
Stukkend of spesiaal
Franklin Delano Rosevelt word vandag gereken as een van die drie grooste amerikaanse presidente ooit, tesame met George Washington en Abraham Lincoln. Hy is dalk minder bekend as Benjamin Franklin maar het nie te min ‘n baie groot rol gespeel in Amerika se ekonomiese herstel, was die land se 32ste president en het ‘n rekord van vier verkiesings gewen. Hy het Amerika gelei in wat vandag as die groot depressie bekend staan. Sy vrou dalk meer bekend as hyself, was Eleanor Roosevelt. En wat die vreemdste van sy loopbaan as president was, is dat hy in ‘n rolstoel was. Franklin het in 1921 polio opgedoen en die gebruik van sy bene verloor. Hy het hard probeer om die afhanklikheid van ‘n rolstoel uit die publieke oog te hou. Dit was egter ‘n groot erkende en beminde deel van sy beeld.
Hoe het die ligaamsgebrek van presidend Rosefeld die amerikaanse publiek beїnvloed? Dalk het hulle hom bewonder en gevoel as ‘n man in ‘n rystoel sonder die gebruik van sy bene kans kan sien om hulle land te lei, hulle wat geen gebrek het nie aangespoor moet voel om meer te doen, en harder te probeer. Ek glo die skool onderwysers het gereeld kinders aangespoor met “as ons maar net so hard soos hy probeer” of “as hy dit sonder bene kan doen, wat sal ons dan in ons pad laat staan.”
Niemand van ons word as stukkende mense gebore nie, en daar is tog ook nie een van ons wat perfek is nie. Maar van een ding is ek seker en dit is dat ons almal gelyk voor ons Skepper staan. In die werklike wrede wêreld daar buite is dit ongelukkig nie altyd wat mense met gebreke ervaar nie, en glo vir my jy hoef nie blind te wees of in ‘n rystoel te sit om dit te ervaar nie. Laat ek myself maar as voorbeeld gebruik. Ek is gebore met twee gebreke of tekorte naamlik kleurblindheid, en AGHS. Kleurblindheid klink dalk nie so erg nie, maar min mense weet daar is verskillende vorms daarvan. In my geval is ek eers na skool met kleurblindheid gediagnoseer en vir die eerste keer het ek verstaan hoekom ek niks kon sien as die onderwysers met ‘n rooi kruit op ‘n groen bord geskryf het nie. Al die jare kon ek dit net nie verstaan nie, maar die spot van die kinders in my klas of die ongeloof op ‘n onderwyser se gesig sal ek nooit vergeet nie. Die heel ergste sou wees as hulle my dan van die bord af wou laat lees. Sommige onderwysers was meer verstandig, party sou darem lekker die spot met my dryf tot groot vermaak van die klas. Die waarheid is dat ek rooi-bruin kleurblind is. Dit beteken nie dat ek glad nie rooi of bruin kan sien nie, maar dit lyk vir my anders. Die groot probleem lê egter nie daar nie maar alle kleure wat uit rooi of bruin saamgestel word is vir my verwarrend. Ek kan geen verskil sien tussen blou of pers nie, want ek kan nie die rooi in die pers sien soos die ou langs my nie. Kleurpotlood stelle van vier en twintig kleure bestaan vir my uit net vyf kleure. Plaas jouself in my graad een klas, kom ons leer kleure en speel met klei.
Dan die AGHS, vandag word dit erken as ‘n kroniese toestand wat bestaan uit aandagsgebrek-hiperaktiwiteitstoornis wat internationaal dikwels as “ADHD” bekend staan. Dit is nie ‘n siekte nie maar word eerder beskryf as ‘n brein wat anders bedraad is as normaal. Dit het sekere slegte maar ook goeie aspekte vir kinders wat daaraan ly. As jy terug beweeg in tyd vir omtrent veertig jaar, was ek ‘n stout moedswillige kind met onder ontwikkelde emosionele gedrag. Die medisyne daarvoor was raas en slae. By die huis en by die skool was ek eintlik maar ‘n gebed’s geval sonder hoop. Dit was hoe ek maar meeste van die tyd gevoel het. Maar wat is AGHS nou regtig en hoe verskil ‘n kind daarmee van een daarsonder? Wel, die een ding daarvan is dat mense met AGHS verskillende grade het en nie almal dieselfde simptome het nie, maar ek gaan probeer verduidelik. Die enkele grootste probleem is ‘n tekort aan wat genoem word uitvoerende funksie en dit het te doen met die vermoё om te fokus, organiseer en om ‘n mens se werkende geheue te gebruik. Ons sukkel met interaksie met die skool en met vriendskap en self om die dinamika van ons eie huisgesin te verstaan en beleef die dinge anders as ander mense. Ons sukkel om te fokus in die klas, maar kan soms hiper gefokus raak tot die punt wat jy nie hoor as mense met jou praat nie. Ons is altyd besig om te vroetel in ‘n vergadering, sukkel om ons self en ons emosies te beheer en tree impulsief op. Die bestuur van tyd is vir ons onmoontlik en ons dink nie voor ons praat nie wat gewoonlik komplikasies het. Kinders wat in my skool dae hiermee gesukkel het was as “probleem kinders” beskryf. Die hartseer waarheid hiervan is dat hierdie kinders regtig nie beheer daaroor het nie en hulle voel hulle is abnormaal, mislukkings en soos stukkende speelgoed. Kinders met AGHS is daardie seun of dogter wat erêns alleen tydens pouse sit en die ander kinders dophou terwyl hulle speel. Omdat hulle voel hulle is nie goed genoeg nie, maak hulle moeilik vriende en wanneer hulle wel vriende maak hou die vriendskap gewoonlik nie lank nie selfs al het die vriend dieselfde toestand. Glo my as ek sê daar is niks erger vir ‘n kind om alleen te wees nie. Soos Robin Williams tereg gesê het “ I used to think the worst thing in life was to end up alone. It is not. The worst thing in life is to end up with people who make you feel alone.” Dit was vir my amper die ergste van alles. Die ergste was toe ek besef het ek verkies dit om alleen te wees.
Om nou terug te kom met wat ek in die derde paragraaf gesê het, niemand word stukkend gebore nie, klink dalk nou uit plek uit. Die waarheid van die saak is dat elkeen van ons presies gebore word volgens God se Wil, en tot Sy eer. God het elkeen van ons geskape volgens sy plan wat hy vir ons het. Hy kyk na ons en sien nie stukkende mense nie, maar mense wat perfek is vir die wêreld wat Hy vir ons voorberei het. Ek het byvoorbeeld tydens my diensplig besef dat daar vir die eerste keer ‘n rede is vir my kleurblindheid. Dit is vir ‘n kleur blinde persoon baie makliker om versteekte voorwerpe raak te sien omdat ons meer geneig is om vorms raak te sien as kleur. Dit is moeilik om ons met kamoeflering om die bos te lei want ons is nie kleur ingesteld nie, ons sien die vorm. Dit was wonderlik om te besef dat vir hierdie stukkende mens tog darm iets is wat my bruikbaar en goed maak.
Vandag is ek ‘n volwasse man, getroud en ek het ‘n seun wat ook AGHS het. Maar ek verstaan hom en gee hom baie liefde en ek weier om hom op medikasie te plaas. Jy kan nooit AGHS gesond maak nie en die medikasie wat leiers daarvan help om te fokus en konsentreer, verander hulle en dit breek hulle gees. Een ding weet ek nou vir seker. God het ‘n doel met my lewe net soos wat ek is. Ek hoef niks te verander om Sy liefde en goedkeuring te kry nie, en ek is presies gereed vir die doel waarvoor Hy my geskep het. Al wat kort is my geloof in Hom en om vir hom beskikbaar te wees. Niemand in die hele wêreld is meer geskik vir sy plan met my, as ek nie. Mag dit wees dat niemand ooit sal voel hulle is nie goed genoeg nie, want met elkeen van ons het Hy ‘n plan, en al het Moses gehakkel het God hom gekies. Selfs die twaalf Apostels wat Jesus self gekies het was nie volmaak nie, maar Hy het hulle lief gehad en hulle het Hom in geloof gevolg.
In nederige geloof verklaar ek vandag al weet ek nie nou wat Sy plan met my lewe is nie, ek is gereed om Hom te volg tot die einde van die wêreld as dit moet, want ek weet, daar is net een van my.
©Vossie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.