Herfswind
Die herfswind het my ver gewaai
die kalahari oor met ‘n wye draai
– verby die waters van die groot gariep –
tot aan ‘n weskusbaai
Stukkies van my hart
het in die voorloop van die winter
saam met die amber populier se blare
in die herfswind rond geflinter
Job se bitter klaaglied
het langsaam uitgewoed
en in Philippolis lui ‘n kerkklok
‘n helder sondaggroet
My gedagtes kronkel padlangs
die Sneeuberge oor
waar uile blindweg ooswaarts
oor die waters van Betesda staar
By valleie van verlatenheid
met sonsak oor die Kamdeboo
het ek die wind hoor fluister
oor die vlaktes van die groot karoo
Teen die seweweekspoort se kranse
wat teen die blou lug duisel
klou rooi aalwyn en suikerbos
verbete om oorlewing vas
in die skemer poort se kronkel
huil die herfswind in die donker
soekend na ‘n rusplek
vir die tolhuiswag se spook
Herfs breek oop soos ‘n ryp granaat
in die boland en die kaap
smeulend in die wingerd se rooi
en in die amberboom se gloed
in die stilte van die herfswind
hoor ek die tortel roep
in sagte borrelklanke
– ‘n laaste najaarsgroet
© Estelle Rubow
18/10/2017
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koos Elsum
Die gedig tref my veral as ń Karoo liefhebber maar ook hoe jy die lewe getye vasbind aan die landskap. Dankie vir die deel Kommentaar : Ek is geen kenner, geniet net die digkuns aanvaar dus die as my leer proses. 1. Die weglaat vd hoofletter in die laaste frase is treffend vir my bring die rustigheid & stilte