Jongste aktiwiteit:

Brûe

(463 woorde)
Brûe

Dis baie moeilik om te weet watter brûe jy moet oorsteek en watter jy eerder moet brand. Want daar sál brûe wees wat gebrand moet word, veral dié wat klaar gevaarlik is, of swak fondasies het, of wankelrig is. Brand daardie brûe wat jy weet jou nie veilig aan die oorkant kan kry nie. Brand daardie brûe wat nie goed vir jou gesondheid en jou innerlike vrede is nie. Sorg dat jy ‘n roeibootjie het, of dat jy goed kan swem, want jy sal anderkant moet uitkom. Héél anderkant moet uitkom. Niemand is gemaak om doelloos in die water rond te dobber nie.

Elkeen van ons kom iewers voor daardie keuse te staan, of jy nou daarvan hou of nie. Dinge gebeur. Met almal. Dan staan jy voor daardie kruispad en jy moet kies. Links of regs? Oorloop of afbrand? Jy moet self besluit wat jy as eindresultaat wil hê. Soek jy wraak of soek jy geregtigheid? Soek jy kalmte of soek jy oorwinning? Is dit vir jou belangriker om reg te wees as om gelukkig te wees? Dis dinge wat jy jouself maar moet afvra voor jy die vuurhoutjie trek. En wanneer jy die besluit geneem het om jouself te red, dan kan jy sommer die vlamme se lig gebruik om beter te kan sien om veilig die oorkantste oewer te bereik.

Maar sommige brûe is die moeite werd om te herstel sodat jy kan oorstap. Versterk die konstruksie – vervang die vrot balke, skuur af die roes en draai die boute stywer vas. Soms is alles nie verlore nie. Meestal is dit oppervlakkige skade wat met min moeite herstel kan word. Bou sterker en hoër soos jy oorloop. So treetjie vir treetjie. Voor jy weet is jy droog en in een stuk anderkant die water en dan besef jy die brug was sterker as wat jy vermoed het. Dan besef jy jy het meer gefokus op die bietjie wat verkeerd is as op die baie wat reg is. Dinge is nie altyd soos jy dit in jou kop uitmaak nie. Wanneer jy voet aan wal sit aan die oorkant, dan besef jy dat jy dit nooit sonder die brug sou kon regkry nie. En baie keer, as jy anderkant staan en terugkyk, sien jy hoe stewig die brug nog eintlik is en kry jy skaam dat jy dit so vlak gekyk het.

Daar is gesinsbrûe en familiebrûe en vriendebrûe wat ten alle koste gered moet word, want dis daardie brûe wat jou veilig hou wanneer die vloedwaters kom. Dis hulle wat jou droog oor die stroomversnellings dra en jou uit die lewe se maalkolke red. Herstel hulle, bou hulle sterker en doen gereeld onderhoudswerk op hulle. Sit weg die vuurhoutjies en haal uit jou gereedskapskis.

Daar is vryheid in vrede.




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed