Lewenslesse uit Ouma se spens (Silwer – 700 woorde)
Ouma se spens was ‘n heiligdom van smullekker versoekings wat my menigte maal in die moeilikheid laat beland het. ‘n Verbode terrein vir kinders, maar ‘n lushof vol geure en kleure waaruit ek selde kon wegbly.
Die melkkan vol gedroogte perskes was by verre my gunsteling. Ek kon my ook verkyk aan die rakke vol glasbottels met ingelegte, songeel perskehalwes in soetstroop. Die bottels vol tamatie-, druiwe- en kweperkonfyt het my mond laat water vir ‘n stukkie van Ouma se varsgebakte boerebrood. Soms was daar selfs stukkies gedroogte wildsbiltong (as spesiale bederfhappies) in ‘n erdeskotteltjie onder ‘n spierwit vadoek. En vir gaste, altyd ‘n varsgebakte melktert of twee wat die geur van kaneel swaar in die lug laat hang het.
Ek onthou die reuk van anys wanneer ek een van Ouma se lang, spierwit uitgedroogte beskuite met “vlooie” (soos ons dit as kinders genoem het) welbehaaglik in my beker koffie doop, net om te sien hoe dit die koffie gulsig opslurp. Dan praat ek nie eers van die koekblikke vol gemmer- en koffiekoekies waarmee ons vakansietye bederf is nie. Bottels en blikke wat altyd met trots en liefde voor ons oopgemaak is om saam te geniet. Soete herinnerings van oorvloed en dank.
Ouma se spens was soos die weduwee se kruik, altyd boepensvol interessante lekkernye waarmee sy ons met oorgawe kon bedien. “Seëninge, uit die Vader se hand” het sy dit genoem.
Welaf was sy beslis nie, maar haar oop hand en hart, waarmee sy met liefde uitgedeel het aan ander, het die waarheid van “gee en jy sal ontvang” aan ons gedemonstreer.
Soos die jare aangestap het, het Ouma se spens (en dit wat ek daaruit geleer het) mettertyd begin vervaag. Teleurstelling en seerkry het ‘n waslagie oor my menswees gevorm. Ek het toegelaat dat lugborreltjies van onvergifnis skade aanrig onder my toegeskroefde deksel. Alhoewel ek steeds mooi, aanloklike en gesonde vrugte aan die wêreld vertoon het, was daar ‘n “proe verbode” etiket dwarsoor my lewe geplak. Jare het verloop waarin ek myself onwetend verarm en uitgemis het op die seën van “gee en ontvang”.
Die gemors is, vrugte wat besmet raak en té lank toegeskroef bly, begin mettertyd gis. Op ‘n dag, toe ek dit die minste verwag het, het die drukking te veel geraak en die deksel afgeskiet. Al die soetstroop (wat intussen vrot en suur geword het) het oor alles uitgeloop. Dit het ‘n groot, taai gemors veroorsaak wat lank gevat het om op te ruim en skoon te maak.
Met genade van Bo kon ek Ouma se spensherinneringe herroep van “oopmaak en deel”. Besef dat dit gis en oopbarssessies voorkom. Kommunikasie is een van die belangrikste elemente wat ek as mens ontvang het om my binnekant skoon en vars te hou. Nie sommer net algemene verbale brabbelasies nie, maar die ware kuns om my hart (my emosies en hoe ek oor goed voel en dinge ervaar) met ander te kan deel. Vergifnis natuurlik die hoofelement.
Die smaak van my vrug se waarde kan eers bepaal word wanneer ek myself oopmaak en toelaat dat ander daaraan proe. Al my talente en mooiste bedoelings is waardeloos as dit toegeskroef bly.
Ouma bewandel lankal nie meer hierdie aarde nie, maar in haar eenvoud het sy vir ons waardevolle lewenslesse geleer, soos op ‘n Sondagmiddag, wanneer sy ‘n bottel perskes uit die spens gaan haal en oopskroef, het sy ons vermaan: “Moet nooit ‘n moordkuil van jou hart maak nie.” Wanneer sy die beskuitblik oopmaak en met genot toekyk hoe ons dit in ons koffie doop, het sy versoek: “Wees altyd dors vir die regte dinge in die lewe, want dit vul jou menswees en bepaal jou waarde.” Wanneer sy ‘n sakkie gedroogte perskes oopmaak en aan wagtende hande uitdeel, het sy ons daaraan herinner: “Die lewe skil en droog jou soms uit, maar sorg dat jy nooit jou smaak en waarde verloor nie.” Wanneer sy die koekblikke oopmaak saam met middagtee, het sy ons vermaan: “Hou matigheid voor oë, alles waaraan ‘n té is, is nie goed vir jou nie.”
Spensherinneringe wat my telkens laat introspeksie hou, maar ook laat waak oor die toestand van my eie binnemens.
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2022 – OOP projek