Klaar! – ‘n vlamoorlog in Boers (Brons)

My hand skuif die muis
aangemeld oor die sleepmat –
met my wagwoord reeds in, waarom
moet die ding so lank draal!
Vanaand bliksem ek die sekuriteit
se danige vuurmuur plat
as ek my e-moer na die geselsgroep
in hierdie donderstryd stuur!
Ek is sat vir stelselindringers
strooipos, korrupsie, ’n virus
of as die stelsel omval
oor goggas wat in ‘n netwerk boer!
Jou kletsies wil ek veral vermoor!
Ek gaan jou van my e-poslys
met emotikons en al ontkies,
jou finaal in die asblik gooi!
Net vir oulaas skerms wissel
met die wipskakelaar
na die woerts-warts-gids –
dit staan daar van die smoorlys –
Hoe om dubbel doodseker te wees
ek kan nie per abuis
in ‘n oomblik van verfrissing
jou adres ontskrap of jou naam herwin.
© Charleine Collins 1 Desember 2018
Foto: https://tenor.com/view/elmo-fire-laptop-computer-flame-gif-11557978
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2018 projek