Die groen oorlog
“Now I am become Death, the destroyer of worlds.” – Bhagavad Gita
Hulle is al beskryf as parasiete. Hulle is nie. Parasiete is suksesvol want hulle maak nie die gasheer dood nie. Hulle word deel van die gasheer; laat die gasheer alles doen om die parasiet aan die lewe te hou en te help reproduseer. Nee. Hulle is meer soos ‘n virus – ‘n virus soos Ebola – wat verwoesting saai en geensins ‘n poging aanwend om die gasheer lewendig anderkant te laat uitkom nie. Dit is egter hoekom baie virusse nie suksesvol is nie. In die poging om so vinnig as moontlik te versprei, veroorsaak hulle ‘n verskroeide aarde en hulle het op die nêrens meer heen om te gaan nie, en gaan tot niet.
Dit het begin, lank voor ek nog bestaan het. Aanvanklik was dit ‘n simbiose. Hulle het ons geëet en wanneer hulle doodgaan het, het hulle oorskot ons gevoed. Hulle het ook gehelp dat ons reproduseer. Ons het ons vrugte vrylik gegee. Ons het onsself omring met die gawe van vrugte, as vooruitbetaling dat hulle ons saad versprei. Almal was gelukkig.
Daar het egter iets vreemd gebeur. Een van die spesies het selfbewus geword. Hulle het georganiseerd geraak en gereedskap begin maak. Hulle het ons in lande geplant en geoes en weer geplant. ‘n Oneindige siklus. Dit was egter steeds ‘n regverdige verhouding. Hulle het steeds aan die einde van die dag doodgegaan en ons gevoed. Hulle het ons selfs gevoed terwyl ons lewendig was sodat ons meer vrugte sou dra. Ons het genoeg voorsien om aan elke mens en dier se behoeftes te voldoen Maar nie genoeg vir die gierigheid van die mens nie. Dinge het verander toe hulle ons grootste vyand ingespan het – hulle het vuur begin beheer. Eers het hulle ons afval gebruik om nóg en nóg vuur te maak. Maar die vuur het ons ou hout vinniger verteer as wat ons die ou takke kon afgooi. Toe begin die mense om ons af te kap om méér en méér vure te maak. Hulle het ons lyke verbrand om hulle warm te hou in die nag, skuilings te bou en wapens te maak. Hulle het baie vinnig meer geword. Vinniger as wat ons kon voorsien. Soos wat hulle die wêreld geplunder het, en hulpbronne te min geraak het om ‘n gemeenskap te dra, het hulle oor die wêreld begin versprei. Hulle het teen ‘n ongekende tempo vermeerder en naderhand die hele wêreld bewoon. Hulle het woude afgekap om plek te maak vir hulle geboue én om ons te verbrand. Die virus het die skrikbewind van vernietiging en verwoesting begin.
Ons het bly hoop dat hulle sal besef wat besig is om te gebeur. ‘n Paar van hulle het gesien wat besig was om te gebeur. Hulle het by hulle medemense en politikusse gepleit.
“Geen spesie – lewend of dood – het ooit soveel beheer oor alles op aarde gehad nie. Dit is óns verantwoordelikheid om die aarde met groot sorg op te pas. Ons toekoms lê in ons eie hande. Nie net ons s’n nie, maar ook dié van alle ander lewende wesens met wie ons die aarde deel.”
Die gierigheid van die mense in beheer het die ingeligtes se stemme stilgemaak.
“Daar is genoeg vir ons almal. Julle huil oor niks. Hou op met julle bangmaakstories.”
En die ingeligtes is verneder en weggejaag.
Ons het besef dit was óns taak om iets te doen. Met behulp van sy sogenaamde intelligensie, het die suksesvolste dier die wêreld uitgebuit om voedsel en brandstof te produseer vir ‘n groeiende bevolking. Nog en nog en nog mense. Hulle het ons – alles wat leef – verwoes en opgebruik ten bate van húlle bevolking. Dit was tyd om iets te doen omtrent húlle bevolking.
Die oorlog het stadig, byna ongesiens, begin. Onkruid het in hulle sypaadjies begin groei en krake gemaak. Struike se wortels het rioolpype ingedring en die pype verstop. Bome se wortels het van onder af mure en paaie begin kraak in ‘n poging te verwoes. Maar hulle was sterker. Met gif en kettingsae het hulle die voorste linie vegters sonder moeite gestop. Ons het besef dat ons mag nie gelê het in verwoesting, soos die mens, nie.
Die eerste herfs het ons ons blare afgegooi. Nie soos elke herfs voor dit nie. Nee, hierdie keer het die immergroen bome en struike ook hulle blare afgegooi. Elke liewe plant wat ‘n blaar gehad het, het dit afgegooi. Die aarde was kaal. Meeste mense het dit aanvanklik nie agtergekom nie. Boere het wel toe daar geen winter oes was nie.
Wetenskaplikes het wéér na die politikusse toe gegaan.
“Kyk! Kyk wat gebeur om julle!”
“Dit is winter. Wat verwag julle? Simpel wetenskaplikes…”
Toe die lente kom het ons egter geen blaar of bloeisel laat kom nie. Aan die anderkant van die wêreld het die plante daar ook hulle blare begin afgooi soos die winter sy ysige kloue begin inslaan het. Skielik was daar niks. Die mense het angsbevange geraak. Al wat ‘n lewende dier was, was geslag om geëet te word, maar binne weke was elke dier en voël dood van die honger. Ons moes hartseer toekyk hoe die insekte, reptiele, soogdiere, amfibieë – alles wat geleef het – sterf. In die oseane en riviere het die visse ook gesterf – van die kleinste vissie tot die walvisse. Dit was brutaal. Maar ons het geweet alles sou weer na normaal toe terugkeer. Ons was die eerste lewe op aarde en het al duisende ander spesies sien kom en gaan. En elke keer het die ons en die aarde bly voortbestaan.
Ongelukkig is drastiese stappe soms nodig om ontslae te raak van ‘n virus.
Dit was minder as 5 maande later toe David Carson probeer opstaan, maar hy was doodeenvoudig net te swak. Waarheen sou hy in elk geval gaan? Al die kosvoorraad was op. Orals was net kaal vlaktes en die verwelkte geraamtes van bome. David het dit nie geweet nie, maar hy was die laaste lewendige mens op die oppervlakte van die aarde. Hy het pynlik in ‘n gemakliker posisie probeer beweeg. Sy asemhaling was diep soos wat sy longe wanhopig suurstof uit die dik koolstofdioksied probeer kry het. David was reg vir die dood. Hy het gewens vir die dood…
Laaste gedagtes het deur sy deliriese brein gedryf. Nutteloos. Te laat.
“My aarde is in puin. ‘n Planeet wat deur die menslike spesie verwoes is. Ons het vermenigvuldig en baklei en verslind en opgeslurp totdat daar niks meer was nie, en toe sterf ons. Ons kon nie ons eetlus of veglus beheer nie. Ons het onsself vernietig. Ongelukkig het ons eers die wêreld vernietig. Soos ‘n parasiet. Nee. ‘n Virus.”
Langs die Amasone rivier, in die gebied wat die mense Brasilië genoem het, begin groen blaartjies uit die magtige bome se takke spruit. In Japan word die wêreld in pienk getooi soos die kersiebome se bloeisels die lig sien. Bye kom uit hul neste en geniet die soet nektar. In Ethiopië skarrel veldmuise oor die landskap en knibbel aan die nuwe groenigheid.
Ek gee ‘n sug van verligting. Ons het hierdie virus uitgeroei. Dis verby.
In die weste van die ou Verenigde State gaan ‘n ysterdeur stadig oop. ‘n Man met ‘n suurstoftenk op sy rug loer versigtig uit. Om hom is spruite wat uit die grond kom en die wêreld in elke moontlike skakering van groen verf. Hy glimlag en draai in die rigting van die bomskuiling.
“Kom! Ek dink dis verby!”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek