
Julie 2024 – OOP projek – Kommentaar en uitslae
BAIE GELUK AAN HIERDIE 11 LEDE!
WENNERS
GEDIGTE
BRONS.
- no 26 Cobus Kruger met Onwaarskynlikheidsleer
- No 27 Piketti (Retha van Deventer) met Hartsverlange
- No 29 Piketti (Retha van Deventer) met Somet in jou winter
SILWER.
- No. 25 Hester Steenkamp met Goue graaf
- No 2 Charles Skeen met Mistroosstig
- No 3 Pieter Mostert met My liefling
GOUD.
- No. 33 Andries Fourie met Middelpuntvlietend
- No 28 Amanda de Meillon met Verbode vrugte
- No 32 Elmarie Nienaber van Kampen met Rou
MENINGSTUKKE
- No 3 Hester Steenkamp met Vaal is die boervrou se wit
- No 1 Lollie met Dis hoe dit is
- No 2 Lollie met Kunstenaar van jou lewe
RUBRIEKE.
- No 4 Rika Gerryts met Daardie verloor sokkie
- No 3 Marlene Erasmus met Ons onsigbare helpers
- No 1 Lollie met Waar vind jy geluk
ARTIKELS.
- No 2 Marlene Erasmus met die harlekyn: ’n wereld van maskers en kostuums
- No 1 Marlene Erasmus met Die lewe sonder reëls
- Geen
VERHALE.
- No 1 Hennie du Toit met Billy
- No 8 Piketi (Retha van Deventer) met Fynste en voete
- No 2 Marlene Erasmus met Lewe sonder grense
KOMMENTAAR:
GEDIGTE:
BRONS:
- Jy is
In jou laaste strofe het ek twee spelfoute raakgelees: “voetpaadjie” en “bloudissel”.
In poësie het die skrywer baie min ammunisie (omdat digkuns die woordtelling beperk) om die boodskap oor te dra, en daarom is dit belangrik om op selfs die kléinste detail te let. “Oggendgebed” in die eerste strofe kan ook funksioneel gekoppel word. Onthou, as jy ‘n selfstandige naamwoord (saakwoord) gebruik (in dié geval gebed) en jy gebruik nog n woord om dit te omskryf, is dit gewoonlik een woord. Maklikste manier om n S.nw. te onderskei is as jy n lidwoord (Die,’n) voor die woord kan sit is dit n S.nw.
Jy sluit jou vers met n ellips; dit is nie in hierdie instansie funksioneel nie. Jy wil nie die vers ooplaat sodat die leser byvoeg by die ode wat reeds geskryf is nie. Miskien kon jou vers baat by punktuasie. Nietemin ‘n lieflike “liefdesvers”.
- Genoegdoening
Aangename vers met mooi onomatopee. Ek het werklik geen kritiek hierop te lewer nie. Welgedaan.
- Tronkdeure
Jou vers spreek vraagstukke aan waarmee die mensdom worstel. Alhoewel ek voel jou vers sluit effe negatief, verstaan ek as leser en medemens hierdie stryd. Tipografies sou ek die vers effr verander wou sien, maar dit is bloot persoonlike voorkeur. Mooi gedoen.
- Wintersoggend
Alhoewel die laaste strofe treffend is, vind ek die lang sinne, woordorde en aanbieding nie op standaard nie.
Hierdie vers het baie potensiaal maar vra vir redigering.
- Florence Nightingale
Die toestand van die openbare gesondheidsektor is sonder twyfel iets waaroor due digter móét skryf. In die deursnit is die vers goed, tóg sal ek waak teen omslagtigheid. Ook om na Nightingale se “aankoms” as “neerdaal” te verwys is effe oordrewe. Haar menskikheid is juis waarvoor sy bewonder word, en jou woordkeuse kan ‘n engelstatus verleen waaroor sy dalk nie gelukkig sou voel nie. Mooi vers nietemin.
- Die goeie seun
Heerlik humoristies. Miskien kan jy dalk meer van die sinne inmekaar laat vloei sonder al die punte, of eerder van kommas gebruik te maak. Ek het heerlik hieraan gelees.
- My skans
Die woord “weggesmelt” is nie funksioneel nie: “afgebreek” is beter.
As jy aksente op letters wil gebruik, maak seker jy voer die regte opsie uit: in hierdie geval is dit “jý” en nie “jy met ‘n umlaut” nie.
Keurig.
- Ysige lens
Ek het voorbehoud oor hierdie vers van jou. Dit lees soos n sedeles en nie n vers nie. Hoe sien ek jou vers?
“Winter, introspeksie seisoen
waar ysvingers die verlede oopmaak
en kettings van gewoonte verbreek;
ek blaai deur die geestelike dagboek,
oorweeg ek weer of skeur ek uit
hoe leer ek om voor te begin
en myself te ontbloot?
Moet foute en tekortkominge erken
en los dit nes verlede winter
tussen blaaie van hiérdie boek –
elke dag is ‘n nuwe lewe
van vryheid en dalk weer begin.”
Maak die vers gekoppel aan jou eie ervaring en vermy om vir jou leser te “preek”.
- Ek is skatryk
Die woordorde in die vers is vir my ‘n raaisel.
As voorbeeld, jou eerste strofe:
“stap saam met my tussendeur die lyne
soos ek tree vir tree waag te verdig my lied
waar geen reëls my stem kan keer
mag woorde ook die pad na jou hart bereik
jy wie se lewe lê… so verryk”
Dit is óf uit ‘n ander taal vertaal óf dit is KI gegenereer. Ons praat nie so in Afrikaans nie. Kontak my op inkmoderator@gmail.com
- Rooi robot reisies
Ek het lanklaas ‘n Bagarthach gelees. Ek verduidelik hier vir die ander lesers wat dalk die kommentare lees, dat die ‘n digvorm is wat uit een enkele kwatryn bestaan, gewoonlik snaaks / skerpsinnig is maar ook “gemeen” kan wees. Dit bevat wisseling van 8-9-8-9 lettergrepe.
Het jy dus geslaag?
“Woeps, ¶jaag¶ hul ¶oor ¶rooi¶oog ge¶wis
8
ig¶no¶reer¶ ons ¶pad¶re¶gu¶la¶sies
9
daar¶ waar¶ rug¶graat¶ sy ¶naam¶
uit¶wis 8
ver¶wens¶ ek¶ hul¶ sit¶vlak¶ vol¶ bla¶sies.” 9
Die lettergreep telling is in die kol. Ek verstaan egter nie wat jy met die 3de reël probeer sê nie. Nietemin dink ek jy het jou redelik goed gekwyt van jou taak, en die feit dat jy jou horisonne verbreed deur ander digvorme te ondersoek is gewis benydenswaarsig. Welgedaan.
- Oos-Vrystaat kind
Keurige vers. Let net daarop dat sinne nie met hoofletters begin aan die begin van reëls as dit nie deur punktuasie voorafgegaan is nie.
- Sonstrale
Droë en sê behoort deur hul onderskeidelike skryftekens aangedui te word. Ek weet nie watter vorm van sagteware jy gebruik om jou verse te skryf nie, maar dit behoort nie as verskoning aangebied te word nie. Moet asseblief nie elke sin met hoofletters te skryf nie.
- Strandbrief
Ek is eerlik, die enigste inligting wat ek kan herroep van Oskar Prozesky is dat hy op Graaff-Reinett gewoon, en daar gesterf het. Die gedig waarna jy verwys is nie in my versameling nie, en geen van die bronne wat ek nageslaan het kan my help om sy en jou vers te vergelyk nie. Ek hou ek egter van jou pragtige vers. Jy het aangedui in apologie, en daarom evalueer ek jou vers op daardie meriete. Dit is baie treffend en so lieflik. Mooi gedoen.
- Donkerkyker
Die titel dien die vers goed. Dit is ‘n baie interessante vers wat die leser dwing om die oor en oor te lees. Die metafore daarin is nie op ieder plek duidelik nie, maar dit is wat poësie uitdagend en lieflik maak. Elke leser kan sy/haar eie stukkie aas hieruit haal, tóg bly die geheel en veral die slot duidelik. Ek dink dit is ‘n knap stukkie digkuns hierdie.
- Mosaïek tyd
Ek hou van die idee in jou vers maar dit kan werklik ontwikkel word tot sy beste potensiaal. Kontak my op inkmoderator@gmail.com indien jy hulp nodig het.
- Verlang-trane
Soms neig digters om sekere aspekte in hul vers te “oorverduidelik”. Jou vers is werklik onnodig omslagtig. Dit kan baie sterker wees as jy nie al die abstrakte selfstandige naamwoorde probeer omskryf nie. Dit is bloot net onnodig. Kontak my op inkmoderator@gmail.com.
- ‘n Begin
Jou vers laart my dink aan Rumi se woorde: (Vryvertaal)” As kruip al is wat jy kan doen. Begin kruip.”
Jou vers is baie motiverend al besef hy dit nie. Mooi gedoen.
- Eensaamheid
Die konsep van “soewereine seer” is vir my pragtig. Keurige vers.
- Onwaarskynlikheidsleer
Hierdie vers is baie, baie, baie slimmer as jy wat jy ooit sal besef. Van die titel tot teen die laaste klank van jou slotreël is dit eenvoudig uitmuntend. Dit is so vars en het my stom. Jou vers is so uitstekend ontwikkel en die idee is geniaal. Onoortroffe!
- Hartsverlange
Ek hou baie van die progressie in hierdie vers. Die feit dat sekere sinsnedes herhaal is het die impak selfs groter en meer genotlik gemaak. Die keurige gebruik van die apostroof om die ritme te bestuur is ook besonders. Werklike keurige gedig.
- Somer in jou winter
Die tipografie in jou vers is interessant. Ek het aanvanklik nie verstaan waarom jy hierop besluit het nie, maar met nabetragting kan ek verstaan dat dit amper soos ‘n lappie is wat uitgedroog word waar die “negatiewe” emosies uitgewurg word om “oorwinning” oor die “emosionele winter” te vier. Ek mag dalk geheel verkeerd wees. Jy kan my gerus vertel as jy wil op inkmoderator@gmail.com. Ek hou hiervan want nie nét is dit keurig nie, jy het ook die vers ontwikkel in so ‘n manier dat die woordkeuse sin maak onderwyl jy getrou gebly het aan die tipografie. Goeie werk.
SILWER
- Mistroostig
Keurige vers.
- My liefling
Dit is teer en aards. Baie mooi geskryf. Ek het wel paar dingetjies hieroor te sê. Die tipografie van strofelengtes wat lukraak verander kan dalk aangespreek word. Die ritme in die eerste strofe, in die laaste sin sal beter wees indien jou “klink” na “weerklink” verander. Onthou hoe belangrik kadens in digkuns is: simfoniese digkuns as jy wil. Nie alleen is dit ligte en donker klanke nie, maar ook ‘n ritmiese ervaring.
(Ta rum, ta rum, ta rum pum pum) Die meter is natuurlik nie altyd dieselfde nie, maar jy bepaal dit self en moet dus deurentyd in jou gedig die meter behou. Ek hoop ek het mooi genoeg verduidelik. Kontak my op inkmoderator@gmail.com indien jy enige vrae daaroor het. Mooi vers.
- Vuurvliegieliefde
Ek vind dit moeilik om te verstaan waarom jy besluit het om “vuurvliegie” in jou gedig as ‘n werkwoord te gebruik. Hoe “vuurvliegie” iemand/iets die smart? Jou vers voel (askies in Engels) “Sesquipedalian”. Baie van die woorde wat ingesluit is voel nodeloos. As voorbeeld, net jou eerste sin:
“Splinterduppels vlammetjies vuurvliegie”
Dit is drie woorde wat geen betrekking op mekaar het nie, en selfs minder voorbrand maak vir wat in die volgende sin volg. Wat beteken die woorde? Kontak my op inkmoderator@gmail.com want ek verstaan seker nie wat jy hiermee wil bereik nie.
- dit is al
Jou vers herinner my effe aan Jan FE Cilliers se amper gekyknamige vers.
Ek wil jou vers hier aanhaal en dit so effe grimeer:
“dis die grys wolke, en
winde wat onbeheersd waai:
dakplate gee knarsend mee
al loeiend suig en ruk en pluk
aan alles,
en meesleur dit wat los is
dis die verlatenheid
wat my siel verslae laat
ewige herinneringe braak
in my hart wat aanhou strek,
wat probeer vergewe
dog nooit sal vergeet”
Met ‘n paar klein aanpassings tref die vers. Hierdie is slegs voorstelle en jy is onder geen verpligting om daarvan gebruik te maak nie. Keurige vers.
- Volgens my reëls
Nuwe reëls
Rugby met ‘n sokkerbal,
koronêre omleidingschirurgie
deur ‘n pienkvoet-tjokkertjie,
brei met ‘n koevoet
en koeksuster sonder die soet,
hardloop op die hande
kar-ry op die allooi sonder bande,
kerf met ‘n vurk,
tronke sonder enkele skurk…
so lyk die wêreld,
om maar ‘n paar te noem,
as ons die verwysingsveld
van elk’ en enkele kuns en vlyt
verander, en sonder voorskrif
(soos dit hoort)
by die deur
(nét omdat ons wíl ek kán)
uit te smyt.
My repliek op jou gedig hierbo. Keurige werk.
- Koue vuurherd
Die tipografie keuse hierin is baie eienaardig. Jy laat spasie tussen sinne waar dit eenvoudig net nie funksioneel is nie. Ek is egter nie seker of dit gebeur het terwyl jou werk geknip en plak is om dit vir my te stuur, en of dit werklik is hoe jy dit geskryf het nie. Ek gaan jou egter die voordeel van die twyfel gee. Indien dit wel so geskryf is kan jy dit met my bespreek op inkmoderator@gmail.com
Jou gedig sal werklik baat deur die gebruik van funksionele punktuasie. Maak ook seker dat elke woordkeuse die beste is vir jou gedig.
- Goue graaf
Ek hou baie van jou vers. Die inhoud tree vars intertekstueel in gesprek met die bronteks waarna jy verwys. Wat ek egter glad nie verstaan nie is jou titel. Hoe pas dit by die gediginhoud in? Lieflike vers nietemin.
- Om tyd vas te maak
Ek dink nie dit is die beste weergawe van hierdie vers nie. Dit is lomp en lees nie lekker nie. Die inhoud is myns insiens nie op silwer standaard nie.
- As ek jou gedagtes kon kruis
Die standaard hierin stel effe teleur. Woordkeuse en woordorde sal baat by redigering. Die volle potensiaal hierin is nog nie ontsluit nie.
GOUD:
- Verbode vrugte
Dit is heerlik en sensueel. Jy het pragtige beeldspraak gebruik. Pragtige vers.
- Rou
Dit is n lieflike eerlike vers. Werklik mooi verwoord en keurig aangebied. Mooi gedoen.
- Middelpuntvlietend
Nog nooit is ‘n dronkekabaal so met klas en keur verwoord nie. Dit is onoortroffe en baie mooi aangebied. Jou vers se versorging staan uit.
- Stillewe
Dit is n keurige vers. Die herhaling van die laaste reël uit strofe 1 in die 3de strofe is werklik mooi en getuig van goeie poëtiese oordeel. Mooi.
- My kinderhuisvriend
Keurige vers.
- In ‘n dwelmdraak se kake
Die vers spreek gemeenskaplike euwels aan. Ek dink jy het dit keurig en met nodige sorg verwoord.
MENINGSTUKKE
- Dis hoe dit is
Goeie sosiale kommentaar. Keurige skryfwerk.
- Kunstenaar van jou lewe
Ja, jy hoef vir seker nie die resultaat van jou omstandighede te wees nie. Keurig.
- Vaal is die boervrou se wit
Jou huis is waar jou hart is! Keurig.
- Van die spitse van ekstase
Vir interresantheid: jy gebruik konsuis, maar dit kan ook kwansuis wees, wat “as’t ware” beteken. Toepaslike sosiale kommentaar.
- Die teddiebeer in my bed
Baie interessante meningstuk. Mooi geskryf.
- Vriend of vyand van vryheid
Die impak van woorde moenie onderskat word nie. Keurig.
RUBRIEKE
- Waar vind jy geluk?
Mooi rubriek met toepaslike mening.
- Om met n boer te trou
Netjies en keurig.
- Ons onsigbare helpers
Mooi volledig beredenerende rubriek.
- Daardie verlore sokkie
Heerlike lekkerlees rubriek.
ARTIKELS
- Die lewe sonder reëls
Baie volledige goeie navorsing.
- Die harlekyn
Netjiese nagevorsde rubriek. Mooi.
VERHALE
- Billy
Briljant. Netjiese skryfwerk.
- Lewe sonder grense
Pragtige versorgde verhaal.
- Amper deur die lewe gepooitjie
Mooi ontwikkeling. Keurige werk.
- Die Durfort erflating
Let op spelling.
- Die lang dag
Die storie is keurig. Netjies.
- Swart swerkater en die teddiebeer
Lieflike vonkverhaal.
- Pikkewyn en die horrelpootkalkoenmannetjie
Goeie ontwikkeling. Heerlike verhaal.
- Fynste en voete
Baie netjies, goed ontwikkelde verhaal.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.