Jongste aktiwiteit:

Halfpad- ‘n storie oor die middeljare

Halfpad
Agt en veertig jaar gelede
was ek in die wêreld gebore.
‘n Duisend, tien duisend myle
het ek rondgeloop,
deur winter grys en groen tye
waar gras groei en dood
waar die sandpad vleg
en mens sink en brou.
In ‘n vergeefse soeke
na die werklike lewe,
lees ons sielsboeke
sing ons van trou,
leer ons gebede as beleg
om boses in die lug
en aanslagte te beveg,
terwyl die lewensstroom
jou saamsleur uitleen-ore sus,
vir die pad na vore; die magiese rit.

Ek is nou, waarskynlik vir die eerste keer in my lewe, amper die persoon wat ek nog altyd wou wees.

Net nie my lyfie nie! Iewers is daar ’n stuk wanhoop oor my liggaam – die plooie, die sakkerige oë, die pensie en die ingesaktheid waar daar voorheen ronde boudjies was. Meer dikwels as nié, is ek uit die veld geslaan deur die ouerige persoon wat in my spieël kom woon het, maar wat – ek raak nie so angstig hieroor nie; ek skeer sommer in die stort en my hare is so min, ek weet waar elkeen sit!

Soos mens ouer word, sou ek dink dat mens meer tevrede met jouself moet word en minder krities oor die sukkel om ’n trui aan te trek, hemde wat om die buik krimp en vellerige wangvleis waar ’n kakebeen moet wees. Mens moet as’t ware jou eie vriend raak. Ek twis nie met myself oor daardie ekstra zoo-koekie saans na ete of ’n dubbel pienk “milkshake” saam met ’n Wimpy-ontbyt nie. Ek is geregtig om soms ’n bietjie té lekker te eet. Hoeveel keer het mens al gesien hoe skielik gesonder lewenstyl mense hierdie wêreld te gou verlaat; dit voordat hulle die groot vryheid wat met veroudering gepaardgaan, kon verstaan. Gisteraand op die betaalkanaal se “kaarte blans” was ’n insetsel wat presies gewys het hoe gevaarlik dit kan wees om jou kardiovaskulêre sisteem te ooreis. Toe drink ek maar ’n koppie tee om bietjie te ontgif.

Daar is so ’n klomp vooropgestelde moets-en-moenies en wat is sosiaal aanvaarbaar en pas by watter ouderdomsgroep ensovoort ens. Maar wat daarvan as ek kies om op die rekenaar of slimfoon te speel voor ek bedjie toe gaan, of selfs 20:00 katel toe te verdwyn en te slaap op die Sondagmiddag? Ek wil met myself op daardie wonderlike liedjies van die 60’s en 70’s dans en rondspring soos Mick Jagger op Bon Jovi se harslag-uitruk-musiek. Ek wil op die naat van my rug lê en Jim Reeves en Jannie Kontant inleef, terwyl ek op dieselfde tyd, wil huil van verlange na ‘n ongekende liefde … wat daarvan. Ek wil huiwerloos op die strand loop wyl my liefdeshandvatseltjies kreunend oor die swembroekrek kruip en ek uitgestrek op die sand gaan lê soos die spierpaleise van Clifton. In die golwe met oorgawe in duik ten spyte van my nekpyn wat later sal volg en veral, ten spyte van die bikini-draers se bejammerende blik. Mmm … hulle sal ook oud word!

Ek weet ek is soms vergeetagtig. Maar dan weer; om ‘n paar van die lewe se dinge te vergeet is goed, en troos ek myself, dis beter om uiteindelik die belangrike dinge onthou.

Uiteraard is daar mense en dinge wat oor die jare my hart gebreek het. Inderdaad het ek dit meer kere en met besliste welslae self goed reggekry. Andersins raak mens se hart ook seer wanneer jy ‘n geliefde verloor, of wanneer iemand na aan jou swaarkry, of wanneer ‘n geliefde troeteldier deur ‘n motor getref is, of dieselfde troeteldier twee van my geliefde hoenders opvreet of wanneer jy sien hoe jou baba-seuntjies tieners en jong mans word – dit terwyl jy die trane soos gister kan voel, toe sy hare vir die eerste keer gesny was. Maar gebroke harte is wat ons krag en begrip en deernis gee. ‘n Hart wat nooit stukkendgeit geken het nie, is ongeskonde en steriel en sal nooit weet wat die vreugde van onvolmaaktheid is nie.

Ek is so geseën dat ek nou al lank genoeg leef om my hare te sien grys raak en die res wat eerder op die vlug wou slaan; te kan sien kwyn. Ook om my jeugdige lag vir ewig in groewe op my gesig geëts te sien. Alhoewel ek beslis deesdae meer kan lag; die slimmer mense sê hoeka mens kan jou gesond lag! ’n Ander ontwaking met die tyd, was dat ek kon leer om “nee” te sê en dit met deernis te bedoel. Ek kan egter steeds “ja” ook sê.

Soos jy ouer word, is dit nie altyd maklik om positief te wees nie. ’n Goeie begin is deur minder om te gee oor wat ander mense dink. Ek meet en bevraagteken nie myself meer so baie nie. Ek het selfs die reg verdien om verkeerd te wees.

Dus waar ek vanoggend, gedagtig daaraan dat ons jongste nou ook puberteit in skuifel, stil bedruk geword het, het onse Heer in Sy genade my lewenskersie kom aansteek om raak te sien dat ek wíl oud word. Ek is vandag vir meer as net ’n dag vrygemaak. Ek hou van die persoon wat ek geword het. Ek gaan nie daarna smag om vir ewig in my jongmens lyfie en gedagtewêreld te leef nie, maar terwyl ek nog hier is, sal ek ook nie tyd mors met die illusie van wat kon gewees het, of deur bekommerd te wees oor wat sal wees nie. En, amper die belangrikste … ek sal nagereg meer as eenkeer per week eet.

Hennie Fritz




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed