
My eie persoonlike woorde
Soms probeer ek skryf terwyl ek verstaan
Ware verhale van mensdom se nagemaakte bestaan
Sonder dat oppervlakkige range my hoef te verstaan
My woorde sal verskyn met die waarskuwing van ‘n orkaan
Soms wil ek glo dat tegnologie se intelek my kan ontleed
Daai nommer wat jy langs my naam plaas sal almal vergeet
Maar jaag my dieper, iets binne my is gereed.
Soms weet ek tyd sal verg
aan
Mens aangedrewe wysers wat nommers verstaan.
Grafstene in parke wat hartseer verstaan
Trane op die grond wat dit verwelkomend ontvang
‘n oog vir ‘n oog maak kinders bang
‘n lewe……….vir geld se voortbestaan
Betaal vir jou lewe,
Of jy word beboet
Met lewe se bestaan van bitter-soet
Ek wil loop sonder skoene
In sagte sand van opregte drome
Sonder die stank van menslike krone
Aardse goud hoort dan onder mensdom se tone
Ek kry jou daar, ek bou solank Rome
Daar waar Diamante ‘n vorm is en verdwyn uit ons idiome
Ek wil tik sonder om te skryf
Ek wil skryf, ek wil skryf, ek wil skryf soms wil ek ‘n potlood gebruik
sonder ‘n uitveer se mag om dit deurskynend te stryk,
Ek verbeel soms die see sal golwe maak sonder dat ons vrees
Soms wil ek passie hê sonder om dit na te gaan lees
My hart
Wat dien as God se rat
Waar my siel interne gesprekke vat
Soms wil ek onopgemerkte geheime verklap,
Van volwasse leuens deur onbekwame tonge aangelap
My kind is haar eie en dit sal bly staan.
Saam my wonde sal haar twyfel vergaan.
My storie is myne en moer deurmekaar
Maar asseblief, hou op lees om te verstaan.
Ek soek rykdom sonder waarde
Ek soek tyd sonder geld
Soos Groen gras in ‘n afgebrande veld.
Ek soek ‘n plek wat verstaan
Sodat ek hierdie stilte kan laat gaan
Ek verbeel soms ek sien verhoudings wat die tipe eenvoudige toetse deurstaan.
Ek soek verbeelding sonder perke
Ophou praat oor uiterlike kenmerke
Raak stil en besef daar is engele met vlerke
Soms verbeel ek ‘n eenvoudige advertensie
Sonder fynskrif of verdwaalde intensies
Al hoe korter almal betaal aan jou reg om te luister…….. Vir jou ore se lisensie?
Soms kan ek verstaan dat tyd moet vergaan
Terwyl ons met ons oorloë mekaar beter sal leer verstaan
Deur selfsugtige mag laat ons kinders bestaan
Vir ons honger monsters wat in ons siele omgaan
Suurstof is verniet maar lewe is duur
Kyk toe hoe hy verstik, bebloed daar rug teen die muur
die dokter se redenasie geld betaal die huur
Dan wonder ons hoekom ons kinders
Selfmoord verkies
Walvisse uitspoel op strande maar geld maak die hoof nuus
Ek wil skreeu sonder ‘geldlike’ rede
Uitval van die wêreld se idee van vrede
Vandag se oorlog is vir die moontlike hede
En gister se bloed gee vir ons die “afwesige” rede
Ek is moeg om dowe ore te dra
Om blinde oë binne te staar
My jare gaan verby want môre is daar
Gister se vrae sal wel na die stof bedaar
Gedwing om blindelings na die “waarheid” te staar
Ek soek lyne sonder hoeke
Ek soek rakke met die regte boeke
Soms verbeel ek my self als is in orde
Al is my siel se spoke vodde
Ek wil onthou waar ek was
Sonder beperkte kortverhale deur betaalde redaksie span aangepas
Ek soek modelle sonder mode
Ek wil ophou toe kyk hoe hang almal aan dstv se valse gode
Hierdie is my woorde
Helder soos idiome, met beskrywings sonder mens gemaakte metode
Ek wil terug gaan en hierdie lees
Sonder om die woord verlore te vrees
Want die verskil tussen al die opgemaakte noorde
Is daar een ding wat niemand kan aan raak
Dit is my eie persoonlike woorde.
Deur
Regardt Belo
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.