Jongste aktiwiteit:

Verkiesing-verkiesing

Dis nog so effens korter as ’n maand, dan gaan ons verkiesing speel.

“Speel”, omdat na die aanhoor van sogenaamde radio-debatte die afgelope 3 weke, dit die mees gepaste beskrywing is. Alhoewel my kennis van hul wêreld baie beperk is, is daar tog ‘n struweling in die gemoed wat druk om gelug te word …

Dit kan my verbeelding wees, maar dit voel net vir my of daar iets in die waardigheidsamestelling van sommige hedendaagse aspirant staatspersone skort. Iets wat mens laat sukkel om vir die regte redes te glimlag …

Geen storie is ’n storie as daar nie êrens tog ’n stukkie verlede of nostalgie in is nie.

Voor ek nog behoorlik die lem oor my baard laat gly het, het ek al ’n belangstelling in die goewerments-dinge gehad. ( Dit klink so na ’n skelwoord as mens sê dat jy ’n belangstelling in die politiek gehad het; vandaar die sagte verdoeseling.)

My geheueboek val oop op ’n bladsy wat aantekeninge oor ’n Rapportryers-geleentheid by ’n plaaslike tennisklub se saal bevat. Dit was die eerste keer dat ek so ’n blootstelling aan die geeste van die politiek gehad het. Ons jonges was almal genooi om meer te kom leer oor die junior vlerk van die beweging en die party. Almal was blykbaar daar.

Die hoofseun en –dogter van die skool, al die kinders met ere-kleure, die debatspan en sommige van die res van ons. Meeste van die rugbymanne was nie daar nie – hulle moes ’n oefening bywoon.

Ieder geval, die ander hoogeres kon mens op ’n afstand uitken. Hulle was die manne met die pakke. Die waardige ampsdraers en politieke skouponies.

Hulle het vir my net soos daai dae se Trust Bank-bestuurders in hul gryspakke en –skoene gepronk. Die ander pakmanne, wat seker meer senior en ernstig was, het weer net soos die ouderlingskorps van ons Bellville-Wes gemeente gelyk. Ek moet wel erken dat my verwysingsraamwerk so effens knap was, tog, het ek met die eerste blik net geweet dat hierdie omies ernstige leiers was.

Die gerondstaan en grootoog kyk, het egter gou na lou badwater begin voel. Hier en daar het ’n geritsel in die gaste se uitsien na meer en na “wat volgende is”, begin roer. Een van die swartpakmanne het seker dieselfde aanvoeling gehad en met ’n geklingel teen ’n koeldrankglas, maak hy toe die gehoor stil met min-of-meer die volgende aankondiging: “Mgmgmem … dames en here, vriende, … mgmgmem … ons eregas is ongelukkig effens weens die druk verkeer uit Kaapstad vertraag. Soos u seker weet, is sy kantoor in die Parlementsgebou in die hart van die stad. Derhalwe, nooi ons u vriendelikheid uit om eers ’n ligte aandete te geniet en dan sal ons die aankondigings opvolg met sy aankoms.”

“Sal Oom Sarel asseblief vir ons die seën vra.”

Oom Sarel het altyd die seën gevra, sou ek later jare agterkom.

Die aandete was witsous-lasagna, klein wit botterrolletjies en mengelslaai. Alhoewel ek glad nie uitsoekerig met kos is nie, is dit tog vreemd dat elke eerste ete op amper elke studentekamp of -funksie of kerkgeselligheid, soortgelyke lasagna, klein wit botterrolletjies en mengelslaai as keurete hierna sou voorsit. Dit moes seker iets met die Rapportry-mense te doen gehad het.

Ieder geval, dit was skaars ’n uur later toe klingel die swartpakman se bottermes teen sy wynglas, gevolg deur sy vraag na aandag. (Tussentyds het die grootmense dooswyn gekry, terwyl ons kinders nog ’n stywe dop uit die vrugte-van-die-vallei-sap kon tap )

Die eregas en spreker van die nagtelike geselligheid het opgedaag. Deur die vensterskrefie langs die braai, kon ons die neus van ’n vreemde swart kar net-net sien. Dit moes seker syne gewees het.

Ons gewag was verby. Die klubhuis se glasdeur het oopgeswaai en nog twee fors ouderlinge het ingestap gekom. Op hierdie oomblik was ek nie regtig seker waar ek is nie … wanneer gaan dominee dan ook instap?

Maar die gewag was kort. Toe sien ons hom!

Net-net, want soos ’n swerm seemeeu op ’n snoekskuit sal toesak, so spoel daar ’n golf “trustbankpakke en ouderlinge” tot teen die eregas se bloubaadjie. Dit groet en dit druk en dit glimlag en wuif en die skool se Hoofseun is daar midde-in.

Oopmond en verstar het ons teen die glasmuur op die verste ent van die klubhuis bly staan. Ten minste tot die opgewondenheid gedaal het en die grootmense hul stoele ingeneem het. Toe sien ek hom eers behoorlik. ’n Langerige man met ’n koddige gesig. En ore! Ernstige ore!

Die jongman langs hom, wat ek later sou hoor eintlik sy seun is en voorsitter van die ryersbeweging hier is, stel hom voor en uiteraard bekend aan dié van ons wat hom nog nie ken nie … Minister Piet Koornhof.

Van die toespraak se inhoud onthou ek niks nie, maar van sy oortuigende manier van praat; dié onthou ek wel!

Baie jare later, lank na Dr Piet Koornhof se verhoudingsmanewales opslae gemaak het en hy uit sy amp as ouderling in die NG Moedergemeente op Stellenbosch moes bedank, het ek hom weer ontmoet. Nogsteeds netjies uitgevat in ’n blou baadjie, maar sonder die weelde van ’n staatsman of die lip- en baadjiesoom aanhang van daai jare se Rapportryers en voorryers of selfs agterryers. Net hy … en die blommerok aanhangsel, Marcelle.

Die goewerments-dinge is wrede dinge. Ek kry die arme mense wat so graag ’n eerbare bestaan uit, in en vir die politiek wil maak, so jammer.

Stel jou voor, wat met die nuwe geslag kan gebeur … as die ou wêreld se mense van aansien, intellek en opleiding so gekarnuffel en kaalgat anderkant uitgespoeg kon word.

Ek kry ons kiesers so jammer.

Lekker stem my volk.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed