
Die dag toe die Drakensberge vir ons geknor het.
As daar nou een ding is, dan is dit ons groot liefde vir die berge. So kom dit toe dat ek vir manlief en ons kabouter saamsleep Drakensberge toe! Heel opgewonde en voor in die koor kan ek al my tone voel omkrul van lekkerte. Wat is dan nou lekkerder as die stilte en die pragtige natuurskoon! Al wat ek van boeta se kant kry is “regtig ma” en dan mompel hy verder. Manlief lyk darem opgewonde so my glimlag is al amper om my ore!
By Hermits Wood kampterrein aangekom word ons verras met die stilte en die mooiste natuur toneel voor ons, die rivier hoorbaar in die agtergrond! Die opgewondenheid is hoog tasbaar en ek moet omtrent my maniere onthou of ek smyt al die kamp toerusting uit, kompleet soos ‘n klein dogtertjie wat haar eerste persent gekry het. Met net twee staanplekke beset gaan daar nou nie juis veel aan op die kampterrein nie en voor jy kan sê “muis” is dit ‘n oor en weer gegroetery en ‘n gekuier.
Met die tent al opgeslaan en als op hul plekke, besluit ons om bietjie te gaan verken. Die badkamers is sommer heel eerste op die lysie. Daar aangekom staan ons eers onseker rond want dis nou net so geboutjie met twee ingange. Een vir die mans en een vir die dames. Dis nogal “donker” binne en tot my benoudheid kan ek net een stort gevolg deur een toilet en wasbak sien. Ek gee maar so giggel want dis maar baie primitief.
Met die braaivleis vuurtjie al aangesteek en almal in ‘n goeie luim, sit ons nog so en voor jy kan sê “mes” begin daar meer voertuie by die kampterrein instroom. Van gesinne tot 6 en dan klomp studente wat laf raak en soos vlermuise uit hul voertuie hang. Weg is die eens stilte en ek en manlief staar mekaar verward aan.
My glas coke het skoon omgeval en ek moet maar vir boeta sê om sy mond toe te maak want dis brommer tyd en al wat manlief uit kry is “hier kom ‘n ding!”
Nie baie beïndruk nie sit ons maar die spulletjie so en beloer. Dis ‘n geraas en die studente het besluit dis tyd om die radio op te draai tot een van die ou ooms met sy kierie beduie en jy die studente saggies hoor giggel, dat als weer bietjie rustig raak.
Met die lanterntjie en lampies aan gryp ons die handoeke en seep en sit af badkamers toe. Daar aangekom, staan die mense al tou(‘n tou so lank lyk soos van Johannesburg tot Kaapstad). Met een toilet, shower en wasbak per mans en dames, is dit nie meer ‘n grap nie en die tannie voor my beduie wild sy moet soos in dringend by die toilet uitkom of ons almal swem.
Manlief en boeta kom ook aan getrippel en sê met ‘n sug ons sal maar later terug kom. Wel later toe lyk dit nog erger en dit begin al lyk of daar geen uitkoms is nie. Boeta se lip sleep al amper op die grond soos hy moan en manlief stel voor ons gebruik maar die emmer as die nood druk, hoe dan nou anders!
Gewapen met ‘n skotteltjie water, trotseer ons maar badtyd. Hier gewas en daar gewas, kan mens nou nie juis help om te giggel nie! Dit was maar ‘n rowwe naweek en toe almal uiteindelik oppak en die kampterrein weer stil word, storm ons soos besetenes die badkamers. Dit was omtrent die lekkerste stort OOIT!
Die stilte daal neer en ons is die enigste mense oor op die kampterrein. Ek gee sommer so gil van vreugde dat die kranse sommer antwoord gee! Ons het die badkamers net vir ons self en so ook die pragtige natuurskoon. Met ons rugsak gepak en gewapen met ons kameras, sit ons af rivier toe en om sommer ook te gaan rond snuffel op die staproetes. Ek moet sê na ‘n uur begin ek al hyg soos ‘n donkie en ons besluit dat Rome is nie in een dag gebou nie so dis omdraai tyd, môre is nog ‘n dag!
Weer terug by ons kamp plekkie en die heerlike stilte om ons, besluit ons dis tyd om die braaivleis vuurtjie te stook. Met geen wolk in sig lyk als so belowend. Almal raak doenig en ons al drie is ook al deur die stort. Die braaivleis vuurtjie knetter te lekker in die agtergrond. Die volgende oomblik klink dit omtrent of die berge vir ons knor, ons skrik ons amper in ‘n koma in! Weg is die sonskyn, die wolke en mis rol sommer so oor die berge al nader na ons soos ‘n draak wat enige oomblik gaan storm.
Verskrik sit ons nog so en toe ons weer sien reën dit sommer kat en honde! Sonder enige waarskuwing. Ons moet so vinnig als toemaak dat daar nie tyd is vir rond trippel nie. Bietjie bek af en pap nat gereën besluit ons niks gaan ons keer om ons vleisie te braai nie. So staan ek en manlief gewapen met ‘n sambreel oor ons vuurtjie en braai ons daai steak dat tot die mees ervare sjef trots sou wees!
Ongelukkig het ons geen keuse gehad om later maar op te pak nie want toe reën dit eers, sommer elke dag. En so kom nog ‘n avontuur toe op ‘n einde.
Die Drakensberge bly maar ‘n lekker plek!
©Madzi
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Ag ek het heerlik gelees en die Drakensberge is defnitief ook op my droomlysie om te gaan besoek