Jongste aktiwiteit:

November 2021 – OOP projek uitslae en kommentaar

Baie geluk aan hierdie 10 lede!

GEDIGTE
BRONS
No 17 Lenel Oosthuizen met Môrestond
No 5 Francois Meyer (Gedagtes) met Safari
No 33 Anita van der Walt met Jou liefde vir my

SILWER
No 34 Amanda De Meillon met Die Kaap is’ie djou gahzie (Die Kaap is nie jou Broer (nie)
No 38 Annamarie van der Merwe met Sterrebeeld
No 9 Driekie Grobler met Teleurstelling

GOUD
No 24 Andries Fourie met Flenterwind
No 1 Caren Kearley met Prisma
GEEN

GORREL
No 2 Amande De Meillon met Engel in wit
No 1 Madele Burger met November
GEEN

RUBRIEKE
GEEN

ARTIKELS
No 1 Ano met Aanpasbaar
GEEN

VERHALE
GEEN

KOMMENTAAR
GEDIGTE
BRONS
5.Safari
Dit is ‘n besonderse vers. Die beeldspraak in die eerste strofe beïndruk veral. Die gebruik van “roet” in die derde strofe pla my effe omdat dit slegs aangewend is vir die rympatroon. ‘n Alternatief sou beter klink. Die laaste strofe in die vers is myns insiens oorbodig en bied geen bydrae tot die vers nie. Jou vers is keurig en mooi.

7.Geleende veer
Die konsep vir die gedig is goed. Die aanbieding is egter stomp en herhalend. “Tinktinkie-lelik” klink soos ‘n oksimoron. Jou gedig beskik oor baie potensiaal maar dit lees asof jy die vers afgejaag het.

10. Nuwe dag
Die punktuasie in jou vers kort aandag. Daar is punte waar dit nie hoort nie. Die vers is intertekstueel tot “carpe diem”, wat mooi is, maar die aanbieding voel vir my slordig.

11. Nommerpas
Die vers, neem ek aan, is ‘n komiese aanslag op die wrewel teen syferlikheid. Jou vers is snaaks, sonder twyfel, maar sonder funksionele punktuasie lees die gedig moeilik. Die vers kan baat by geselekteerde redigering.

12. My seisoene se lappieskombers
Jou vers is woordoorbodig en herhalend. Jy kan dit werklik oorweeg om hieraan te knip sodat die volle potensiaal daarvan kan skitter.

13. Reënboog na die reën
Die koor gedeelte van jou vers is (die eerste sin) direk aangehaal uit ‘n lied wat Groep 2 néé Gé Korsten gesing het. Ek weet nie wie die outeur daarvan is nie, maar jy behoort in ‘n voetnota daarvan melding te maak. Waak daarteen om ander skrywers se woorde direk te gebruik. Dit kan tot skade lei vir jou en vir INK.

15. Dankbaar
Mooi vers. Daar is egter niks vars in die inhoud daarvan nie.

16. Chaos
Jou titel beskryf die inhoud van jou vers in geheel. Punktuasie sou jou vers baat, maar dan weer, probeer jy as skrywer om chaos te demostreer. Jy het geslaag. Die vers lees chaoties en uiters pessimisties.

17. Môrestond
Dit is ‘n slim vers wat lieflik en ritmies lees. Die leser weet wat jou opkikker en ervaar jou ode aan die eenvoudige koffieboon. Mooi gedoen.

19. Grillerig
Ek verstaan geheel wat jy in hierdie gedig van jou wil vermag, maar ek voel tog dat die inhoud effe onsamehangend is, en veel meer so teen die einde daarvan. Jou eerste twee strofes egter, is uitstaande. Die afsku vir anglisismes is tasbaar. Kyk of jy nie die slotstansa kan redigeer nie. Mooi gedoen.

20. Pêrels van trane
Vollenweider se lied “My cup runeth over” is streng ‘n liefdesode, wat jou vers nie is nie. Dit is die wonder van intertekstualiteit. Die bronteks inspireer verskillende interpretasies. Ek ervaar jou vers egter woordoorbodig. Ek dink dit kon ‘n sterker vers gewees het as jy die “minder is meer” aanslag gevolg het. Die vers is egter leesbaar en ‘n goeie poging tot interteks.

21. Ek is mens
Goeie poging. Ek dink die herhaling van “ek is mens” en derglike maak afbreek aan jou vers. Indien jy die in die laaste strofe aangebring het sou dit ‘n groter impak op die leser gehad het.

22. ‘n Eenvoudige gebed
En toe is die gebed glad nie so eenvoudig soos die titel aandui nie. Dit word ‘n gebed vir die wêreld; vir al sewe miljard siele.
Jou vers behoort met “het” te sluit en nie “hê” nie. Of dit moes lees “mag hê”. Net daardie een woord in jou vers dui vir my daarop dat jy nié jou vers weer gelees het voor jy dit geplaas het nie. Sou jy, sou jy sien dat daardie woordkeuse nie werk nie.

23. Jy is die rede waarom ek skryf
‘n Stem kan nie “ego” nie alvorens dit ‘n narcistiese, opdringerige stem is. Die korrekte woord is “eggo”. Ek vind die gedig geyk alhoewel ek redelik opgewonde was om dit te lees toe ek jou eerste twee sinne onder oë kry… die wiele van jou vers kom ongelukkig daarna af.

30. Dit is klaar
Mooi gedig. Ek vertrou die skrywer staan buite die vers en dat die inhoud daarvan nie ‘n wekroep tot hulp is nie. Verskoon my as ek buite my mandaat optree maar indien jy hulp nodig het skakel asseblief 0800 567 567 of 0800 456 789.

31. Vriendskap genade
“Treë” word só gespel. Voorbeeld van hoe woordorde ‘n groter impak en ‘n beter verstaan by jou leser kan skep:
(Str 2, lyn 3 & 4)
“kom skryf jy die natuur
in braille, rondom my”
ook:
(Str 3, lyn 3)
“en hang glimlagte die sterre op”
(Str 4)
“ek wil dankie sê
vir arms wat my innooi
wyl die suidooster gaan lê
en my wilde hartklop tot rus kan kom”
Woordorde maak nie noodwendig jou vers anders nie, maar dit maak ‘n sterker impak.
Mooi gedoen.

32. Grootste liefde
Dit is ‘n kinderlike maar eerlike versie.

33. Jou liefde vir my
Ek sou slegs een verandering hieraan maak: vervang “wys” met toon. Mooi, eerlike vers.

36. Minjonet
Die intensie wat die vers het, om die leser in ‘n sprokiesmooi net te vang, word gekniehalter as gevolg van ‘n oorbesadiging van beelde. Soms is minder, méér. Jou vers sal ‘n groter indruk maak as jy nie so hard probeer om liries te wees nie. Redigeer jou vers want hy het baie potensiaal.

37. ‘n Hemelse les
Alhoewel ek dink die gedig beskik oor enorme potensiaal, dink ek tog dat die aanbieding kripties en onnodig geheimsinnig is. Die beeldspraak is onnatuurlik en die gedig is geheel woordoorbodig. Jou vers sal sterk baat by funksionele redigering. Ek sê weer: die vers het baie potensiaal maar as digter het jy té veel probeer sê.

SILWER
2.Ongekende kronkelweg
Dit is asof jy los en vas gedagtes uit die eter getrek het, ‘n dobbelsteen gegooi het en gehoop het dit val iewers in ‘n konstellasie wat maar net alte per abuis na ‘n gedig sal lyk. Die vers is ‘n onsyferingsnagmerrie. Ek is jammer maar die standaard van jou vers laat veel te wense oor. Jy is in die silwerklas waar jy aan ‘n hoër standaard gemeet word.

3.onskuld in sonneblom
Die herhaling in jou vers is soos ‘n trekker wat op en neer, vir ure, sonder ophou dieselfde land ploeg tot daar geen klont in die grond sigbaar is nie.
Jy herhaal:
a. SONNEBLOM: 5 MAAL
b.GEEL
c.ARMS (PIES)
d.VREUGDE: 4 MAAL
e.SPEEL ENS. ENS.
Is die Afrikaanse taal so sinoniemloos en skraal dat jy die leser met oneindigende herhaling moet verveel? Die silwerklas het hoër standaarde, en goud wink in die toekoms, maar met hierdie aanbieding gaan jy vir seker nie ‘n indruk maak nie.

4.pyn gedagte
Sonder twyfel! was die lees hiervan ‘n versinnebeelding van jou titel. Die gedig is van swak gehalte, sonder behoorlike naratief en op enige goeie dag bloot slordige digwerk.

6.wat is
Ek begin my kommentaar met jou titel: “wat is dit dié?” Dit is ‘n herhalende allegaartjie wat jy in ‘n konka aanmekaar probeer stook. Die tipografie is vreemd, die woordorde en – keuses is soos die van ‘n beginner. Jou vers is geheel nie op silwerklas standaard nie.

8.Ontsluit die poort na jou hart
Daar is ‘n groot verskil tussen “sinloos” en “sinneloos. Dit is nié sinoniem met mekaar nie. Sinloos beteken dus, in jou geval, dat die liefdesmart sonder ‘n geskrewe sin is. Jou vers lees soos ‘n lappieskombers wat van verskillende gare aanmekaar geflans is sonder dat die gedagtes mekaar aanvul. Myns insiens is die vers kripties en vir seker nie van silwerklas standaard nie.

9.Teleurstelling
Die vers is kort en bondig. Die gebruik van “as” as metafoor het aanvanklik nie veel sin gemaak nie, maar nadat ek dit oordink het maak dit vir my sin. Die son wat uitgebrand is (tekort aan sonskyn) is egter ‘n slim metafoor. Ek wonder of ‘n lang aandagstreep nie ‘n sterker beeld sou skep eerder as ‘n punt nie. Dit is egter net persoonlike voorkeur. Mooi gedoen.

14.Wyk
Die vers weerspieël duidelik waardeur die verskarakter gaan, maar ek wonder of die inhoud (woordkeuse) nie effe sub-standaard is vir iemand wat in die silwerklas deelneem nie? Die vers het my in die geheel nie beïndruk nie.

18.’n Ou verhaal
Die vers poog om die menslike toestand, en veral in hierdie tyd, te verwoord, maar die skrywer het misluk om ‘n vars en aangrypende vers aan te bied. Ek kan nie bepaal of dit polities opstandig is of hoopvol versugting is nie. Die gedagtes is onsamehangend en slordig. Vir seker nie op silwerklas standaard nie.

25.Heel my vredevors
Jou titel ontbreek aan ‘n funksionele komma: “Heel my, Vredevors”
Wat beteken meesvaar?
Die woordorde en -keuses in die vers is slordig. Die vers is nié op silwerklas standaard nie.

26.Ink-wellusteling
Die enjambiese aanbieding sonder nodige, funksionele en mooi lid- en koppelwoorde is nie aantreklik nie. Ek dink die vers beskik oor baie potensiaal maar dié aanbieding het my nie poëties beïndruk nie.

34. Die Kaap is’ie djou gahzie
Die Afri-kaapse gedig is interessant en lees lieflik ritmies. Ek het een vraag, en nie om pedantiese redes nie, maar sou “kleure” in Afri-kaaps so geskryf word? Die ronding van die “eu” is mos nie eie daaraan nie, of is ek verkeerd? Dit is werklik ‘n goeie gedig. Ek dink die leser sou kon baat deur ‘n voetnota waar al die “onbekende woorde” omskryf kon word, soos jy in jou titel gedoen het. Pragtige vers.

35.Oorwinning
Ek wil van die vers hou. Ek wonder net of sekere beelde hierin nie slégs geskep is om ‘n rympatroon te fasiliteer nie? Wat sou die beeld van “heilige meer” beteken?
Ek hou baie van jou 2de strofe, maar trap klei, soos ek hierbo genoem het, met die res. Die aanbieding is nietemin keurig.

38.Sterrebeeld
Ek hou van die beeldspraak in jou vers. Daar is net twee jakkalsies wat ek wil aanspreek.
a. Moet asseblief nie elke sin met ‘n hoofletter begin nie. Dit is nie meer geoorloofde praktyk nie.
b.Die ellips aan die einde van die tweede laaste sin kan gerus weggelaat word.
Dit is ‘n keurige vers met mooi metafore. Mooi gedoen.

39.Fraktuur
Die vers is hopeloos lomp en woordoorbodig. Die tipografie is nie net vreemd nie maar ook slordig. Wat beteken die woord “krukkroek”? Is dit ‘n slordige anglisisme vir verneuk? Ek hou nie daarvan nie. Ritmiese tydsberekening is belangrik as jy ‘n humoristiese vers wil skryf. Ek weet egter nie of jy vir so ‘n genre gemik het nie. Jy kan gerus hieraan skaaf want die vers beskik oor potensiaal.

GOUD
1.Prisma
“wat van buitebreek
‘n binnedring wou maak” is ‘n besonderse beeld. Ek hou van jou vers omdat dit eenvoudig voorkom maar ‘n ingrawende diepte het. Die beeld oor “mites” is ‘n slim toevoeging omdat dit dui op iets wat nie noodwendig waar is nie en daarom ‘n ondertoon van voorgee en verdenking skep. Goeie vers.

24.Flenterwind
Met die beoordeling van ‘n vers skep ek vir myself vrae, en probeer dan om die inhoud van die gedig te gebruik om dit eerlik te beantwoord. Tipiese vrae sal die volgende insluit:
a. Is die instrumente in die vers wat punktuasie, styl, ritme, rym, tipografie ens. insluit, funksioneel?
b.Skep die vers ‘n beeld van sorgsame redigering? Wat dinge soos herlees, spelling, grammatika, woordkeuse en – orde insluit.
c.Het die digter tyd spandeer om die konstruksie te evalueer of is daar tekens dat dit geforseerd publikasie gereed gemaak is?
Die proses sluit bogenoemde in, maar is nie nét daartoe beperk nie. Ek vertrou dat geharde digters, ander digters se evaluasies lees, om te groei, en daarom teken ek hierdie uitgebreide kommentaar by jou vers aan as demonstrasie.
Kom ek beantwoord dan die begenoemde vrae wat jou vers betref:
Jou vers is enjambies, wat beteken jy het punktuasie met opset vermy. Jou vers slaag in hierdie styl. Die tipografie is netjies met drie sekstet stansas. Die herhaling van sekere sinne in jou vers is funksioneel en lei die leser deur die ontwikkeling van die vers. Die tyd element in jou vers versterk die ontwikkeling wat kronologies op die spits gedryf word.
Ek ervaar jou keurige sorg hierin en is oortuig die vers is nie publikasieryp gedruk nie. Goeie werk. Ek hoop jy kan sien, in hierdie breedvoerige kommentaar, dat ek elke inskrywing met sorg evalueer, en dat, sou daar swaar kritiek gelewer word, dit met nodige meriete gedoen word.

27. Sonsit
Ek wonder as ‘n goueklas deelnemer ‘n sin, soos volg, skryf:
“soos ‘n sonsit in die son” of dit aspris stuitig is, of is voor die hand liggende inligting bloot ‘n minagting op die intellek van die leser? Ek mag natuurlik klei trap wat my opsomming hiervan betref, en dat dit bloot net ‘n speelse woordkeuse is. Ek persoonlik sou nie verwag iemand kan onder die maan sonsit nie, en daarom is dit oorbodig en bloot verslons.
Verder verras jy my met mooi beelde soos: “dan lok jy die son ‘n hoekie in” enook die volledige 2de laaste strofe.
Ek wil van die gedig hou maar daar is werklik gedeeltes hierin wat bloot lui woordkeuses en beelde bevat wat afbreek maak aan ‘n gedig met baie potensiaal.

28.Genadetyd
Al sou ek van hierdie vers hou moet ek in aanmerking neem dat jy as skrywer in die goueklas deelneem, waar die standaard onkreukelbaar behoort te wees. Wat in die wye, wye wêreld is “melocholiese”? Bedoel jy “melancholies”?

29.Eendag
Keurig maar die vers laat geen blywend indruk nie.

GORRELS
1.November
Let op baie lang sinne. Dit maak die lees ervaring moeilik. So van NaNoWriMo gepraat…as jy net 1667 woorde per dag skryf sal jy die maklik kan bybring. Ek hou daarvan dat jy November amper personifiseer en daarmee in gesprek tree. Waak teen té veel… lesers wil nie noodwendig met ‘n lepel gevoer word nie. Keurig.

2.Engel in wit
Ek gaan eers die inhoud van jou “verhaal” bespreek en dan kommentaar lewer oor die akademiese.
Die karakter ontwikkeling is nie té sleg nie, maar die pas waarteen die verhaal beweeg is bo die “spoedgrens”. Die leser kan nie die verhaal volg as gebeure lukraak hul pas papier toe vind sonder dat daar motivering vir die gebeure is nie. Woordoorbodigheid is hinderlik maar so ook woordanoreksie.
Dan het jy jou verhaal onder gorrel gepubliseer wat die verkeerde voertuig daarvoor is. Ek gaan jou hierdie keer ‘n penaliseer nie, maar in die toekoms, plaas eerder ‘n verhaal onder die regte afdeling. Ek hou van jou werk. Ontwikkel dit.

RUBRIEKE
1.Handjies af
Ek vind jou rubriek interessant maar ook ironies. Dit is nie my werk, as moderator, om die inhoud van ‘n skrywe feitlik te verifieër nie, maar ek kan, soos jy duidelik sê, gesonde oordeel toepas. Jy maak feitlike verklarings in jou rubriek en dit het my geforseer om statistieke na te gaan. Jou rubriek wys ‘n direkte vinger na die kerk en vriende wat mense beïnvloed, maar jy maak van dieselfde taktiek gebruik, deur vrees te gebruik om mense tot inenting te dwing. Ek is pro-inenting, tog verkies ek om die reg tot weiering te verdedig. Jy maak drie (onder andere) spesifieke aannames in jou rubriek:
1. Vriendinne om jou sterf soos vlieë;
2.Jong kinders sterf in strepe;
3.Kanker neem tot 33% toe in Covid pasiënte.
Ek wil geensins beweer dat jou geleefde ervaring sonder trauma is nie, maar ons moet alles (statisties) oorweeg.
Suid Afrika het ‘n populasie van +- 57 000 000 met ongeveer 90 000 sterftes tot op datum (oor ‘n 2 jaar periode). Dit beteken dat slegs 0.075 % (pa) hieraan oorlede is.
Daar is ‘n totaal van 401 kinders (onder 12) oorlede tot en met Mei 2021. In 2019 is daar meer as 600 kinders (in dieselfde ouderdomsgroep) oorlede in motorongelukke terwyl 91 000 beseer is. Dit bring die prentjie in perspektief.
Daar is geen data, statisties of anders, wat jou stelling oor kanker staaf nie. Daar is ‘n groter kans, sonder twyfel, vir kankerpasiënte wat aktief aan chemoterapie protokol deelneem om die virus op te doen, vir voor die hand liggende redes, maar geen kliniese data wat jou standpunt ondersteun nie.
Ek wou nie akademies met jou rubriek in gesprek tree nie, tog dink ek, as skrywer het jy ‘n reg tot ‘n standpunt, maar kan nie emosioneel en lukraak feite sonder balans publiseer nie.
Ek het diepe respek vir jou standpunt en ekself moedig mense aan om eerder te vaksineer, maar ons kan nie daarvan ‘n nuwe “godsdiens” maak nie.

2.Die gawe van gee – ‘n Kersboodskap
Alhoewel jou rubriek ‘n aansporing is, wil dit vir my na ‘n teregwysende preek klink. As die leser (miskien staan ek alleen in hierdie opvatting) ‘n rubriek lees moet dit ‘n “goed-voel” ervaring wees sonder om te voel jy is oor die vingers getik. Soos ek genoem het, dit mag dalk net persoonlike kriteria wees en dat ander van jou aanbiedingsstyl sal hou.
Dankie vir jou deelname.

3.2021 se lewenslesse
Alhoewel die rubriek keurig is, is dit niks wat ek nie al honderde ander kere gelees het nie. Let op jou sinskonstruksie, wat op plekke te lank is.

ARTIKELS
1.Aanpasbaar
Eerder “onoorkombare berg”; “lemonade”. Die artikel lees baie omslagtig, asof baie van die inligting herhaal word. Waar kom die inligting vandaan? Ek merk nie een bron in jou skrywe nie.

2.Dit is ‘n wilsbesluit
Dit is ‘n baie swak artikel. Daar is geen stawende feite daarin nie. Dit is ‘n kakofonie van vrae, stellings en opinies en ek as leser het nie ‘n enkele feit geleer nie. Jou skrywe is veel eerder ‘n gorrel waar daar geen reëls vir die konstruksie daarvan bestaan nie. ‘n Artikel is ‘n feitelike skrywe wat nie deur persoonlike opinie nie, maar eerder deur nagevorsde inligting beïnvloed word.

VERHALE

1.Die laaste bus
Ek weet nie regtig hoe om ‘n persoonlike opinie hieroor te lewer nie. Die verhaal is vir seker ‘n donker gedoente wat nie uitsluitsel aan die leser gee nie. Dit sou lekker wees as die leser teen die einde die drade bymekaar kom trek om ten minste effe sin te maak van die verhaal. Ek is nie oortuig dat hierdie verhaal baie aanhangers sal hê nie.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed