Oorlog … sonder ‘n TV
Ek kyk min na enige TV program, soms gaan daar dae verby sonder dat ek enigsins na iets kyk. Ek probeer die nuus onthou, of sekere argief-programme, of NatGeo, of NCIS. Dan is daar nog humor-, drama– en musiekprogramme, of kerkdienste …. Te veel om op te noem. Ek hoor die klagte van honderde programme wat oor en oor herhaal word. Ja, nooit kan ons tevrede wees nie.
Gisteraand sien ek ‘n episode van “Fees van die Ongenooides” en onthou dat ek iewers gehoor het dat die skitterende boek ‘n TV-reeks gaan word. Ek sit vasgenael, te bang ek mis iets. En teen die einde huil ek. Ek weet nie hoekom nie, my trane-damwal het gekraak. Ek dink aan ander oorloë, ander lande en tye. En besef hoe swaar hierdie lewe op aarde is. My hart breek vir mense wat eenvoudig afgemaai word omdat hulle in God-drie-enig glo; met hart en siel aan Christus vas hou. Nee, my hart breek vir dié wat agterbly, want hulle wat hul oë ‘n oomblik later by God se Woning oopmaak, is so gelukkig. Ek sien sooo daarna uit.
Maar ek huil oor die onreg op aarde, die sielkundige oorloë, die emosionele aanvalle en woordelikse afkrakings, oor kinders wat mishandel word, oor ou mense wat vergeet en verwaarloos word. Ek onthou hoeveel mense gedink het hulle leef vir iets, maar in verraad uitgegooi is en self die mas moet opkom. Ander wat so verblind is deur prag en praal, dat hul nooit God se hand in hul lewe raaksien nie. En sommiges wat in verbittering ‘n beker vol haat-gif drink, maar weier om ooit aan vergifnis toe te gee … en in die proses net in hulself sterf terwyl hulle die lewe vir hul geliefdes ondraaglik maak.
Dan wonder ek hoe lank nog Here? Hoe lank nog voor U weer op die wolke gaan kom, soos wat U hiervandaan weggegaan het? Mag U gouer ons plek, daar waar U heengegaan het, voorberei. Mag U beloftes in ons ore roep om gereed te wees wanneer U kom! Ek wil U loof en prys vir U liefde, vir U hand oor ons, al gebeur wat ook al met ons. Vir Christus se lyding, sterwe en opstanding, my woorde so nietig, maar my lewe so dankbaar.
Amen amen Here.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.