‘n Monument vir die liefde
esiKhaleni – ‘n Monument van die liefde
(‘n Ode aan ‘n ou-ou Zoeloe & Xhosa legende)
Elegant en slank het haar silhouette
teen wolk en lug afgeëts
oor bloue oseaan uitgestaar,
geen enkele skip het
meer oor die kim gevaar.
Haar verlange en drome na ‘n sielsgenoot,
in klinkhelder note het
sy oor stormwaters gesing
en gebid dat die golwe
vir haar liefde sou bring.
Droomverlore klanke het sy ore bereik
en hy,
die prins van die see het verlangend opgekyk.
Die beeld van ‘n wonderskone vrou
in sy hart en siel ingekerf en
versigtig het hy nader geswerf.
‘n Onmoontlike liefde,
of so het dit gelyk,
het vorm geneem, maar vader en volk
het hulle van hul band probeer ontneem.
Haar vader het haar gevange gehou
en die Seeprins het diep gerou.
Sy onderdane kon dit nie verdra
en planne gesmee saam met die Seekoning, sy pa.
‘n Vis so groot soos ‘n skip
het uit die donker dieptes gebreek.
Met wilde, onaardse geweld
het reusevis sy woede teen die rotsmuur gewreek.
Die seevolk, met hul prins vooraan
het hul pad na die kraal van sy geliefde gebaan.
In sy arms het hy haar geneem en teen sy bors vasgedruk.
Haar hart het van liefde en dankbaarheid geruk.
Sy het met haar kop teen sy skouer gerus
terwyl hy haar na rus en vrede sus.
Dansend en wiegend het
sy onderdane hul vergesel
terug na die glinsterende oseaan,
onder die wakenede oog van ‘n volmaan
het hulle hul bruilofslied gesing,
is hul liefde eindelik volbring
By esiKhaleni staan ‘n monument vir die liefde, ‘
‘n gat in ‘n rots wat twee wêrelde
vir ewig sal bymekaar sal bring.
Kopiereg Lynne Lexow 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.