Ouder-ling
Ouder-ling
ek weet, my kind
my oë lyk dof en waterig
my glimlag dieper
en die malers is geslyp
kontoere dartel oor my gesig,
my nek
terwyl my stem stadiger
– krakeriger –
onder my afval-bril deur,
tog nog woorde spreek
ek-is-lief-vir-jou krete …
my eens trotse kroon
nou grys en yl
verwelkom nog steeds my knopvingers
as dié daardeur vrae vra
en my lopende gedagtes
wonder waar is tyd heen …
dieselfe hande het jou opgetel
op hierdie kromtoonvoete
het jy gedans
my oë was eens jou verkykers
vir ‘n mooi droomtoekoms:
dit was toe jy nog klein was
baksteenhoog klein …
my stem was jou nagneurie
tot jou vingertjies los raak
– slaap-raak –
in pappa se haredos
ja, vir geen oomblik wou ek jou ooit los …
vonkeluut is jy gebore
splinternuut was hierdie pa
terwyl Abba ons albei moes abba
al het ek vergeet om te vra
ek is steeds dieselfde mens
– net ouer –
soekend na liefde, omgee, aanraking
– na joune, my kind –
is ek op my oudag dan vir jou
net ‘n vernedering
‘n verstoteling
want in jou wegbly
jou leë beloftes
raak jy ‘n vreemdeling
tik tok … ek word ‘n hemelling …
©Margaret Bennett
2/2/2023
Foto : Google
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT