Jongste aktiwiteit:

Trappe klim is nie vir sissies nie!

Ek’s ‘n reisiger in murg en been en as ek sê “reisiger” dan bedoel ek dit letterlik en figuurlik, want as die wiele draai dan is ek in! Ons as gesin reis gereeld en is altyd uit op een of ander avontuur. Ons is gek oor ons land maar ook om ander lande te verken.

So sit ek en manlief die dag elk met ‘n beker koffie en stry oor ons volgende bestemming. Op die ou einde besluit ons dis Mabibi wat die eer sal hê om met ons opgeskeep te sit vir ‘n paar dae(Mabibi is geleë tussen die Sibaya-meer, Sodwanabaai en Manzengwenya in Noord-KwaZulu-Natal).

Opgewonde oor ons nuwe avontuur besluit ons om te begin in pak en sommer bietjie voorraad te kry en dan voor sonsopkoms die pad te vat. Ongerepte strande en natuur roep ons en die opgewondenheid lê vlak!

Gewapen met die GPS vat ons die lank pad maar liewe genugtig nog skaars in die helfde van ons reis, het ek en juffrou GPS al klaar kwade gevoelens, sy sê dié kant toe en ek sê daai kant toe! My bloed kook al en manlief begin al mooi praat en boeta begin al benoud raak.

Na vele ure, en duin op en af, het ons nou amptelik verdwaal! Nie een van ons het ‘n idee waar ons is nie en daar is geen sein in die omtrek nie. Boeta raak sommer so wit om die kiewe. Ek’s al so kwaad vir juffrou GPS, manlief moet net keer of ek smyt haar by die venster uit! Na vele naelbyt oomblikke bereik ons uiteindelik ons kamp plekkie.

Die warmte van die mense wat ons ontvang en die glimlagte wat jy kry maak jou hart so sag, ek glimlag tot vir manlief wat my skoon verward aankyk want ‘n half uur terug het ek nog vir hom gegrom.

Ons kamp plekkie is so mooi, half versteek en jy kan die see hoor druis in die agtergrond. Boeta raak so uitbundig, ons moet net keer of hy slaan die tent sommer self op! Met als op hul plek en die vuurtjie wat knetter, is juffrou GPS vergewe en giggel ons lekker.

Met die son wat nog skaars sy kop uitgesteek het die volgende oggend, besluit ons om die strand te gaan verken. Opgewonde en baie braaf trotseer ons die 137 ongelyke groot houtplank trappe tot onder by die strand (soos ons verneem het, die enigste pad na die strand). Sjoe maar by trap nommer 25, tap die sweet ons al af en boeta raak skoon moedeloos! Manlief paai maar mooi en ons begin weer braaf verder stap. Nog skaars in die helfde val ons skoon letterlik uitgeput op die hout trap neer en spring verleë op en gee so nagemaakte glimlag vir twee toeriste wat by ons verbystap en vir ons giggel. Niemand het nerêns genoem dat jy ‘n “ervare bergklimmer” moet wees om die strand te bereik nie!

Met die see hoorbaar en die strand uiteindelik insig, is my bene so moeg ek kan skaars ‘n tree vorentoe gee. Manlief sleep my letterlik agterna en boeta soen amper die grond so bly is hy. Voor ons lê die mooiste strand en die water so blou, die trappe nou heeltemal vergete! Ons baljaar omtrent soos ‘n klomp kinders in die water en tel oral skulpe op.

Na ‘n heerlike dag op die strand is dit tyd om die trappe terug op te trotseer. Mens weet nou nie juis of jy moet lag of huil nie. Dit voel letterlik of mens “berg Everest” moet trotseer so steil is dit terug op. Elke 5de trap moet jy eers asem skep en jou bene voel al soos jelly, dit wil nie meer saam werk nie! Uiteindelik is die laaste hout trap insig en ons hyg al soos ‘n klomp boerboele. Ons stap maar stadig terug na ons kamp plekkie toe, te moeg om ‘n woord te sê.

Na ‘n week is ons darem meer gekonfyt in trappe klim. Al die ekstra “vetjies” het sommer ook verdwyn.

Hoe sê boeta “trappe klim is nie vir sissies nie” en ek stem nogal saam!
©Madzi




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed