Jongste aktiwiteit:

‘n Pleidooi

‘n Pleidooi (962 woorde)

Hou jy daarvan om ‘n sundowner op ‘n Kalahariduin te drink terwyl jy jou tone diep in die rooi sand inboor? En hou jy daarvan om wintermaande vir jou ‘n paar vet springbokke te kom skiet wat in die strate tussen die duine wei? Of dalk hou jy van ‘n skaapribbetjie wat op Kameeldoringkole braai terwyl jy na die naglewe in die Kgalagadi luister en jou roete vir die volgende dag beplan? Wat van om ‘n kraan oop te draai en heerlike vars water te drink? A-geklasifiseerde water wat diep uit die maag van onse Kalahari kom en miljoene jare oud is? Hou jy daarvan? Of sal jy daarvan hou om dit te kan doen? Sal jy nog eendag wil? Want dan sal jy gou moet maak, want dit kan een van die dae verander. Dis klaar besig om te verander.

Ons het moeilikheid. Groot, groot moeilikheid. Ek kan nou vir julle vertel van sandsteenlae en foutlyne en boorgate, van besoedeling en vernietiging in Kazakhstan, in Australië, Bulgarye en die Tjeggiese Republiek waar hierdie tipe ontginning reeds gebeur. Ek kan vertel van die proses hoe hulle die uraan ontgin deur batterysuur in ons water te gooi om die uraan op te los om te ontgin en sodoende ons waterbronne besoedel. Ek kan vertel van hoe dit ons hele omgewing radio-aktief en onbewoonbaar gaan maak. Ek kan vertel hoeveel boorgate (duisende) hulle besig is om te boor. Ek kan vertel dat 3.48 miljoen hektaar betrokke is. Ek kan vertel dat dit glad nie in Amerika toegelaat word om op hierdie manier te myn waar drinkwater betrokke is nie. Maar ek gaan nie. Vir hierdie inligting kan julle gerus uitluister vir Dr. Roy Miller se praatjies daaroor – die geoloog wat ons aandag gevestig het op dit wat besig is om hier onder ons neuse te gebeur. Gaan luister asseblief na hom as jy die geleentheid kry. Hierdie goed moet gehoor word. Dit raak ‘n ieder en ‘n elk van ons.

Wat ek wel gaan sê is dit: Die Russe soek uraan en ons het uraan. En hulle gee nie om wat die prys is wat daarvoor betaal moet word nie. En ek praat nie net van rande en sente nie, want daarvan het hulle genoeg. Ek praat van lewe. Want water ís lewe. Ek praat van honderde duisende mense en diere en plante wat die skade gaan ly, want dis hulle wat op die einde die prys gaan betaal. Ek praat van gemeenskappe en families en pa’s en ma’s en kinders, en hulle kinders, en hulle s’n tot in die hoeveelste geslag, want radio-aktiwiteit verdwyn nie binne ‘n jaar of drie nie. Dit vat honderde jare. Ek praat van ‘n omgewing wat nie net op landbou staatmaak nie, maar grootliks ook op toerisme. Wie wil ‘n radio-aktiewe land besoek? Wie wil vleis en groente eet van ‘n land wat blootgestel is aan swaarmetale? En wie wil water drink en weet dis eintlik vol kleurlose, reuklose en smaaklose gif? En dis wat nou besig is om hier te gebeur. Die Russe boor vir uraan (wat hulle wel hier gekry het) en die dag as hulle dit gaan begin ontgin, is alles verby. En dit beïnvloed nie net vir Namibië nie, maar ook vir Suid-Afrika en Botswana. En dit moet nóú gestop word, want wag ons te lank, is die kans vir omdraai en jammer wees verby.

Ons regering het reeds die permitte aan die Russe gegee. Hulle boor reeds. Of dit geldgierigheid, korrupsie of onbevoegdheid is sal ek nie weet nie, maar hulle het die permitte goedgekeur en ons het reeds die kennisgewings in die pos gekry dat daar in ons omgewing en op ons plase geboor gaan word. En ons kan nou vinger wys en kwaad raak en beskuldigings rondgooi, en alles wat ons kwytraak sal heel waarskynlik die waarheid wees, maar dit gaan net mooi niks aan die situasie verander nie. Die tyd het aangebreek waar ons moet saamstaan en handevat en Goliat met ons klein kaiingklippie moet gaan omgooi, anders gaan die lewe, soos ons dit ken, vir altyd verlore wees. Nou is die tyd waarin ons verby die geklingel van dollars moet luister. Ons moet luister na ons nageslagte se versugtinge oor ‘n mooi en ongerepte natuur wat hulle ook kan geniet soos ons kon tot nou toe. ‘n Omgewing wat ons moes bewoon, bewerk en bewaar. Ons moet luister na die mense wie se inkomste geraak gaan word. Ons moet luister na die gemeenskappe wat geslagte lank ‘n bestaan voer uit dit wat aan hulle toevertrou is. Ons moet ons nie blind staar aan die paar rande wat in jou sak gaan beland nie, al is dit hoe moeilik vir party mense, want ons weet mos geld praat die hardste. Ons moet nou groter dink as onsself. Nou is die tyd wat ons die groter prentjie in die oog moet hou. Ons moet fokus op die langtermyn. Ons moet fokus op dit wat hier gaan agterbly nadat ons lankal nie meer hier is nie. Ons moet nooit toelaat dat ons kleinkinders vertel dat ons die skuldiges was wat ons land en sy diere en sy mense verkoop het nie.

Ek rig ‘n pleidooi aan elkeen wat hier lees. Indien jy ‘n Namibiese burger is, of dalk ‘n Suid-Afrikaner, of selfs in Botswana woonagtig is, gaan registreer jouself as ‘n “Interested and Affected Party (IAP) by die “Environmental Compliance Consultancy” wat die inpakstudie doen (info@eccenvironmental.com). Stuur asseblief ‘n e-pos na hulle en vra dat hulle jou registreer.

Ek vra nie vir myself nie, maar vir almal hier en vir almal wat nog sal kom. Asseblief.

Ek heg ‘n foto aan wat gebruik is by die praatjie deur Dr. Miller van die areas wat uitgesit is vir die ontginning.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Yolandi het n geregistreerde lid geword

  • Hermien het n geregistreerde lid geword