Loopdop Doep se Nasaat (Hoofstuk 2)
Dit is eers nadat Sussa vir Duiker so half tot kalmte gebring het en hy weer op sy stoel gaan sit dat ek tot verhaal kom.
Ek is nie heeltemal seker wat nou plaasgevind het nie. Ek sluk die laaste van die bier weg en so in die sluk beduie ek vir Sussa; “Nog een…”
Sy haal die vars glas uit die yskas en skink die glas behendig vol as sy die draught-kraan ooptrek.
Ek kyk na Duiker wat sy kop byna in ongeloof skud. Hy uiter kort-kort ‘n geluid tussen ‘n lag en ‘n snork. Soms klink dit vir my of hy weer in trane gaan uitbars.
Sy growwe stem is byna gelate as hy weer begin praat:
“Kyk na daardie koperplaatjie voor jou. Lees wat daarop staan.”
Dit klink soos ‘n bevel. En as ek dit nie hardop lees nie beveel hy weer:
“Lees dit hardop Kêrel!”
Ek is vasgevang in die oomblik. Daarom lees ek hard en duidelik:
“Loopdop-Doep se hoek …”
Ek gee hom nie kans om weer iets te sê nie en gaan byna met dieselfde asem voort; “… Wat het dit met my te doen? Wie is hierdie Loopdop-Doep?”
Ek spoeg byna die woorde met minagting uit.
Duiker trek sy skouers terug, laat sak sy kop en kyk na my vanuit sy ruie wenkbroue.
“Wat was jou pa se naam?”
“Wat maak dit saak?” Blaf ek in sy rigting.
“Ek sal jou sê wat jou pa se naam was! Dit was Jans du Plessis.”
Daar hang ‘n dikwolk atmosfeer tussen ons. Hy steek ‘n sigaret aan en terwyl hy verder praat vorm die woorde so tussen die rook deur.
“Jou pa was ‘n man wat hard gewerk het. Bliksems hard sê ek jou. Hy het die see geken soos wat geen mens die land kan ken nie.”
Hy vat lang slukke uit sy glas. Vee sy mond met die agterkant van sy hand af. Trek diep aan sy sigaret en beduie vir Sussa met ‘n kopknik om hom te voorsien.
Ek voel nie om iets te sê nie. Ons het nou heilige grond betree. Hierdie Oubaas weet dinge van Pa wat ek nie weet nie. Wat Ma my nooit toegelaat het om uit te vind nie.
Voor hy verder praat, stap ‘n sonverweerde karakter die kroeg binne en gaan sit aan die anderkant van Duiker.
Hulle groet mekaar met die hand en klop mekaar se skouers in stilte.
Sussa staan nader met die nuwe aankomeling se drankie en wag vir hom om te sit.
Duiker stoot sy sigarette oor na hom toe beduie met sy glas in sy hand na my kant toe.
Hy wag tot die man die rook diep in sy longe intrek en hard uitblaas voordat hy praat;
“Skippie, dis Loopdop-Doep se klong daardie.”
Skippie ruk regop asof ‘n slang hom pik. Sy woorde spat oor die vertrek tot teen my vas;
“Not a fok!!”
Hy kyk wantrouig van Duiker na my en dan praat hy met Sussa.
“Het die ou Knol nou sy kop verloor Sus?”
Ek het al agtergekom Sussa is ‘n vrou van min woorde. Sy skud net haar kop.
Dan staan hy op en stap na waar ek sit. Kom staan dig by my en bekyk my op en af. So asof hy vir Pa in my vel soek.
Hy is nog besig met sy besigtigings toer oor my lyf toe Duiker praat.
“Dis hy. Jy kan my maar glo. Ek wou hom nou net van sy pa vertel. Dis goed jy is hier want dan kan jy vir hom sê of ek lieg of waarheid praat.”
Skippie loop in stilte terug tot by sy stoel. Kry sy sit en bekyk my op ‘n afstand net vir ingeval hy iets gemis het.
So asof daar geen onderbreking was nie praat Duiker weer in my rigting.
“Soos ek sê, jou pa was ‘n man wat sy gat af gewerk het. Elke oggend uit see toe, elke aand terug.
Hy het gebruik gemaak van elke druppel daglig. Ons wou saans sommer oorlê, maar nie hy nie.
Ons het hom gespot. Gesê hy maak jou as sissie groot. Maar daar sou nie ‘n aand verbygaan dat hy nie seker was jy is versorg nie.”
My maag raak kliphard. Ek voel hoe die spanning my ingewande vasdraai. As jy my nou vra wat se werk Pa gedoen het sal ek tot my skande moet erken dat ek nie regtig seker is nie. Ek weet hy het iets met bote te doen gehad, maar wat weet ek nie.
Ek is amper te bang om asem te haal. Ek wil vrae vra maar vertrou nie my stem genoeg om dit te doen nie.
Sussa bring vir my ‘n bier sonder dat ek een gevra het. Ek wil protesteer maar sy beduie met haar oë na Duiker.
Skippie beam Duiker se vertelling en Duiker rasper voort;
“Ons het vir hom gewerk. Hy het drie diamant bote gehad. En hy’t ons vir ordentlike mense behandel.
Elke aand saam met ons ‘n dop kom drink.
Maar net een dop.
Hoe’t hy altyd gesê Skippie?”
‘Net ‘n loopdop vir my Sussa, my Klong wag vir sy pa.’
Ek kyk nou openlik na Duiker. Ek wil hom aanmoedig om aan te gaan, maar is bang hy hou op vertel. En daar is so baie wat ek wil weet.
Maar ek is ook bang om te hoor wat ek nie ken nie.
Hoe verwerk mens kleintyd se dinge as jy doelbewus daarvan weggekeer is deur ‘n ongenaakbare, nors, vrou wat jy Ma moet noem.
Moederliefde is nie iets waarvan ek kan getuig nie. Ek is nie fisies mishandel of verwaarloos nie. Maar ek ken nie die sagte arms van ‘n ma om my nie.
Ek ken nie ‘n ma wat se oë met vriendelike liefde na my kyk nie.
Die liefde wat ek van Pa gekry het was sag. Ek kon dit hoor as hy met my praat. Wanneer hy aan my geraak het as hy vir my die “Skaam Sustertjie” van die Sewe Susters in die sterre wys. Dit was egter van korte duur.
So tussen die slukke dop en teue aan sy sigaret vertel Duiker voort.
“Toe hy die dag dood is het sy vrou ons weggejaag. Geskel. Gesê ons suip-gespuis is nie welkom by sy begrafnis nie… Dis toe wat ons daai plaaitjie laat maak het. En terwyl sy vrou hartseer geveins het en hom met vreugde begrawe het, het ons almal net een dop hier kom drink. ‘n Loopdop op Doep.”
Sonder om aanstoot te wil gee probeer ek Ma halfhartig verdedig.
“My ma het swaargekry met my pa se dood en …”
Ek word bars in die rede geval deur Duiker; ‘Ma! Jou Ma!! Se fokken gat man!!
Sy is ‘n regte ou P…”
Hierdie keer word hy deur Sussa in die rede geval en die bar woord smelt weg oor sy lippe.”
“Na, na, na, Duiker! Ons gebruik nie daardie woord in die Kraaines nie.”
Sy druk haar ken in die lug en kyk langs haar neus af na Duiker soos ‘n onderwyseres.
Dan draai sy na my toe en vra verskoning namens Duiker.
Hy laat sak sy kop verleë. Sy oë is onnatuurlik blink toe hy opkyk na my.
“Ek weet sy is al ma wat jy geken het. Maar ek weet ook dat sy nie van jou pa of van jou gehou het nie. Want sy is nie jou bloedma nie.”
Ek voel hoe Duiker se woorde my op die krop van my maag tref. My asem raak weg. Ek voel hoe my oë rek terwyl ek hulpsoekend na Sussa kyk.
© Zymrly 17 Sep 2015
3 Kommentare
-
borrels
Lekker gelees ... sien uit na die res.
-
neels claasen
Zym dit bly n pragsttorie hierdie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Sjoe wat 'n uitklophou slot. Kan nie wag vir die opvolg. Jy bind die leser end-uit.