Jongste aktiwiteit:

Wanneer dit saak maak

Die son het oor Keetmanshoop se sinkdakke gebrand toe die pouseklok gelui het. Sus het haar kosblik oopgeklik. Toe het sy Betsie se spottende stem gehoor.

“Kyk hoe lyk jou skoene, Lilly!” het Betsie katterig gelag. “Kom hulle van die ashoop af?”

Sewejarige Lilly se wange het vuurrooi geword. Sy het haar stukkende tekkies probeer wegsteek. Die kinders het geskater. Iemand het haar appel deur die stof geskop.

Sus se maag het saamgetrek. Sy was skaam en stil. Sy het haarself nie as dapper beskou nie. Sy het haar kosblik toegeklap.

“Tel dit op,” het sy gesê.

Betsie het omgeswaai. “Wat?”

“Jy het reg gehoor. Tel Lilly se appel op.”

Die speelgrond was doodstil; selfs die sonbesies het gelyk of hulle luister.

Betsie het haar arms gevou. “Of wat, Sus?”

Met bewende knieë het sy vorentoe gestap. “Of ek vertel vir juffrou wat jy elke pouse doen. En ek sal nie alleen praat nie.”

Sy het na die kinders gekyk. Dawid het sy oë laat sak. Mia het haar lip gebyt.

“Ek het gesien,” het Mia gemompel.

“Ek ook,” het Dawid gesê.

Betsie se glimlag het verdwyn. Sy het die appel opgetel, afgevee en in Lilly se hand gedruk.

“Jammer,” het sy gefluister.

Later het Sus en Lilly na hul skakelhuis in die spoorwegbuurt teruggestap.

“Was jy nie bang nie?”

Sus het ’n klippie geskop. “Vrees beteken nie jy bly stil nie.”

Lilly het geglimlag. “Jy’s dapper vir my skaam dertienjarige ousus.”

Sus het gelag. “Net wanneer dit saak maak.”

© Marlene Erasmus
25/09/2026

(250 woorde)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Theresa het n geregistreerde lid geword

  • ILANA het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • ILANA het ‘n nuwe publikasie gemaak