Uh-uh, nee dankie!
(Woordtelling : 1007)
Ouer word is LEKKER! Verby is daardie dae toe ek Moeder se voorskrifte van die lewe moes glo en streng navolg, want as ek dit nie sou doen nie, was die hel (los), my voorland. Na vele dekades se onnodige dra aan die skuldlas wat ʼn ander persoon in my hande geplaas het, is ek uiteindelik daarvan vry. Heeltemal, absoluut, onbeskaamd vry! Nooit weer hoef ek dinge te doen of te glo omdat iemand anders dit so voorskryf nie.
Saam met moedersmelk het sy my vertel dat as my oë in die oggend oopgaan en my eerste gedagte is nie by Jesus nie, en die eerste ding wat ek doen is nie Bybel lees en bid nie, dan is daardie ander ding my afgod. Uhm, nee, dit is nie die waarheid nie.
Sy het gesê dat Sondag rusdag is, en ALMAL moet dit streng nakom. Op pad kerk toe ry ons verby iemand wat gras sny. Moeder was baie omgekrap daaroor want hy werk nou so wragtag op die heilige dag. Sy het seker in die stilligheid ook vir sy siel gebid. In my tienjarige onskuld wou weet dat indien hy na die kerk op die hoek gaan wat Saterdae bymekaar kom, dan het hy mos die vorige dag sy rusdag gehad. Skynbaar het hierdie haar ʼn bietjie aan die dink gesit en laat besef dat wanneer ʼn persoon ʼn ding anders doen, hulle nie noodwendig verkeerd is nie. Jy moet net nie sonde doen nie…
Sy het my geleer dat ek elke moontlike kerkdiens, Sondagskool, Bybelstudie, en enige ander kerklike byeenkoms moet bywoon. Daar was nie wegkomkans nie, maak nie saak hoeveel ek geprotesteer het nie. Vandag sê ek nee dankie want as dit teen jou sin doen, is dit beter om glad nie te gaan nie.
Moeder het my vertel dat Jesus kan sien wat ek doen en as ek “stout” is, dan is daar net een breë pad vir my en dit lei na ʼn baie warm plek wat nooit gaan ophou brand nie. Ek het geen idee of die vrees groter as die skuldlas was nie, maar dit het my in my spoor laat trap. Wie wil dan nou nie hulself op die smal paadjie saam met die heiliges bevind nie? Daardie prent met die smal en breë weg het in vele huise gehang, so die prentjie was goed ingebrand.
Sy het my vertel dat selfs al doen ek niks, al was ek die hele dag besig om in te kleur, lappies geborduur, en het lekker storieboek gelees, dan het ek steeds sonde gedoen en daarom is ek skuldig. Ek het nie nodig om lelike goed te dink of te praat nie, jy is skuldig omdat jy ʼn mens is en jy moet van jou sonde gered word. Uhm, nee. As dit vir jou werk, wonderlik. Teen hierdie tyd weier ek om skuldig te voel oor iets wat ek nie gedoen het nie. Daardie klip het ek lankal neergesit want dit maak nie sin dat jy skuldig is oor iets waarin jy geen aandeel gehad het nie.
Sy het my geleer om elke maand ʼn tiende van my inkomste te gee, en ja, ek het dit gedoen, tot ek gesien het hoe ons kerk met daardie swaarverdiende geld mors. Wanneer jy jouself in ʼn posisie bevind waar die maand groter as jou salaris is en jy soms bekommerd voel dat daar gate is wat toegestop moet word met geld wat nie bestaan nie, raak hierdie ʼn moeilike saak. Toe ek beleef hoe die kerk daardie swaarverdiende geld verkwis op onnodige goed, het my moertjie bietjie dik geraak. So het ek een jaar reguit gesê dat ek daardie tiende eerder aan die plaaslike SPCA sou gee as om die kerk se oorvol skatkiste te vul. Dit was die wonderlikste jaar van my lewe, en heel waarskynlik ook die een waar ek begin het om my stadig van daardie voorskrifte los te maak.
Terwyl ek as ʼn amateur skrywer by die kerk diens gedoen het, was my opdrag om by die mense uit te vind hoe hulle hul geloof in hul stokperdjie uitleef. Omdat ek dit nie verstaan het nie, het ek dit nooit gevra nie. En omdat ek nie ʼn Christen/ Boeddhis/ ongelowige/ satanis is terwyl ek verf op ʼn doek gooi nie, kon ek nie die verband tussen ʼn stokperdjie en jou geloof sien nie. Asseblief, sal iemand dit asseblief met prentjies en byskrifte verduidelik?
ʼn Wyse vrou het eendag gesê dat ons sedert geboorte met allerhande idees gebombardeer word. Sommige daarvan is reg, maar die oorgrote meerderheid is niks anders as hul belewenis wat hulle op jou afdruk nie. Jy word dus eintlik ʼn verlengstuk van jou ouers se idees waaraan hulle so getrou vasklou, en omdat jy nie van beter weet nie, glo jy als wat aan jou opgedis word. Hulle het dit by hul ouers geleer, so hulle dra dit weer aan jou oor. So gebeur dit dan ook dat jou kennis maar taamlik skeefgetrek is teen die tyd wat jy die huis verlaat. Eers wanneer jy geleentheid kry om vir jouself te dink en goed uit te pluis, begin jy agterkom dat baie van daardie voorskrifte maar net ʼn spieëlbeeld van hul eie vrese is.
Soms, eintlik dikwels, dink ek dat ons uitgediende idees met ons saamsleep omdat dit vir iemand anders gemaklik voel. My sibbe se idees oor die lewe is dramaties verskillend van my eie, en daarom is ek op die verkeerde pad. Ek dink ook hulle is op die verkeerde pad, maar sê dit liefs nie hardop nie.
Jy het een lewe om te leef, en as jy die hele tyd dinge doen volgens die wil en denkrigting van ander, dan leef jy nie jou eie lewe nie. Daar is min dinge wat my so bang maak as die moontlikheid dat iemand op sy sterfbed lê en besef dat hy nooit sy eie pad gestap het nie en sy hele lewe lank ander mense se idees uitgeleef het. Dit is niks minder as ʼn tragedie nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek