Jongste aktiwiteit:

KRAGGEREEDSKAP IN KOPENHAGEN

KRAGGEREEDSKAP IN KOPENHAGEN

 

Geskryf deur Fanus Strydom

2 526 woorde

 

 

Jaar:  1990

Land: Swede

Provinsie: Øresund Streek

Stad: Kopenhagen

 

 

By ontvangs meld ek aan by ‘n bloedjong, spookwit meisiekind met pou-pers hare, ‘n ring deur haar linker-neusgat en geen merkbare gevoel in haar onpeilbare, bleekblou oë nie.

“Halo, Fanus Strydom…” groet ek in my beste Sweeds.

Sonder om ‘n woord te uiter deursoek haar dooie kykers my van bo af ondertoe…en gly dan van iewers tussen my naeltjie en my broek se gordel slu af na die rekenaarskerm voor haar. Vermoedelik om my anderwêreldse, onuitspreekbare identiteit iewers in haar rekords op te spoor. Die vlamrooi hanekam op haar vooroor-gebuigde kop maak meteens vir my nog minder sin as die oomblik toe ek deur haar gekonfronteer is by die “Välkommen Bänkskivor”, die “Verwelkomings”-toonbank.

Onwillekeurig wonder ek of die kind waaragtig nie kon sien sy lyk kompleet nes die waansinnige hoenderhaan voor wie se maniese, uit-die-bloute  aanvalle ek alewig moes  wegvlug as kind op die plaas nie?!

Hy sou gereeld (maar altyd onverwags!) vol veglus en onkeerbare eiewaan op my ontblote enkels, of kuite afstorm  vanuit ‘n donker hoek, of omgevalle sinkplaat iewers op die werf. Die ononderhandelbare moord-en-doodmaak-gedagtes oor die jare opgegaar in sy klein, verrimpelde hoenderbrein skaamteloos en argeloos uitgespel in sy twee koeëlronde, kranksinnige kraaloogkykers!

Met soveel spieëls in die vertrek om ons, dat mens selfs jou geheime gedagtes van gister iewers teen ‘n aweregse hoek gereflekteer kan vind, vermoed ek intussen, terwyl sy soek na my naam,  waarom meeste van die ander personeel so oënskynlik verlore en verdwaald voorkom. Meeste staan amper bewegingloos, asof totaal gehipnotiseer, by hulle onderskeie werkstasies  en staar self-vertwyfelend en soekend terug na die onseker spieëlbeeld voor hulle.

“Säg igen…?” neem ek aan sy wil hê ek moet my naam en van herhaal. Ek doen so en haar hanekam verdwyn weer in die skerm in.

In die vertrek om my verstel iemand hier-en-daar elke nou-en-dan iets aan hulleself, maar vries dan eers weer onmiddellik om die resultaat in die onseker terugkaatsing voor hulle te evalueer. Een of twee drentel rigtingloos rond, skynbaar blindelings opsoek na hom/haarself iewers tussen die nimmereindigende spieël-hallusinasies en verwronge refleksies oral om hulle. Miskien geheimsinnig verskuil in die irriterende, aan-en-af-flikkerende raam van ‘n ooglopend-gekopieërde, moderne kunswerk.., moontlik agter een van die grysgrou, metaalblink wasbakke teen die anderkantse muur…of dalk tussen die rye en rye bottels, buise en blikke uitgestal agter die diggeslote glasdeure van die oordadig-verligte vertoonkaste langs my in die aankomslokaal.

Terwyl die perskop ontvangsdame lusteloos rondvroetel met haar muis, merk ek op dat almal, sonder uitsondering, donkerbrille dra. Die triestige, Europese winterweer ten spyt. Party s’n reusagtig groot en padda-agtig, soos naaldekokeroë, voor hulle gesigte uitgestulp. Ander weer gluur agterdogtig en onheilspellend deur klein, futuristieste skrefies glas/perspex/plastiek wat (skynbaar baie pynlik!) bo hulle ore vasgeklem is. Sommige kan klaarblyklik nie kies tussen die twee nie, en dra daarom altwee: een voor die oë en die ander een kierts-regop op hulle koppe staangemaak, soos antennas soekend gerig na ‘n vreemde planeet iewers baie vêr in die buitenste ruim.

 

“Straaidum…?” hoor ek haar onseker prewel en besef ek moet haar eerder nie probeer help nie.

 

Niemand het dieselfde haarstyl nie. Een of twee paradeer uitdagend rond met kaalgeskeerde, blinkwit, snoekerbalkoppe. Klaarblyklik oorgehaal en slaggereed vir baklei, betoog, of argumenteer ten gunste van gelykheid, anti-rassisme, groen-energie en enige-iets dergeliks. Ek het onmiddellik simpatie met hulle oënskynlike ongeduld, want dit moes uitermate geduld, waagmoed en kosbare tyd gekos het om hulle koppe so totaal en al kaal gestroop te kry van enige haar, stoppel of dons.

Sommige pronk weer uitspattig met die ganse reënboog bo hulle trotse koppe uitgespuit. Vermoedelik om aan te pas by die oordadig-aangeplakte grimering op hulle uitdrukkinglose nar-gesigte. Hier en daar verkies een moedig om sy/haar innerlike konflik oop en bloot ten toon te stel, met die hare aan die eenkant van sy/haar kop in duiseligwekkend-ingewikkelde patrone beskeer, terwyl die anderkant totaal ongetem en verwaarloos agtergelaat is om nes te maak nes dit wil.

 

Voor my by die toonbank soek poukind steeds onsuksesvol na my op haar skerm…en blaas ‘n groot, deurskynende kougomborrel deur twee pikswart lippe. Ek skrik toe die ding meteens in haar gesig ontplof, maar sy is blykbaar gewoond daaraan, want sy suig die taai drel moeiteloos terug in haar gedroogde-pruimmond in en soek gelate voort.

 

Intussen verkyk ek my aan die ander se hare. Alle kleure, style (én geure, vermoed ek!). Party woes en deurmekaar en totaal oorgelaat aan die natuur se onvoorspelbare buie. Ander weer noukeurig en met militêre presiesie ingedwing in kunsmatige vlegsels, knope en verskeie ander fassinerende formasies in.

 

Dit verbaas my gladnie dat almal, sonder uitsondering, in swart geklee is van kop tot toon, nes die res van die stad en die volk in die strate daarbuite nie. Wat my egter wel verstom is dat party dit waag om kaalvoet oor die koue, dofgevryfde sementvloer te sweef, ten spyte van die ooglopende realiteit dat hulle hulself midde-in ‘n uiters gevaarlike werksomgewing bevind met ‘n verskeidenheid elektriese apparate, ontblote koorde en vryvloeiende water die hele plek vol! Ander (miskien tóg wel in die geheim paranoïes oor die daadwerklike waarskynlikheid van elektriese skok en moontlike teregstelling), is weer paraat gestewel en gespoor in dikgesoolde, pikswart stewels van verskillende hoogtes, diktes, breedtes en lengtes.

 

Van agter haar oordadig-beligte beheerstasie wil dit skielik lyk of daar tog wel tekens van lewe tussen poukind se wenkbroue mag bestaan. Sy leun ingenome terug in haar futuristiese, kunsleer-stoel en bepeins vir ‘n oomblik kouend haar vermoede dat een van haar pikswart naels moontlik my volksvreemde identiteit in haar rekenaar opgespoor het…

Kortaf vra sy sonder om op te kyk:

“Straaidum?”

“Dis reg!” knik ek gretig my kop en glimlag dankbaar my beste Boerseungroet, terwyl ek vergeet om te onthou dat ek myself in ‘n vreemde, annerwêreldse land bevind.

“Főrlåta (Askuus)…?” bevraagteken twee agterdogtige kraaloogkykers skielik weer opnuut my bestaan van onder hulle vlamrooi hanekam.

“No sorry, yes!…Yes, its me.Straaidum!” sien ek verskeie weergawes van myself na myself terug-beduie in oorgretige gebaretaal in die spieëlmuur agter haar, asof sy gehoorgestremd ook is. Verleë besef ek dat dit dalk ‘n beter idee sou wees om eerder my paspoort aan haar te wys. Ek begin naarstigtelik daarna soek in my baadjiesak om haar gerus te stel. Intussen hou sy een bleek hand, met die palm na bo gedraai, na my toe uit. Asof sy bedel vir ‘n aalmoes, of dalk omkoopgeld?! Met die naels aan haar ander hand begin sy ongeduldig (en in kodetaal!) op die toonbank voor haar tik. Twee dooie oë kyk verby my opsoek na iets, of iemand in die spieël-malemeule agter my. Uiteindelik hou ek, soos ‘n afwagtende asielsoeker, vinnig my paspoort na haar toe uit en hoop vir die beste.

Sy sis egter net, nou duidelik meer geagiteerd:

“Kupong…?”

Dit neem my ‘n rukkie om te besef sy bedoel “Geskenkbewys”, terwyl ek half-benoud probeer uitmaak wat ek moontlik verkeerd kon gedoen het.

“O yes, sorry. Yes!!”

Ek begin weer van vooraf grou in my baadjie se binnesak, díe keer die ander een, opsoek na die korrekte dokumente vir toelating tot haar vreemde wêreld en gewaar die klein, blink niekerbôl aan ʼn pennetjie deur ʼn gat in haar tong. Die ding kry meteens ‘n lewe van sy eie en begin dreigend klik teen haar ontblote ondertande.

“Genade?!”wonder ek waarvoor ek myself ingelaat het, terwyl ek dringend voortsoek.

 

Toe ek uiteindelik en hoogs-verlig die gehawende, half-verfrommelde bewysstuk na haar toe uithou, pluk sy dit vennynig uit my bewende hand, bestudeer dit vir ‘n oomblik noukeurig, voor sy dit terstond middeldeur skeur en in die asdrom/robot/ruimtetuig langs haar gooi. Blykbaar het ek genadiglik my vervaldatum gemaak nét voor dit verstryk het. Ek kan nie agterkom of sy saam met my bly, of spyt is nie.

“This way…” beveel sy kortaf in gebroke Engels en marsjeer voor my uit die spieëlbelaaide fantasmagorie in.

 

Ek volg kort op haar gestewelde hakke, onseker soos ‘n lam wat ter slagting gelei word, maar probeer nog een, laaste keer vrede en vriendskap bewerkstellig tussen my en die agressiewe, dood-oog meisiekind:

“Baie dankie!” roep ek agter haar vlamrooi hanekam aan waar dit tot amper by haar beknopte heupe teen haar halfkaal rug aftuimel vloer se kant toe.

Meteens steek sy vierkantig vas in haar spore en tol dreigend om na my toe:

“Did you just call me a donkey…?”

Weer in Engels. Díe keer gladnie meer so ongemaklik, of onwillig nie!

“Verdomp!” wonder ek vies hoekom ons nie van die begin af in Engels kon kommunikeer nie.

Meteens gluur verskeie naaldekoker-oë nou egter skielik beskuldigend in my rigting vanuit hulle onderskeie nesmaakplekke. Gereed om op my af te peil.

Ek waai my hande verwoed voor my, asof ek ‘n swerm woedende bye dringend af moet weer, en stotter verbouereerd:

“No-no…! I’m sorry, no!” probeer ek beduie en verduidelik.

“It’s Afrikaans for “”Thank You very much…!””

“African…?” sien ek sy bevraagteken steeds my beweerde herkoms, en voel hoe sy my weereens agterdogtig op-en-af bekyk, terwyl sy nog ‘n hanetree nader gee…

Ek retireer een tree en probeer “dankie” in Sweeds:

“Tack…?!”

Maar sy pik reeds driftig na my keel:

“Then why are you not black?!”

 

Genadiglik het my jare se ronddrentel die wêreld oor my gewoond gelaat met díe spesifieke vraag en antwoord ek vinnig:

“Well, I’m brown…?!” probeer ek red wat te redde is, terwyl ek trots na die gevolg van vele sonseisoene op die Kaapse strande op my gesonde, sonbruin voorarms wys. Ek is amper seker daarvan dat sy my nou sal glo.

“Gmf!!” oortuig sy my egter dat sy nie oortuig is nie.

Meteens verlang ek terug huis toe. Na my mense toe…en na my taal!

 

Sy onderbreek my heimwee toe sy in ‘n skril stem roep in die rigting van een van die soekers iewers agter in die spieëlbelaaide vertrek:

“Olga…?! Olga! His yours…!”

Olga en al haar verskeie, gereflekteerde alter-egos hoor haar egter nie en strompel sleepvoet voort tussen ‘n paar reusagtige, pienk, plastiek-gestoffeerde stoele deur opsoek na net hulle weet wat.

“Olga!!” skril hoenderhaankind weer bo die polsende techno-klanke uit en kry díe keer die reaksie waarop sy aandring.

Iewers vanuit die pienkstoel-doolhof kom Olga haastig aangeskuifel en verloor meeste van haar alter-egos agter haar.

Asook haar sonbril.

 

“I’m so sorry!” val sy in Sweeds voor ons voete neer en begin naarstigtelik soek na die verlore mode-bykomstigheid om my kuite.

Poumeisie rol haar lewelose oë om in haar skedel en los my met die verstrooide pateet, want haar volgende slagoffer het intussen reeds by haar kontrolepunt aangemeld vir haar straf. (of moontlike teregstelling!)

 

Ek tel die duur bril versigtig op, inspekteer dit vir enige skade en hou dit dan laggend na Olga toe uit:

“Hi,I’m Fanus!” probeer ek kennis maak. En vrede. Deeglik bewus van die feit dat ek uiteindelik van aangesig tot aangesig staan met die wese wat my onder haar hande gaan neem.

Sy vat die bril versigtig en met amperse eerbied uit my hande uit en plaas dit behoedsaam terug in sy staanplek bo haar kop. Toe vra sy:

“Vad heter du…?”

Sy leun nader asof sy wil seker maak sy hoor my reg.

“Fanus. ” sê ek weer.

“Famous…?!”

Ek sien hoe die “Why haven’t I heard about you”-frons oor haar voorkop uitplooi en vir ‘n ‘n oomblik dink ek ek gewaar ‘n hoopvolle flikkering van intelligente lewe, maar dan vervaag die vlammetjie egter weer vinnig in die niet.

“Never maaind.” antwoord ek in my beste Boere-engels.

“This way…” wys sy na een van die reuse, pienk plastiek stoele.

Ek bars onwillekeurig uit in ‘n koue sweet!

“Ta av dina skor…” beduie sy dat ek my skoene moet uittrek.

Nou sweet ek onbeskaamd.

 

Asof vanuit die niet verskyn daar meteens voor my ‘n man/vrou/buiteruimtelike wese met ‘n reënboog om sy/haar/dit se kop en stoot vir Olga onseremonieël eenkant toe.

“Hello sweetie!” hyg hy/sy/dit vermakerig in perfek-genuanseerde Engels en flits ‘n uitlokkende, bloedrooi grynslag in my rigting. Dan val dit/sy/hy voor my voete neer en begin naarstigtelik torring en trek aan my dubbelgeknoopte skoenveters met oordadige-lang, aangeplakte naels.

Vir ‘n oomblik snak ek benoud na my asem, want die suur-soet parfuumwolk wat na my toe opstyg vanuit die reënboog tussen my oopgesperde bene is oorweldigend!

“Oh my, what big feet you have!” hoor ek Reënboogkop na my toe opterg, terwyl sy/dit/hy gedetermineerd voortstoei met my hardnekkigge veters.

Intussen merk ek op dat haar/sy/dit se aandag beslis nie meer nét op my deurgetrapte stapstewels gefokus is nie, maar eerder iewers hoog  teen my bewende en ontblote dye op…!

Instinktiewelik pluk ek my bene na my bors toe en vat my eie veters in my eie hande vas:

“I will do it…” dreig ek vriendelik, dog ferm, terug na Reënboogkop toe met my beste, Boere-glimlag.

“Okay darling! Just thought I could help!” animeer hy/sy/dit vermakerig om my te oortuig van sy/dit/haar se onskuld, maar gluur my terselfdertyd veragtend aan van onder haar/hom/dit/sy se blinker-belaaide, vals, oogwimpers.

“No thank you.”glimlag ek beslis terug. Dan pluk ek my stewel hardhandig van my moeggeloopte regtervoet af. Vir ‘n kortstondige, ironiese oomblik is ek opreg dankbaar vir die luierende parfuumwolk om ons, want ek weet wat heel moontlik volgende gaan kom. Dan stroop ek stadig die dik wolsokkie van my voet af…

Reënboogkop steier geskok terug en pluk sy ringbedruipte hande na sy gapende mond, asof hy\sy\dit besef hulle het sopas ‘n melaatse aangeraak:

“Oh my God!!”

Olga skuifel bekommerd nader:

“What’s wrong, Karl…?”

“Cathy!” korrigeer hy haar bitsig, voor hy/sy/dit weer in karakter kom en dramaties na my ontblote voet beduie met een, uitgestrekte, bloedrooi-benaelde vinger:

“Have you ever seen anything like that ?!!!”

Olga verstel haar donkerbril na die “op”-posisie bo haar kop en leun vorentoe om my gehawende toonnaels van nader te inspekteer…

“Xxxxn !!” uiter sy verbaas ʼn Sweedse woord wat ek nie hier durf vertaal nie, maar dit rym min of meer met “Yuck.”

“You’re gonna need a grinder for that, my dear!!” spoeg Reënboogkop sy afsku in haar rigting, voor hy terstond op sy hoëhakstewels omtol en so vinnig as moontlik wegtrippel van die afgryslike gesig agter hom af.

 

Olga het haar baie goed van haar taak gekwyt, hoewel in absolute (heel moontlik geskokte) stilte.En gelukkig sonder om ooit ʼn hoekslyper, of enige ander vorm van kraggereedskap te moes gebruik.

Ek het uiteraard deurentyd baie simpatie met haar gehad, terwyl sy gewoeker en gewerskaf het met my deurgetrapte, oor-die-wêreld- heen-geloopte, Boere-tone. Om die ure om te kry het ek myself deeglik en vanuit alle moontlike hoeke en kante bekyk in die vele spieëlbeelde van myself vanaf my verhewe, pienk plastiektroon. En, net daar op daardie pienk, plastiekstoeltroon in Kopenhagen,  het ek tot ‘n beslisde en klinkklare gevolgtrekking gekom:

 

Ek is inderdaad intens tevrede en gelukkig met myself. Presies netsoos wat ek na myself terug-geglimlag het vanuit die dolle spieëlmalemeule om my. Ek wil niks aan myself verander nie: nie my “looks” nie, nie my styl nie, nie my voorkeure of afkeure nie. Niks!

Maar, het ek myself tog net daar en dan iets voorgeneem:

Ek sal nooit, ooit weer toelaat dat ʼn totale vreemdeling met my moeggeploegde Boere-toonnaels staan en peuter nie…!

 

 

©Fanus Strydom 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed