
Goue draad tussen musiek en gemoedstoestand.
Goue draad tussen musiek en gemoedstoestand.
Daar bestaan ‘n universele taal wat deur alle grense breek, diep emosies ontlok en hartsnare roer. Elke mens kan aan ‘n spesifieke liedjie dink wat herinneringe oproep of selfs ‘n spesifieke gemoedstoestand by hulle veroorsaak. Het jy al gewonder waarom dit so is dat sommige note en ritmes soveel mag oor ons het?
Daar word al ‘n geruime tyd navorsing gedoen oor die impak van musiek en die impak wat dit het op die menslike psige. Studies het dan ook bevind dat die brein se neurochemiese reaksie op musiek kan lei tot die vrystelling van verskeie hormone soos onder andere dopamien. Dopamien is ‘n hormoon wat as ‘n neurotransmitter dien en word met plesier geassosieer. Met die feit in gedagte, is dit nie verbasend dat musiek jou gemoedtoestand kan affekteer nie.
Die invloed van musiek op die mens stop egter nie hier nie. Musiek kan jou liggaam fisies beïnvloed deur byvoorbeeld jou hartklop te verhoog of te verlaag, afhangende van die ritme van die musiek.
Emosioneel het musiek ook’n impak op die mens. Ek is seker jy kan dadelik aan ‘n liedjie dink wat jou hartseer stem, of jou nostalgies laat voel. Sommige liedjies het die uitwerking om mens te wil laat huil of ander weer om jou op te vrolik. Elke noot, liriek of akkoord raak ‘n sekere deel van ons verlede, hede of selfs toekomstige drome aan.
Musiek speel ook ‘n rol in verskillende kulture en sosiale kringe. By sommige kulture, is musiek die middel om gemeenskappe nader aan mekaar te bring of ‘n manier hoe tradisies oorgedra word. In hierdie gemeenskappe kan musiek ‘n baie groot rol speel in die vorming van identiteit en gemeenskapsgevoel.
As ons hierdie aspekte van musiek in gedagte hou, moet ons seker maak dat ons goed gebruik maak van die voordele van musiek. Hier is paar riglyne:
1. Wees kieskeurig:
Daar is soveel verskillende soorte genres in musiek dat dit belangrik is om te kies na watter musiek jy wil luister. Kies musiek wat positiewe gevoelens by jou uitlok.
2. Luister aktief:
Musiek kan dien as agtergrondmusiek, maar in stede daarvan om dit so te gebruik, moet jy tyd maak om doelbewus na musiek en ook lirieke te luister. Neem kennis van die melodie, dit kan vir jou vreemd klink, maar die kan ‘n heel nuwe ervaring vir jou wees.
3. Maak musiek deel van jou roetine:
Dit maak nie saak of jy elke oggend na ‘n liedjie luister om jouself te motiveer vir die dag wat voorlê, of na rustige melodieë luister voor slaaptyd nie, maak musiek ‘n deel van jou daaglikse bestaan en roetine.
Een feit is seker; musiek is’n ongelooflike geskenk. Musiek is nie sommer net swewende klanke deur die lug nie. Dit is ‘n kragtige katalisator vir ons emosies,’n spieël wat ons gevoelens reflekteer. Wanneer jy weer jou gunsteling melodie hoor, onthou die ongelooflike krag wat dit beskik om jou gemoedstoestand te bepaal.
Kom ons wees dankbaar vir hierdie ongelooflike geskenk.
©Marlene Erasmus
30/08/2023
(506 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek