Ozzy, Rocco of Strauss?
(Woordtelling : 836)
Musiek kan my soms tot trane dryf – letterlik. Of dit altyd goeie trane is, is debatteerbaar, want party genres het die vermoë om my moer-knoppie deeglik blink te vryf. Die eentonigheid van Rap is so … ugh. Maar ons noem dit musiek, en soms selfs Afrikaans! Grrr.
Wanneer dit klink asof die sanger se groottoon met ʼn 10-ton hamer vergruis word, is irritasie gewoonlik die enigste emosie wat byna onmiddelik volg. Ek val byna oor my voete om die radio se skakelaar by te kom en die ding se bek vir ‘n uur of twee stil te maak. Dit is ongelukkig so dat alle musiek nie in almal se smaak val nie en mens het nie juis beheer oor die keuses wat die omroeper maak nie.
Almal het seker al agtergekom dat vrolike musiek help dat kopers meer spandeer, ‘n vinnige tempo restaurant besoekers meer en vinniger laat eet, en dat stadige, hartseer musiek jou aan ‘n begrafnis laat dink of jou ‘n verlange kan laat voel vir ‘n plek waar jy nog nooit was nie, selfs na mense verlang wat jy nog nooit ontmoet het nie. (Eintlik verlang jy net na jouself, maar kan dit selde in woorde uitdruk.)
Sommige sangers weet bloot net nie hoe om te sing sonder om te skree nie. Of om dieselfde twee reëls ‘n honderd maal te herhaal nie. Dit klink ook asof die moderne kunstenaar eintlik in ‘n opsigtelike toestand van breindood probeer oorleef en nie meer sinvolle lirieke kan skryf nie, anders sou hulle nie dieselfde drie woorde tot vervelens toe herhaal het nie. Dit blyk dat met die koms van ons tegnologiese eeu, ons kreatiwiteit ongelukkig ook daaronder gelei het.
Instrumentale musiek pas my dus soos ‘n fyn, kant-handskoentjie. Ek kan in vrede op iets anders konsentreer én musiek luister! Soos om te lees terwyl die radio steeds saggies in die agtergrond speel, want wanneer daar lirieke is, kan g’n mens op ‘n boek of blokkiesraaisel konsentreer nie! Instrumentale musiek maak my rustig. Dit veroorsaak nie dat my hart 100 km/h uit my borskas wil uitbars nie. Ek hap immers nie na ‘n onskuldige bystander wanneer my hartklop teen ‘n rustige pas voortdraf nie. Dit het nie net ‘n kalmerende invloed op my gemoed nie, maar ontspan sommer my lyf ook. Ek voel gelukkig en gemaklik.
Maak nie saak hoe ander oor hul musiek voorkeur voel nie, ek is bloot gelukkiger wanneer ek nié na ‘n geskree hoef te luister nie. Ek het nie nodig om die volume so hard te draai dat dit as tydelike ontvlugting van my gedagtes en emosies moet instaan nie. Ek hou van die gedagtes wat deur my kop dryf en het nie nodig om dit dood te skree nie! Die natuur se musiek is natuurlik nog beter as ons mens-gemaakte pogings. Kabbelende water, voëlsang, die wind in die bome. Beter musiek is daar net nie, al moet jy soms na die buitewyke van die dorp ry om weg te kom van motors se getoeter en die bure se bulderende partytjies.
Die enigste musiek waarna my pa ooit geluister het, was die psalms en gesange tydens Sondag se kerkdiens. Hy was oor die algemeen maar ‘n knorrige man, veral in sy latere jare. Was sy gemoedstoestand te wyte aan die gebrek aan musiek in sy lewe of iets heeltemal anders?
Ousus het dikwels dawerende musiek gespeel om haar “in the mood” te kry. Ek kon nooit agterkom wat daardie bui eintlik veronderstel was om te wees nie, maar dit was verseker nie dieselfde een as mýne nie. En buitendien, haar musieksmaak het teen dieselfde tempo verander soos die verskeidenheid mans in-en-uit haar lewe stofpad-draaie gegooi het.
Wanneer laas het ek ʼn troue bygewoon en kon net heerlik met die lang-verlore familielede kuier? Die platejoggie wil almal ook graag “in the mood” kry, en dit werk selfs vir my, al is daardie bui nie iets is waarmee mens graag partytjie wil hou nie. Teen die einde van die aand (waarvoor ek in elk geval nooit teenwoordig is nie), is mens se stem al hees geskree. Dan sit julle net skaapagtig vir mekaar en loer deur die té hoë blommerangskikking terwyl jy jou smaaklike poeding met klein happies verorber.
Dit is jammer dat skootrekenaars nie meer ‘n ingeboude CD-speler het nie, want ek moet erken dat dit iets is wat ek mis, om na rustige musiek te luister terwyl my vingers woorde op die sleutelbord spel. Ag nee wat, ek praat nou eintlik sommer net twak. Om eerlik te wees, ek hou eintlik baie meer van die geluid van stilte terwyl ek by die rekenaar besig is, en soms Johann Strauss vêr, vêr in die agtergrond.
Miskien is ek net doodgewoon oud gebore. Ek verlang terug na daardie dae toe lirieke nog sin gemaak het en die kunstenaars liefs stilgebly het as om hul stembande tot die uiterste toe te toets. Ja wat, vanaand gaan ek na Rocco de Villiers se manewales op die verhoog kyk. Wat ʼn heerlikheid.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek