Soms Mis ek jou
Ek het jou eens,
toe jou oë myne vang
– vir ‘n oomblik, ‘n ewigheid –
aan my hart se binnewand vasgedroom
maar soms soek ek jou tussen woorde
tussen hartseer wysies se akkoorde
soms raak ons vir mekaar verlore
is ons gesprekke net leë woorde
Soms praat jy, maar nie met my nie
oor baie goed, maar nie oor jou nie
toegeskulp in niksseggende frases
verstrik in alledaagse redenasies
soms raak my woorde en drome
verdrink in die diepblou see
waar die wolke donker skadus gooi
soos drywende blomme
maar soms raak ek verlore in jou oë
en sien ek die volmaan op die water dryf
dan maak skielik alles sin
en vind ons mekaar in die dwaalspoor van die lewe
© Estelle Rubow
07/12/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.