‘n Skuimpie Wroeg
Met skemering, toe die vinke by die vlei
die lug deurweef met helder rooi en geel,
het ek net vir ‘n wyle my verbeel
jy loop weer deur die riete saam met my…
Want alles was soos toe ons, sy aan sy,
gehoor het hoe die windjie deur hul speel.
Ek wou die uur se vreugde met jou deel;
ek wou by jou, wat voorgegaan het, bly.
(Maar toe ek opkyk het die donkerblou
van nag sy vleuels om die vlei gevou.)
Asof hy heel sy lewe wou verdroom,
was daar een reier wat nog roerloos staan,
en in die ragwerk van ‘n wilgerboom
het koud die sekel van die maan getaan…
6 Kommentare
-
-
Viooltjie
Pragtig Koekekranka. Veral die eerste en laaste strofes vind ek baie treffend :-)
-
Anze
sjoe hierdie is so hartseer mooi!! Jy skilder so duidelik met jou woorde, dat ek die hele foto kan sien.. Pragtig!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Amaspoke
Die werklikheid is soms 'n hartseer pil. Dit is waar gister ons vandag laat oorwin. Pragtige skrywe