Om soos die windpomp te wag
Onlangs het ek gelees dat die windpomp geensins uit sy eie probeer water pomp nie, maar vir die wind wag. So moet ons ook wag op die Heilige Gees om ons lewe te gee. Maar soms moet ons ook iets doen om aan die windpomp die kans te gee om vryelik in die wind te kan beweeg. Ons moet sorg dat die windpomp en sy ratwerk in goeie werkende toestand is.
Só, ons ook! Om net van God te weet, maar nie te glo in sy Liefde nie, gaan ons nêrens bring nie. Om net asem te haal, sonder om ons harte oop te maak vir Christus se Evangelie, beteken ons bestaan net, maar lééf nie. Nee, ons moet geestelik ‘weergebore’ word. Ons moet glo in Jesus en in sy Voetspore volg.
Ons moet Christus se Verlossing uitleef en sy Evangelie aan ander vertel. Maar ons moet geloofs-gerat bly daarvoor. Ons moet ons geloof elke dag uit sy Woord voed en gesond hou. Ons moet ook ander help wat dalk struikel en sukkel. Slegs dan kan ons vryelik in die wind waai en saam met die Heilige Gees in ons, ons Vader loof en prys.
Dan kan ons ook neerkniel en deur Christus, na ons Vader toe gaan om by sy voete stil te raak. Ons kan ons bekommernisse en seerkry by Hom gaan neerlê en daarna weer met gejubel ons pad verder stap.
Ons Vader wat in die Hemel is, help ons en lei ons om vandag, en hierdie week, voldag in U teenwoordigheid te bly. Amen amen Here.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Callie Vermeulen
Mooi gestel Adele. Lekker om jou hier raak te lees.