Die geheim in die houtkas deur Lynelle Clark
Ek wens ek het geweet wat al hierdie tekens beteken, wonder Paul gefrustreerd. Hy het nou al die boek drie keer deur gelees maar hy kon nog nie uitmaak wat die tekens in die kantlyne beteken nie. Daar is geen aanduiding in die boek wat enige lig werp nie. Hy het die boek weer gelees. Die bladsye het egter hul geheime vir hulself gehou. Oupa se handskrif versier ‘n groot gedeelte van die bekende storieboek se kantlyne maar tot dusver kon hy nog nie kop of stert daarvan uitmaak nie. Maar tog is daar iets wat karring aan hom wat wil deurskemer maar hy kan net nie sy vinger daarop lê nie.
“Hoe voel jy my kind?” vra ma en loer bekommerd verby die kamerdeur na waar Paul op die bed lê en lees. Die notaboek lê argeloos langs hom. Vol geskryf van sy eie berekeninge maar is nog nie nader aan ‘n verduideliking nie.
“Ek is okay, ma.” Antwoord hy ongeergd. Hy was nie lus om nou met sy ma te praat nie. Vandat hy die boek gister tussen sy oupa se besittings ontdek het was hy vasgenael op die bed. Die boek die enigste geselskap wat hy soek.
“Kom eet asb, die kos is al koud.”
“Ek is nie honger nie ma.” Ma Riette stap die kamer in ongeag haar seun se barse houding. Sy het geweet dat die nuus van haar pa Paul sou vang. Hulle het geweet hy was op sy laaste maar Paul, wat erg oor sy oupa was het dit die swaarste gevat. Maar vandat hulle die tas van die begrafnis af gebring het was Paul behep met die boek. ‘n Boek wat nooit vêr van pa Arnold was nie. Van al haar pa se besittings wat eweredig verdeel was tussen haar en haar broer, Arno, was die tas en boek bemaak aan Paul. Sy het geen benul hoekom nie maar Paul het nog nie van daardie bed af beweeg vandat hulle van die begrafnis af gekom het nie.
“Jy moet iets eet, om so te sit in jou kamer is nie goed nie.” Sê sy beslissend en vat die boek, blaai vinnig deur die blaaie en sit dit neer op die bedkassie. Die inhoud van die boek duister vir haar.
“Oom Arno is ook hier, so kom nou.” Hits sy hom aan.
“Aag ma, rerig?”
“Ja.” En sy verlaat die kamer. Paul sit verergd regop, vee met lang vingers deur sy kort hare en spring dan van die bed af. As ‘n laaste gedagte neem hy die boek en knyp dit onder sy arm vas. Miskien sal sy oom weet waaroor die boek gaan. Hulle was baie naby aanmekaar. Oom Arno het ook die familie besigheid gehardloop. Hy stap die lang gang af en stop voor die embuia-houtkas in die gang. Die was ‘n erfstuk van oupagrootjie en staan, vandat hy kan onthou, op dieselfde plek. Paul kan nie onthou dat hy al ooit die kas oop gesien het nie en wanneer hy daaraan gevoel het was dit gesluit. Die sleutel moes weg geraak het lank gelede, volgens ma wanneer hy gevra het. Soos altyd vryf hy liefdevol oor die gladde tekstuur en geniet die reuk daarvan. Dan staan hy doodstil. Hy kon sweer hy het iets gehoor en druk ‘n oor teen die kasdeur. Hy hou sy asem op en luister fyn maar hoor niks. Skielik ruk die kas en dan hoor hy ‘n gil. Baie dof maar dit is tog daar. Weer druk hy sy oor daarteen en luister met opgehoue asem maar dit was tjoepstil. Verbaas pluk hy aan die deur maar die bly onbeweegbaar. Ek moes my verbeel het dink hy na ‘n tyd.
Toe hy wegstap gaan die kasdeur op ‘n skrefie oop en dun vingers krul om die deur. Donker oë glinster in die donkerte en verdwyn dan skielik. Geruisloos klik die kas deur toe en verberg sy geheime vir enige nuuskierige persone.
“Hello Paul,” groet sy oom hom ietwat stroef. Sy pa se dood was vir hom ook swaar. Paul het van gister af die gevoel gekry dat sy oom iets vir hom wou vertel. Elke keer was hulle egter in die rede geval deur familie wat wou gesels.
“Hi Oom Arno.” Groet hy ook, net so stroef. Skielik besef Paul hoe honger hy is en help homself onmiddellik aan ‘n sny vanielja koek. Toe hy by die tweede hap kom stop sy ma hom vinnig, “Ag nee man Paul. Kan jy nie ‘n bordjie onder jou hou nie? Kyk hoe lyk die mat nou.” Verleë vat hy ‘n bordjie met die tweede hap alreeds afgebyt. Soos ‘n stofsuier verslind hy twee groot snye en sluk dit dan af met ‘n glas melk. Die heeltyd hou sy oom hom dop terwyl hy self happie vir happie ook ‘n sny koek eet. Toe hul albei klaar is wys sy oom hom om hom te volg. Met die boek nog steeds onder sy arm vasgeklem stap hulle na die studeerkamer toe. Oom Arno stop voor die groot wêreldkaart en bestudeer die inhoud daarvan. Eers toe Paul langs hom kug kyk hy na hom.
“Ek sien jy het die boek saamgebring?” sê-vra hy en Paul knik sy kop. “Jy wonder seker oor die boek?”
“Ja,” en hou die boek voor hom uit. Teen die tyd ken hy die boekomslag baie goed. Dit is een van sy gunsteling stories wat Oupa altyd vir hom gelees vandat hy verstand het. Nou het hy die boek geërf en hy wonder oor die snaakse inskripsies daarin. Die geïllustreerde boek is vol kortverhale van gevegte tussen weerwolve en vampiere. Daar is gargoyles in geveg met weerwolwe, selfs ‘n verdwaalde feëtjie of twee. Jagters wat beide jag, en die samewerking tussen Weerwolve en die Jagters wanneer hulle die gevaarlikste Vampier moes vastrek. Elke storie hou jou gevange en daar was tye dat hy en sy maats dit selfs uitgespeel het.
“Jou oupa het ‘n baie interresante lewe gelei. Daar is slegs twee mense wat daarvan bewus was. Vir die res van die wêreld was hy ‘n verkoopsagent. Sy hele lewe was gewy om ander te help maar nie soos wat jy sal dink nie.” Sy oom kyk om hom rond, loop na die deur, kyk uit en maak dan die deur toe.
“Kom sit hier en ek sal verduidelik.” Por hy Paul aan en hyself neem stelling in oorkant hom in ‘n gemaklike stoel. “Wat ek jou vandag gaan vertel gaan jy nie glo nie maar ek kan jou verseker dit is waar. Alle mans in die Slabbert stamboom het hierdie bepaalde gawe wat oorgedra word die oomblik wat een weg val. Die geheim, indien dit uitkom, kan mense se uitkyk verander van die wêreld om hulle. Verstaan jy Paul?”
“Nie rerig nie.” Antwoord hy, verward met die inligting.
“Jy is nou 16 jaar oud, reg?”
“Ja.” Antwoord hy met ‘n klein stemmetjie. “Ek het gister verjaar.”
“Dit is reg, ja. Nou onthou ek. Baie geluk Paul.” Oom Arno kom soms verstrooid voor, seker die rede dat hy ook nog nie getroud is nie, dink Paul.
“Dit is gewoonlik die ouderdom wat ons in die familie besigheid ingetrek word. Eendag sal jy jou seun moet vertel maar vir nou mag jy glad nie met iemand daaroor praat nie.” Sonder om te wag vir reaksie los hy die volgende bom, “Wat kan jy onthou van jou pa?”
“Nie veel nie.” Verklaar hy stotterend. Hy bestudeer sy oom nou van nader en leun vorentoe vol afwagting oor wat hy vandag gaan leer.
“Oupa het gevoel dat dit reg sou wees om Jaco in te trek en moes in die vertroue geneem word. Ongelukkig het dinge nie so goed uitgewerk nie en hy is dood. Maar meer daaroor later.” Paul kon die tyd goed onthou. Hy was ses jaar oud, sy ma was swanger toe hulle die nuus gekry het. Sy pa het baie geheimsinnig voorgekom ten minste ‘n jaar voor sy afsterwe. Wanneer hulle daaroor gesels het, het dit gewoonlik geëindig in ‘n bakleiery. Sy ma het baie daaroor gepraat agterna, heeltemal oorbluf met die gebeure. Sy dood was onverklaarbaar en sy ma het die baba verloor weens die skielike skok. Sedertien was hulle alleen met oupa en Oom Arno wat deel geword het van hul lewe.
“Ek glo dit was omdat hy nie die erns van die geheim verstaan het nie en hy ook nie bloedverwant was wat hom sy lewe gekos het. Hoe dit ook al sy, die geheim moet nou aan jou oorgedra word en dit is jou plig om dit stil te hou. Verstaan jy?”
Paul kon net sy kop knik, verstom oor die openbarings. Oom Arno staan op en neem die boek wat nou op die lessenaar gelê het. Vir ‘n oomblik staar hy na die boek, maak dit dan oop en blaai na die eerste bladsy. Met ‘n hand op Paul se skouer het hy die boek vir Paul gegee.
“Alles wat ons van hier af gaan bespreek sal jy vir jouself hou en nooit aan enige ander persoon verklaar nie, stem jy saam?”
Paul kyk na sy oom, stom geslaan. Wat kan die geheim wees? Nuuskierig knik hy.
“Beteken dit jy stem saam, Paul? Jy moet vir my sê of ons vergeet dat hierdie gesprek ooit plaas gevind het.”
“Ja,” kry hy stotterend uit.
“Wat as ek vir jou vertel dat die stories in daardie boek nie stories is nie maar die reine waarheid?”
Paul kug ongemaklik en wonder wat sy oom gerook het. Die goed is fiksie en nie waar nie.
“Kom saam met my asb.” Sê Oom Arno gebiedend en hy stap dadelik na die deur sonder om vir Paul te wag. Paul hardloop agter sy oom aan, Oom Arno staan by die kas en is besig om met die slot toe hy by hom aansluit.
“Jy het verstaan, geen woord hieroor selfs nie eers jou ma nie.”
Paul kyk na die kas dan na sy oom en se duidelik, “Ja.”
Die deur klik oop en sy oom stap deur. Paul volg hom haastig.
Die deur klik geruisloos toe. Paul het dit nie eers agtergekom nie want sy oë is vasgenael op die toneel voor hom. Dit was asof die boek hiervoor hom skielik lewe gekry het.
Arno gil op hom, “Sak af, gou!”
En ‘n gargoyle vlieg oor sy kop. Sy kloue slag gereed om sy slagoffer te vang. Uit die hoek van sy oog sien hy ‘n flits, maar hy was seker sy brein was besig om met hom te speel. Dit kan nie wees nie. Die vlymskerp kloue mis hom rakelings en hy val op die grond neer. Sy oom gryp sy arm vas en sleep hom terug in die kas in. Hulle rol gelyktydig uit en Arno druk die kasdeur toe met die tip van sy skoen. Maar nie vinnig genoeg om ‘n vinger in dit toe te slaan nie. Verstom staar beide na die vinger en dan verander dit in klip die oomblik wat dit land op die vloer.
“Ek glo dit nie.” stotter Paul uit.
“Dit is van nou af jou geheim, die kas jou toegang tot jou nuwe lewe. Beskou dit as jou eerste les.”
Net daar het Paul geweet sy lewe het onherroeplik verander.
Kopiereg voorbehou
@LynelleClark2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.