Daar’s feetjies in my bos
Gisteraand, tot die uitbundige genot van die kennisse en vriende en familie, het vroulief kiekies van 26-jaar gelede, van ons as jonges en studente, op die wereldwye skerm geplaas.
“My kiekies is verwysings, my lewensinventaris die ensiklopedie van my bestaan. My kiekies is bewyse vir die feit dat ek ook daar was ´n prentjiekommentaar wat my beaam…..” so sing Lucas Maree destyds, en wanneer ek aan hom dink, dan klim hierdie dieper-as-wat-ons-besef melodie en woorde uit die geheuekis. Een van die treffende strofes vir my was iets in: “….my kiekies is bewyse dat ek ook daar was…”
En weereens het iets hierin my na Lukas en sy lied laat verlang; en na mense wat ek eers net in my geesteoog kon onthou en nou met die merke van die tyd teen hul slape op my slimfoonskerm sien lewe kry. Eienaardig genoeg maak dit die verlange eintlik meer, eerder as minder.
In die piesangbos buite die huis woon daar duiwe en mossies en katte en feetjies.
Het jy al ’n vlindervlerkfeetjie gesien?
Nee?
Snaaks..ek ook nie. Maar wat as hulle wél daar is; ons kán tog sien sonder om te kyk.
Oupa Sakkie het soms na die onverduidelikbare verwys as die doenighede van die sogenaamde feetjies. “Wie het die laaste kaas in die yskas opgeëet?”….niemand weet nie; “dis seker die feetjies.”
“Wie het die grassnyer buite gelos”…..weer…”seker die feetjies.”
“Wie sal dit of dat tog gaan haal of doen?”….altyd maar die feetjies!
Die arme wesentjies het destyds die skuld vir baie dinge in ons huis gekry, want alhoewel die werklike skuldige aan almal en nog bekend was, was die “feetjies” die sosiaal korrekte antwoord op die stilte na ‘n vraag!
Ja, die feetjies was woelig.
Keer op keer moet ek waak teen my eie gedagtegang se aanslag op die pad wat ek stap. Maar, keer op keer is dit met aardskuddende gevolge wat ek die “feetjies” in kiekies van eergister, die gesigte van gister en die feetjies van hier-en-nou raaksien en herken.
Die slimmer-as-ek mense vertel dat die bestaan van karakters soos Goue Lokkies en Rooikappie en feetjies natuurlik verbeeldingskuns is. Dat sulke stories hul oorsprong in die verbeelding van ’n persoon het met die uitsluitlike doel om te vermaak. Soms mag die storietjie selfs ‘n lewenslessie hê wat ‘n punt maak oor die werklike lewe; die einste lewe waar een se werklikheid ’n ander se droom is. My feetjiestories het nie veel vermaakwaarde nie, maar tog het die “feetjies” my vermaak…
Dit is laat een aand by kuierplek in ’n Hotel in Hermanus diep in die Tagtigs. Na ’n aandjie van rommelgesels weens die oorvloedige gebruik van vloeibare substante, het ons vier manne uiteindelik die dors oorwin wat ons vir ’n dag of drie gevolg het. Ons het die monster van behoefte sien nader sluip en ons het sy prop afgedraai en sy tinsel vermorsel. Ons was sterk, aantreklik en vermaaklik!
Die oudste van ons manne se inborste was sterk en hy het niks behalwe water gedrink nie. Die tweede oudste, Smiley, wou die invloed van sy aantreklikheid buite proporsie rek en die skones van die kuierplek omsingel en oorwin. Ek en vriend Philip was vermaak.
Teen die einde van die laaste roep van die barman, moes ons huiskry. Die aantreklike kêrel het egter bagasie opgetel en wou twee vriendelike jonge skones ’n geleentheid huis toe gee. Min sou ons toe besef dat hy eintlik na ’n forniekeringsgeleentheid opsoek was!
Ons sestal het in die rooi Golfie ingeprop; oudste agter die stuur, een poppie op my skoot en die ander gansie het gesit asof sy tussen die manne op die agtersitplek gegiet was. So is ons die dorp uit. By die huis gekom het “aantreklik” sy ratte van verleiding versnel en koffie en goeie geselskap aangebied. Ons almal het die uitnodiging aanvaar; alhoewel ons ook eers die volgende oggend sou besef dat hy eintlik net die twee asters genooi het!
Ieder geval, oudste het dadelik sy plig besef en koffie aangesit, “aantreklik” het sy sjarme met bloeisels en satyn getooi en die verleidingstroop begin smeer……maar, hy was alleen in sy verbete aanslag…..ek en Philip het op aandag gestaan, die geroep vir vermaak anders verstaan en ons skoollied gesing!
Die meisie-kuiergaste het belangloos elk ’n tydskrif gegryp, gegaap en sonder koffie huis toe verkas!
Smiley se gesogte bederfie was moertoe, oudste het in die kombuis rondgekruip van die lag en ons singende duo het FAK-liedjies op pad kamer toe gesing!
En waar was die “feetjies” gewees, hoor ek iemand vra?
Hulle was daar…. in die hart van ’n verantwoordelike bestuurder, in die keuse van ’n skoollied as vermaak en die behoud van onskuld.
Hulle was jare daarna in die harte van vriende wat hul deure selfs na bittere teleurstelling steeds oopgehou het en in die weggooidae van vergrype, moeilike en verkeerde besluite. Maar méér nog, die “feetjies” was juis ook in die oomblikke van geluk daar. In die oggendsang van die wilde voëls buite ons kamervenster en die warm voetjies van die een wat my lewe deel; wat my lewe verryk. Daar is “feetjie”-oomblikke waarin die Hand van ‘n Almagtige en persoonlike God, waarin alles en almal bestaan – die Vader van alle sigbare en onsigbare dinge – gesien, gevoel en geleef kon word. Oomblikke soos hierdie.
Lucas Maree het laat een aand na sy konsert in ‘n koffiehuisplekkie in Durbanville by ons aan tafel kom sit. Hy het my laaste Trustbanktjek geteken en so ’n miljoen vir my “betaal”, maar dit was egter in sy woorde waar ek hom werklik gevind het; waar hy feetjie-status gekry het…
“Daar is komedie in my kiekies, ’n skaterlag betraan
deur die afstand tussen destyds en vanaand
Daar is ritme in my kiekies, ’n patroon wat hom herhaal
in die kom en gaan en wegbly van gesigte …”
In die piesangbos buite die huis woon daar duiwe en mossies en katte en feetjies met stories, maar geen kabouters nie.
2 Kommentare
-
Kiekies
Briljant alweer! Ek gaan weer begin om feetjies op te soek. 'Hulle was daar…. in die hart van ’n verantwoordelike bestuurder, in die keuse van ’n skoollied as vermaak en die behoud van onskuld.' Puik gestel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Hennie hierdie is pragtig!!! Ja die feetjies (Engele??) is mos altyd teenwoordig. Heerlik gelees, dankie vir die deel van hierdie stukkie nostalgie