Jongste aktiwiteit:

Wanneer ‘n blom gepluk word

Graag wil ek hierdie skryf aan elke mamma daar buite. Soms gebeur daar so baie dinge en dan wonder mens… Hoekom Here, hoekom ek?!

Stil gaan ek deur my foto album en my hart ruk van verlange want voor my sien ek my mooie blou oog dogtertjie, net geleen aan ons vir so kort rukkie. Sien poppie-lief is een van ‘n nie-identiese tweeling en sy en boeta het sommer net op ‘n dag besluit dis tyd om die ruwe wêreld te verken en op 6maande het hulle ons kom verras.

Poppie-lief was die sterk enetjie terwyl boeta verbete geveg het. Maar niks kon hul skei, die ongelooflike liefde wat hul gebind het. Maar toe word poppie-lief siek en al wat mamma kon doen was om verbete te bid. Trane was daar nie meer en poppie-lief het geveg vir al wat sy kon maar liewe Jesus het gekom en sy mooiste blom kom pluk.

Niemand kan die seer beskryf hoe jy met jou kosbare blom in jou arms sit tot sy minute later soos ‘n sagte porselein pop lyk nie, en weet nooit weer sal jy daai pragtige blou ogies sien nie. Boeta huil so hart verskeurend en jy voel verskeur, die wete sy liefling sussie weg vir altyd..

Jou seer is so rou dat jy letterlik in die badkamer wegkruip en jou hart so uithuil dat jy voel hoe jou hart uitgeruk word! Sterk wees sê hulle want boeta het jou nou meer nodig as ooit tevore. Boeta lyk so verwese waar hy skielik alleen lê, en jy wonder..”Here waarom ons” en jou hart raak rou.

Alleen by die huis staan jy voor ‘n baba kamer gevul met alles van twee, en jy val verwese op jou knieë neer en baklei met God terwyl trane magteloos oor jou wange val want hoe kon hy dan my kleine blom vat.

Boeta raak nou sterk en uit eindelik breek die dag aan wat hy mag huistoe kom. Geen woorde kan die vreugde beskryf om my klein kabouter tuis te kan hê nie! Maar my hart voel leeg sonder poppie-lief en ek wonder hoe sou dit wees as sy hier saam ons kon wees.

Die pad vorentoe was glad nie maklik nie want omdat hul so vroeg gebore was, was daar baie uitdagings maar boeta het elke keer gewys dat niks hom onder sal kry. Vandag is my kabouter ‘n woelige seun met die mooiste hart van goud en saam kyk ons na foto’s van sy kosbare sussie, my poppie-lief.

Vandag wil ek vir jou sê liewe mamma ek ken jou seer en tyd heel, maar sonder Jesus sal jy nie die lang pad van genesing kan loop nie want Hy is die ENIGSTE een wat jou waarlik kan dra. Sonder Hom is jy leeg en net Hy kan jou seer wegvee.

Vandag kyk ek met verwondering en ‘n dankbare hart na my kabouter en ek kan nie genoeg dankie sê vir Jesus dat Hy hierdie kosbare engel vir ons gespaar het nie en ek weet poppie-lief kyk af na ons en glimlag waar sy veilig in Jesus se tuin speel.

©Madzi




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed