Jaar van vergewing
Jaar van vergewing deur Johan j van Rensburg
Brons afdeling Kortverhaal ( 2975 woorde)
Die man voor Gerhard lyk gehawend. Gerhard doen wat enige nege-jarige sal doen: Hy stáár. Hy sien die gehawende skoene wat die gate in die kouse probeer wegsteek. Hy sien die vuil, oorgroot baadjie en die nog vuiler t-hemp wat bo by die nek uitsteek. ‘n Egalige ry tande waarvan ‘n woeste baard die meeste verberg. Hy staar tot by die lang hare.
Gerhard het nog nooit in sy lewe so ‘n vuil mens gesien nie.
Die man wag stil op die stoep nadat daar op sy geklop aan die voordeur reageer is. Tog, as Gerhard in die gesig kyk, wil- wil iets bekends nesskop. Is dit die groen in die oë, of die kuiltjie in die wange?
Skielik is Pappa by. Hy ruk die voordeur onnodig vinnig oop. “Kan ek help, meneer?”
Die stilte rek lank waar pappa ook na die man staar. Pappa kyk anders as Gerhard. Dit lyk of vrees in die man se oë flikker. En net daar, hakkelend praat die vuil man vinnig en kyk grondlangs. Voorspoedige kraaknuut jaar, vol van vars geleenthede om mense te vergewe en mekaar lief te he”..Dan draai die vuil man om en verdwyn af in die straat. Gerhard rek sy nek om te sien waarheen die vuil man verdwyn het. “Watse man was daardie, pappa?”
Pappa maak die deur stewig toe. Die antwoord kom vinnig en kortaf. “Dit was ‘n boemelaar. Gaan trek nou aan, ons gaan laat wees vir kerk.”
Gerhard trek sy rooi spinnekopman kouse sorgvuldig oor sy skoon voetjies.
Die kouse het nie gate in nie.
Mamma het dit net verlede week gekoop. Sy broek is netjies gestryk en sy kerkhempie is spierwit. Hy kyk vir homself in die spieël. Sy tande is wit, al is daar ‘n paar kort. “Kom jy Gerhard?” Pappa is al oppad motor toe. Mamma kom kam sy hare met haar borsel. Sy plak ‘n soentjie op sy wang. “So ja, nou is ons reg vir kerk.” Sy neem Gerhard aan die hand en loop saam met hom by die huis uit.
Pappa is ongeduldig.
Hy sluit die voordeur en jaag metbande wat skreeu die drie blokke tot by die kerk. Gerhard kyk uit vir die “Boemelaar”. Hy staan half verskuil in die skadu van die Bloureëns skuins voor hulle huis.
Gerhard wonder oor die man. “Mamma,” begin hy vra. “Ja liefie?” Mamma probeer lipstiffie in die spieëltjie van die motor aansit. “Wat pla?”
“Wat is ‘n boemelaar?”
Mamma laat sak die hand wat die lipstiffie vashou. Sy en pappa kyk vinnig vir mekaar. Dan sê pappa kwaai: “Dis husse met lang ore.” Mamma wys met haar voorvinger dat hy liewer niks verder moet vra nie, pappa se moermeter is klaar in die rooi.
Daar is baie mense by die kerk.
Gerhard wonder wat sou die mense sê as hy Boemelaar saam kon bring. Hy bly dink aan die man voor die deur. Nee, besluit hy. Dit sou glad nie deug nie. Al die mense hier het mooi klere aan en praat nie van snaakse goed soos voorspoedige kraaknuut en vars jaar.
Die word moeilik vir die seun om te verstaan.baie. Boemelaar is vuil en stil. Die mense sou vir Boemelaar lag. En om te lag vir iemand is nie goeie maniere nie.
Pappa druk sy tablet in Gerhard se hande toe hulle gaan sit. Hulle bank is amper heelagter in die kerk. Gerhard kan skaars die dominee sien van waar hy sit. Pappa wil nie “verneder” word deur ‘n klein seuntjie nie. Daarom moet hy “speletjies” op pappa se tablet speel terwyl die dominee sy uur preek. Pappa sê dit hou hom ten minste vir die uur van kerk uit die kwaad uit.
Gerhard speel nie vandag speletjies op die tablet nie. Hy vra vir Google wat ‘n boemelaar is.
Google antwoord dadelik.
“Dis ‘n arm mens uit die onderklas van die samelewing, dis ‘n man sonder woonplek en dis soms ‘n boelie.”
Al woord wat Gerhard verstaan is “arm” en “boelie”. Hy weet die oom is arm, maar van die boelie weet hy darm nie!
Na middag- ete help Gerhard mamma skottelgoed wegpak. Pappa sit verdiep in sy koerant in die sitkamer.
Mamma vat haar kans.
Gerhard hoor vir die eerste keer van pappa se boetie wat ‘n boemelaar is. Dít was die man in die deur vanoggend voor kerk. Die boemelaar hét ‘n naam….Herman. Natuurlik het hy nie geweet dis húlle wat hier woon toe hy vroegoggend kom brood bedel het nie!
Mamma sê dit was ‘n groot skok vir pappa en vir Herman. Dis tien jaar dat hulle mekaar laas van aangesig tot aangesig gesien het. Pappa is nou nog nie lekker nie, en Gerhard moet maar uit sy pad bly en rustig wees en pappa nie pla met al sy vrae nie.
Nou verstaan Gerhard glad nie. Die boemelaar, of Herman, is pappa se broer?
En pappa maak sowaar die deur in sy gesig toe!
Hoekom het papa hom nie ingenooi nie, en van sy klere gegee, of laat hom in die tuinwoonstel bly nie? As dit darem sý boetie was…hy sou nie só gemaak het nie. En hy wat Gerhard is, wil al vir lank sy eie boetie hê…maar mamma sê sy sien nie kans vir nog ‘n raasbek nie.
Sondae-middae is dit slaaptyd vir mamma en pappa. Dan moet Gerhard so stil soos ‘n muis wees.
Gewoonlik ry hy met sy fiets deur die stil strate, of gaan saam met die bure se groter seuns park toe en gaan skop ‘n paar balle.
Vanmiddag wil Gerhard alleen park toe gaan.
Hy weet pappa hou nie daarvan as hy alleen ry nie, maar, wie sal weet? Hy ry al met die kronkelpaadjies tussen die bome deur. Sy oë fynkam die groen lanings wilgebome deur die park. Hy is op ‘n missie. Hy soek na sy oom Herman. As hy dan nie vir pappa kan vra nie, sal hy oom Herman vra. Hy hoef ook nie lank te soek nie. Die wilgeboompark is ‘n gewilde uithangplek vir al wat ‘n boemelaar is.
Gerhard klim huiwerig van die fiets af. Oom Herman het hom nie gesien nie. Gerhard skuil agter die stam van ‘n kneuwel van ‘n wilgeboom. Oom Herman sit op ‘n groot klip by ‘n vuurtjie waarop ‘n gebrande blikkie staan en kook. Dit lyk asof hy besig is om ‘n duif te slag. Dis net vere en bloed rondom hom.
Hy kook seker vir hom middagete, dink Gerhard. Hy kon mos maar saam met hulle Kerrie en Rys en lekker slaai kom eet het…
Met ‘n baie klein hartjie sê Gerhard onwetend hardop: “Ek moes van die oorskiet saamgebring het vir oom Herman”. Skielik kyk oom Herman op, vas in Gerhard se oë. Maar Gerhard skrik nie, dis dan sy pappa se boetie?
“Ja….kan ek jou help, seun?” Die stem klink nes papa s’n, minus die kwaai klank daarin..
Gerhard dink nie die oom herken hom nie. Nou weet hy hoekom die groen oë en die kuiltjie in die wang hom so geraak het. Dis dieselfde as pappa s’n. Pappa het net nie kreukeltjies rondom sy ooghoeke, soos oom Gerhard nie…
Gerhard besef nie hy staan alweer en staar nie.
Oom Herman kyk nuuskierig na Gerhard. Gerhard kom uit in die oopte en neem sy fiets wat teen die boomstam rus. Hy stoot dit na oom Herman toe.
Dan steek hy braaf ‘n hand uit. “Hallo, oom, ek is Gerhard.” Die man vryf ‘n vuil hand oor sy baard.
Hierdie knapie is anders as die kinders wat altyd in die park is…baie anders. Traag steek oom Herman ook sy hand uit. “Bly te kenne, Gerhard.” Hy krap die kole met ‘n stuk stok. Hy kyk nie weer vir Gerhard nie. “Laat jou ouers jou dan toe om alleen hier in die park te speel?” Gerhard onthou van pappa wat nie wil hê hy moet alleen hiernatoe kom nie. “Nee oom Herman, hy sal slange van as hy weet…”
Gerhard besef glad nie hy het oom Herman op sy naam genoem nie.
Oom Herman se kop skiet omhoog en hy vernou sy blik op Gerhard. Dan kom die herkenning. Vanoggend. Hy staar bot na die vuurtjie, en sit die duif op die kole.
“Hoe weet jy wat my naam is?” Gerhard wonder benoud of hy nie eerder moes stilgebly het nie. Braaf druk hy deur.
“Mamma het my gesê. Oom was vanoggend by ons huis?”
Herman kou ‘n stokkie en gaan sit weer op sy klip. Gerhard sit sy fiets neer en soek ook ‘n klip om op te sit. Herman hou hom onderlangs dop. Dis verstommend dat sy gehawende voorkoms die kind glad nie afstoot nie. Gerhard lyk so tuis op sy klip voor die vuur as wat hy in sy eie agtererf tussen sy speelgoed is.
“Jammer seun, ek het nie besef júlle bly daar nie…“So… jy is Jasper se seun…”
“Ja oom”.
Gerhard sien uit die hoek van sy oog dat die bure se seuns hom gewaar het. Hulle kom met mening aangeloop. Skielik is Gerhard baie haastig. Hy spring op, sien nie die stof wat hy op oom Gerhard se middagete gooi nie.
“Skies oom Herman, ek moet waai.”
Hy spring op sy fiets en laat waai teen die bult uit. Herman kou steeds aan die stokkie terwyl hy die vriendelike seuntjie agterna kyk. Skielik is hy weer alleen. Tog, die warmte van Gerhard se besoek huiwer steeds in die lug. Dit was lekker om weer normaal met iemand te kon gesels. Herman spoeg die stokkie uit en blaas die grond van die halfgaar duif af.
Snaaks, baie snaaks…
By die huis gekom is hy net betyds vir middag tee.
“En toe, wat jáág jy so in die strate? Ek hoop jy hou by die verkeersrëels!”
Pappa sit op die stoep. ‘n Uur slaap op ‘n Sondag maak hom éérs beneuk. Gerhard knik sy kop, ek ry versigtig Pa , en antwoord nie die res van die vraag.
Pappa lag.
As hy lag lyk die kreukeltjies om sy oë nes die van oom Herman. Dis lekker om Pappa te hoor lag. Miskien is dit die regte tyd om hom te vertel van sy ontmoeting met oom Herman….of dalk nie. Nee wat, netnou verdwyn pappa se “goeie lag”. Dit gebeur min genoeg dat pappa so goed voel en lag.
Mamma roep na Gerhard. Dis badtyd. Gerhard wens sy ma wil ophou om hom soos ‘n baba te hanteer. Hy is nou mooi groot. Hy kan self agter sy ore was. Dis net mamma wat dink hy kan nie. Met mamma kan hy sy geheim deel. Sy sal nie praat nie. Gerhard gaan bad gewillig.
Hy gebruik die geleentheid om te vra terwyl mamma hom skrop. “Hoekom word mens ‘n boemelaar?”
Mamma sit terug op haar hurke. “Ag soms gebeur seerkry dinge in jou lewe en dan is jou hart só flenters dat jy niémand om jou wil hê nie. Jy wil net alléén gelos word tot die seer beter is”.
“Is dit wat gebeur het met oom Herman?”
Mamma vryf hom onnodig hard met die handdoek droog. Gerhard kan sien sy dink diep voor sy antwoord.
“Jongie ek weet nie lekker nie. Pappa praat nie graag daaroor nie…ek dink oom Herman het sy lag verloor…of miskien het hy hoop vir die lewe verloor…”
Mamma se hande raak stil om sy lyfie. Gerhard kan sien dis vir haar ook moeilik om oor oom Herman se dinge te praat.
Hy probeer help.
“Pappa het nog nooit ‘n lag gehad nie mamma… maar hy is nie ‘n boemelaar nie…”
“Pappa het ook ‘n lag gehad… en hy het hom ook iewers verloor, maar ek en jy is daar om hom te help om dit terug te kry, weet jy?”
“Arme oom Herman het niemand wat hom help soek nie..”
Gerhard sien ‘n traan op sy ma se wang afrol en vang dit met ‘n vingertjie. “Pappa gaan dan elke Sondag kerk toe, bring Jesus dan nie vir hom nuwe hoop nie?”
Mamma kyk net vir Gerhard. Sy sê niks nie. Gerhard weet die gesels is klaar as mamma haar lippe so opmekaar druk. Hy trek sy klere stil aan. Hy dink hard. Hoe kan hy help om Pappa en oom Herman se lag terug te bring? Hoe kan hy vir hulle laat weet daar is nog hoop?
Dalk is dit wat beteken kraaknuut vars jaar ,sodat twee mense mekaar vergewe en nuut oorbegin in die nuwe jaar wat voorle.
Daardie aand voor sy bedjie bid hy lank en ernstig vir oom Herman en vir Pappa. More, weet hy, sal Jesus vir hom ‘n plan van aksie gee.
En toe Gerhard Maandagoggend wakker word, het hy sowaar ‘n plan.
Dis ‘n blou Maandag. Hy kry heeltemal te veel huiswerk. Dis alreeds laatmiddag toe hy sy fiets stoot tot by die teerpad. Hy kyk op en af in die straat. Dankie tog, pappa kom nog nie aan nie. Hy het vir mamma laat weet dat hy gou ‘n wiskunde handboek by ‘n maatjie gaan haal. Nog ‘n witleuentjie…
Hy kies dadelik koers na die Wilgeboom park toe. Die briefie wat hy geskryf het terwyl hy huiswerk moes doen, het hy sommer voor by sy hemp ingedruk. Hy hoop hy het nie te veel spelfoute gemaak nie! Wat sal oom Herman dan van hom dink?
Gerhard stop met sy fiets en beweeg stadig nader. Oom Herman lê en dut op die gras.
“Loer jy lekker?” Hy stut hom lui-lui op sy elmboë.
Gerhard lag en laat staan sy fiets. Hy gaan sit kruisbeen voor oom Herman op die gras. “Oom Herman hét my lekker laat skrik. Ek dag oom slaap!”
Oom Herman loer in Gerhard se rigting. “Mens slaap in die aande.”
Gerhard haal die briefie voor by sy hemp uit. “Ek het vir oom net gou ‘n briefie gebring.”
“Van wie af?” Herman sit regop.
“Van my af.” Gerhard voel trots om so ‘n lang brief self te kon skryf.
“O so? en weet jou pa jy kuier alweer hier by my?”
Gerhard voel ongemaklik. Hy staan sommer op en maak reg om te ry.
“Nog nie, oom Herman, nog nie. Maar hy sal een van die dae uitvind.”
Voor hy begin trap kyk hy ‘n laaste keer na sy oom Herman.
Dis asof iets hom byval: “Ek weet oom het oom se lag verloor en oom het niks meer hoop nie…maar ek bid vir oom…en ek help soek…weet oom, mý pappa het nog nóóit ‘n lag gehad nie?”
Dan ry hy weg, so vinnig as wat hy kan met sy kort, stewige beentjies. Voor oom Herman die traan in sy oog sien.
Herman sit verbysterd. Dat ‘n kind hom so kan skok!
Hoe is dit moontlik dat Jasper nooit lag nie?
Toe Gerhard die volgende dag by die Wilgeboompark verby ry, is oom Herman nie daar nie. Ook nie die volgende dag nie. Gerhard ry vir vier dae verby oom Herman se “plek”, maar hy is nie daar nie.
En Gerhard wonder wat hy verkeerd gedoen het.
Was die spelfoute in sy briefie te veel?
Sy eetlus is skoon weg. Mamma wonder al wat fout is. Hy kan haar nie vertel nie. Oom Herman het ‘n gat in sy maag gemaak.
Vrydagoggend is daar ‘n toegedraaide skoendoos voor die deur. Die kaartjie voorop het pappa se naam daarop. Gerhard staan by pappa toe hy die bybel daarin uithaal. Pappa gaan sit op die voetenent van die bed. Hy lyk verstom.
“Wat is dít, Jasper?” vra mamma.
“Dis my en Herman se bybel toe ons tieners was. Ek het gedink dis verbrand!” Pappa maak die bybel oop. Daar val foto’s van hom en oom Herman uit, hánd om die lýf foto’s. Gerhard kyk mooier na die foto’s. Albei het groot glimlagte op hulle gesigte. Hy gryp na die naaste foto en druk dit opgewonde in mamma se gesig.
“Mamma kyk, hiér het hulle altwéé nog hulle lag!”
Gerhard se hart voel warm. Hy kyk vir papa. Pappa hét sowaar ‘n lag gehad! Daar is hoop!
Pappa bly blaai en blaai deur die bybel. Hy lees die versies wat onderstreep is oor en oor.
Daar is ook ‘n brief onder in die skoendoos.
Dis vir Gerhard.
Hy gaan sit langs pappa op die voetenent van die bed. Hy vou die briefie oop. Hy hoop oom Herman kan beter spel as hy!
Oom Herman skrywe: “Gerhard, ou seun, dankie vir jou briefie. Geloof, Hoop en Liefde bly. Maar die sterkste hiervan, is die Liefde. Jou pappa is baie lief vir jou. Dis ‘n feit. Ons twee moet hom weer laat glo dat die lewe die moeite werd is, ons moet hom weer laat hoop op die toekoms. Ons twee moet sy lag weer terugbring. Ek sal help waar ek kan. Ek is terug na ons familie wildsplaas in Sabie, daar waar ek en jou pa ons lag verloor het.
Ons was kerktoe een helder oggend toe daar ‘n brand in een van die wildskampe ontstaan het. Teen die tyd wat die kerk uit is en ons al ons vriende gegroet het, was daar niks oor van die plaas nie…ons was platgeslaan. Net ons bybel kon gered word… Jou pa het ‘n nuwe begin op ‘n ander dorpie gaan maak en ek…ek het die lewe van ‘n boemelaar gekies, ek het gedink as ek niks het nie, kan niks weer van my weggevat word nie..
Maar dis nou verby.
Ek gaan die plaas weer opbou tot beter as wat hy was. Ek gaan my lag terugkry. Ek sal skryf. Groete, jou oom Herman.”
Pappa lees ook die briefie. Hy huil. Hy hou vir mamma lank vas, en nou huil mamma ook. Albei opgewonde oor die kraaknuut kans wat die twee boeties nou het. Gerhard is bly, dis nou wel nog nie ‘n lag nie maar dis al beter as ‘n kwaai frons!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT