
‘n Voorval van liefde
Daar was niks spesiaal aan Attie nie. Hy was nie mooier, slimmer, vinniger of selfs ‘n beter jagter as enige van die ander nie. Hy was maar net Attie wat geëet en geslaap het. Of om nou bietjie onsensitief te wees: Attie het net bestaan. Of Attie nou bestaan het of nie bestaan het nie, sou geen verskil aan die totaliteit van die heelal gemaak het nie. Tog het Attie elke dag opgestaan en gedoen wat hy moes om te oorleef, sonder om homself jammer te kry of te diep oor die lewe te dink. Hy het ‘n stil lewe gelei. ‘n Lewe waar die toekoms maklik was om te voorspel en die verlede niks meer as net ‘n konsep was nie. Het gister werklik gebeur? Attie het nie te veel daaroor gedink nie. Maar soos die lewe is het dit alles verander toe Attie háár gesien het. Hy sou later uitvind haar naam is Victoria. Sy was beeldskoon. Die soepel vorms van haar lyf; haar pragtige dun bene; haar voorarms wat gebult het met die belofte van oneindige krag; die grootste, groenste oë wat Attie nog ooit gesien het.
Attie was smoorverlief en móés haar syne maak, al was sy dalk te mooi en spesiaal om eers in sy rigting te kyk. Maar Attie was gedryf deur ‘n onsigbare krag – ‘n drang. Níks sou hom keer nie. Skielik het sy lewe betekenis gehad – dit is vreemd hoe die lewe begin betekenis kry as liefde ter sprake is. Attie het begin dink oor die lewe en die betekenis van die lewe. Hy was woedend vir homself omdat hy soveel tyd gemors het op ‘n sinnelose bestaan. Spyt dat hy op so laat ouderdom eers besef het dat daar meer in die lewe is. Soos soveel lewende wesens vóór, en ná Attie was die ontdekking dat hy nie ‘n storie – ‘n rede – gehad het nie, skrikwekkend, maar gelukkig nie te laat nie.
Na Attie Victoria ontdek het, het hy soggens, nog voor die eerste sonstrale die wêreld aangeraak het, tussen die struike gaan wegkruip vanwaar hy Victoria kon dophou. Dag na dag het hy haar bewonder, begeer. Sy was die toonbeeld van skoonheid en perfeksie. Na ‘n paar dae het Attie nader en nader begin skuil aan die plek waar sy eerste liefde, Victoria, haar dae vertoef het. Toe, sonder dat hy dit beplan het, kruis hulle paaie. Attie het nog versigtig rondgekyk opsoek na sy geliefde, toe staan sy reg voor hom. Haar groot, groen oë het hom noukeurig bestudeer, terwyl sy haar kop eenkant toe en dan anderkant toe gedraai het – asof sy hom opgemeet het. Sonder dat ‘n woord verruil of ‘n teken gegee is, het Attie geweet sy wou hóm hê. Hy was hare. Hy het stadig nader gestap, senuweeagtig soos ‘n onervare tiener wat die eerste keer die vroulike geslag probeer verstaan; onseker oor die reëls en voorwaardes van interaksie tussen die manlike en die vroulike … Liefde, hartstog, begeerte, seksuele aantrekkingskrag en wellus was tasbaar tussen hulle, en het alle vrese en onsekerheid weggespoel.
Steeds sonder dat ‘n enkele woord geuiter is, klim Attie versigtig op sy pragtige Victoria en die natuur neem oor. Weke se frustrasie, hoop, liefde en begeerte vloei deur Attie toe hy een word met Victoria. Passievol, ongetem, rou en sonder enige inhibisies of verleentheid deel die paartjie ‘n ongekende hartstog, soos wilde diere. Emosionele gevoelens word fisiese aanraking. Attie raak bykans lam soos die klimaks oor hom spoel. Hy het uiteindelik betekenis in die lewe gekry. Die grootste oomblik van sy lewe.
Dit is die laaste gedagte wat deur Attie se kop gaan. Victoria gryp Attie se kop vas met haar kragtige voorarms, en in ‘n vinnige, ysingwekkende beweging ruk sy Attie se kop af. Attie se lyf val om en sy bene maak hopelose bewegings soos wat hulle opsoek is na seine van die brein, wat nooit weer gaan kom nie. Victoria kyk emosieloos na die laaste bewegings van Attie se lyf, terwyl sy een na die ander gulsige hap uit Attie se kop vat, totdat daar niks oor is nie. Dan stap sy die bosse in asof moord ‘n alledaagse gebeurtenis vir haar is.
Nie lank daarna nie, lê Victoria eiers, veilig weggesteek teen haar gunsteling struik se stam – nie te ver vanwaar Attie haar altyd dopgehou het nie. Ses maande later, toe die lente se dae warm genoeg is vir nuwe lewe, kruip daar sowat 400 van Attie en Victoria se nasate die wye wêreld in – party kragtige, gewetenlose jagters soos hulle ma, Victoria en party so bietjie pateties soos hulle pa, Attie. Attie se bestaan het tog ‘n verskil gemaak aan die totaliteit van die heelal, want as jy mooi daaroor dink bestaan ‘n hottentotsgot se heelal nie uit veel meer as ‘n struik of twee nie.
2 Kommentare
-
Amanda
Goeie genade, ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Ai moeder natuur darm. Arme Attie. Goed gepen. Giggel snaaks maar terselfdertyd boeiend en hartseer.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek