Jongste aktiwiteit:

Die onsigbare band.

Die onsigbare band.

 

Die wêreld om ons is deurtrek van geluide: die wind wat suis deur die bome, die gekwetter van voëls, die geluid van die stadslewe. Orals om ons sweef die note op die wieke van die wind. Maar daar is ook ander musiek wat ons dikwels doelbewus gaan soek, nie net om stilte te verdryf nie, maar om die diepste dele van ons wese aan te raak. Dit is MUSIEK! Maar, het jy al doelbewus gestop en gewonder oor hierdie onsigbare hand van klankgolwe wat deur die lug trek, wat ons gemoedstoestande so beïnvloed?

Sedert die vroegste, antieke tyd het die Grieke geglo dat musiek die vermoë het om harmonie in die siel te bring. Musiek was nie net vir die vermaak nie, maar ‘n heilige praktyk wat die balans tussen liggaam en gees kon herstel. Wat het hierdie mense geglo? Was hulle dalk bewus van ‘n geheim of twee waarvan die modern samelewing vergeet het?

Ons lewe in ‘n baie gejaagde tyd. Ons jaag doelwitte na en soek na bevrediging in materiële besittings. So raak ons verlore in die stroom van inligting. In die warboel vergeet mens baie maklik om te ‘voel’! Hier is dit waar musiek ‘n anker word. Musiek trek ons in, sleep ons terug, laat ons voel en laat ons lewe.

Swaar musiek soos ruk-en-rol kan jou baie gou laat dink aan jou jong, rebelse stadium. Aan die ander kant kan klassieke komposisies jou ‘n veilige hawe bied in die middel van die chaos. Sommige musiek kan jou selfs ‘n traan in die oë laat kry. Musiek het beslis die vermoë om brûe te bou tussen ons en ons emosies wat ons nie eers geweet het bestaan nie.

Musiek gaan egter nie net oor die kunstenaar wat vir ons musiek maak nie, dit gaan ook oor ons:  die luisteraars. Ons kies waarna ons luister, hoe ons reageer en watter betekenis die musiek aan ons gee. Ons beskik oor die mag om deur note en melodieë te reis, ons eie verhale te skryf en nuwe betekenisse aan ou herinneringe te heg.

Soos musiek ons vorm, so vorm ons ook musiek. Elke keer wat ons weer na ‘n liedjie luister, bring dit aan ons nuwe ervaring en perspektief. So vind ons ‘n nuwe stukkie van onsself in ons musiek.

Dus, ja, musiek speel ‘n groot rol in ons gemoedstoestand. Maar dit bly nie net by iets passief nie, dit is ‘n dans, ‘n dialoog tussen siel en klank. ‘n Onsigbare skakel wat ons aanraak en ons uitnooi om te voel, te droom en die lewe te geniet!

Laat ons die voorreg om musiek te geniet, koester en waardeer.

 

©MarleneErasmus

30/08/2023

(438 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed