
NAGSPOKE
Aan die binnekant van jou droom
is daar ‘n mens
een met ‘n wens
elke nag sweef sy rond
tussen jou arms, jou mond
en die slaapstiltes in die holte van jou siel
kwart voor vyf soggens
luister sy hoe jou dag breek
sy wag gelate
tot wilde voëls jou buiteklanke in bring
jou asemdieptes verlaag
jou nag lomerend verdoof
tot jy wakker word
styf teen haar lyf
want jy het haar nagspoke
met jou soene verdryf.
© 06/2023 Caren Kearley
FB: Nimfoleptiese Woorde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.