerus daaraan dink om 'n kursus in buikspraak te loop!) Baie dankie vir die lekkerlaggeleentheid!