Van Egipte tot hier.
Onder die Faro’s van Egipte, het elke Israeliet geweet wat van hom verwag was. Ons sal offer wat jy vra. Hulle het gewerk, gelate in hulle lot, tot hulle dood neer geslaan het. Ons sal lewe, ons sal sterwe. Elke persoon het presies geweet hoe om te oorleef, presies geweet wat om te doen. En almal het geweet wat die prys was van ‘n lewe. Want sien, hulle was slawe. Hulle was die verhandelings eenheid soos vandag, die olie en goud op T.V. Niemand het nodig gehad om te dink nie. En vir die meeste was die lewe eenvoudig, wel swaar maar eenvoudig.
Maar hier en daar was een of dalk twee, wat ‘n droom, ‘n profesiё kon onthou. Hulle het uit geloof, en desperasie gebid. Gebid tot ‘n God wat die meeste nie meer geglo het, hulle aanhoor nie. En tog, Hy het gehoor! Hy het nie sy volk vergeet nie. Sy plan was Moses. Moses kon nie ‘n woord praat, sonder om te hakkel nie en hy was ‘n moordenaar. Hoe kon God so mens gebruik, om een van die grootste gebeure in die bybel te ly.
Moses, na sy geboorte, is deur sy ma in ‘n drywende mandtjie tussen die Nyl rivier se riete versteek om sy lewe van Faro te beskerm. Juis deur hierdie aksie, het hy in die teenwoordigheid van hierdie wrede Faro groot geword. Is hy opgelei, geleer om die Israeliete soos beeste te sien? Daar was sy grootste les, dat bloed sterker is as staal. Hy moes vlug want hy het vir Israel opgestaan en ‘n Egiptenaar vermoor, om ‘n Israeliet wat hy nie eers ken nie, te beskerm.
Die res is soos hulle sê geskiedenis. Maar hoe het God se volk hier beland? Hoekom het hulle redding nodig gehad in die eerste plek? Israel was immers God se gekose, se geliefde volk! Hoe kon hy hulle verlaat… Hoekom moes dit vir Israel nodig wees om ‘n hakkelende moordenaar deur die woestyn te volg, veertig-jaar na vryheid?
Om dit in vandag se terme te verduidelik, kom ons kyk na ‘n ander volk. Net soos Israel, is hulle uit verskillende stamme by een gebring. Net soos Israel, lê hulle pad met God baie nou. Net soos Israel, het hulle onder God se genade gefloreer, en sterk geword. Maar net soos Israel, het hulle ook in hulle krag, in hulle rykdom van hulle God weg gedraai. En, hulle het teen mekaar gedraai. Selfs nog voor hulle in die woestyn beland het, het hulle al vir hulle afgode gemaak met goud, wat kos in baie se monde kon sit. Met tyd waarmee baie gesinne bymekaar kon hou. Met energie, wat baie nasies tot inspirasie kon lei.
Jy sien, hulle afgod is ook van goud. Maar waar die Israeliete ‘n kalf gemaak het, en voor hom neer gebuig het, gedans het, en dronk geword het, was die nuwe god ‘n baie onskuldige “springbok.” En, ongelooflik soos dit klink, het hierdie volk onder die waan gekom dat die lewende God tevrede sal wees as ons Hom saam met hierdie “springbok” aanbid.
Ons offer baie meer vir die “springbok” as vir God. Ons spring op en af en juig en skree vir die “springbok.” Ons reis duisende kilometers vir hom. Ons offer ons seuns vir hom, ons vrouens, ons dogters. Ons juig en ween voor hom. Ons facebook vir hom, ons praat by die werk oor hom. Ons baklei lelik oor hom, en ons stry en skel oor hom. Ons trek sy klere aan, en sing liedere oor hom. En ons is gereed om hom met ons laaste sent te verdedig. Ons is siek en kwaad en ontevrede as die krag af gaan, en die T.V kan nie speel nie.
So die vraag is nou, wat het jy vir die Lewende God gedoen? Het jy al vir Hom voor mense op en af gespring? Het jy dalk vir Hom gejuig en geskree? Duisende kilometers gereis? Wat het jy vir Hom ge’offer? Voor Hom geween? Vir Hom gefacebook, of by die werksplek oor Hom gepraat? Vir Hom met iemand baklei. Waar is jou Jesus span trui of T-hemp? Sing jy saam met ‘n groep vriende in die openbaar vir Hom. En sê jy dalk dankie as die krag af gaan, en jy vir ‘n slag Sy skepping kan hoor, sonder geraas?
Ons staan en wonder, ons almal vra hoekom, en almal is op breekpunt oor ons land. Negatief oor die petrol prys, oor plaasmoorde. Korrupsie is ‘n doring in ons vlees.
Dalk is dit tyd om te besluit vir watter God jy wil skree my vriend. Wat het die “springbok” jou in die sak gebring.
My God, die Lewende Een, het sy seun vir jou geoffer. Hy het jou skuld betaal, of jy dit wil weet of nie. Net Hy kan hierdie gemors reg maak. Net Hy kan vrede bring. Niemand ken jou beter nie, want Hy is jou Skepper. Hy het jou aanmekaar gesit, Hy weet hoe jy werk en waartoe jy in staat is. Hy weet alles van jou af, en is nogsteeds vir jou lief. Neem Sy hand, en alles wat onbelangrik is sal wegval. En onthou sy gebod wat hy vir Moses gegee het by die berg.
Kom ons staan saam as een nasie en bid ons land reg.
© Vossie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek