Jongste aktiwiteit:

Resensie: Bach in Brasil, die film

Resensie: Bach in Brasil

Twee-en-veertig jare gelede was hulle beste vriende, Karl en Marten, en het graag saam met hobo en eufonium musiek gemaak, ‘n riet- en ‘n blikblaasinstrument (soortgelyk met ‘n tuba). Veral Bach het hulle graag gespeel. Toe emigreer Karl, en Marten verwyt hom dat hy eenvoudig „gedros” het. En toe hang Marten sy musiekloopbaan aan die haak en onderrig moderne, bedorwe europese kinders wat glad niks met die „oumodiese goeters” kan aanvang nie. ‘n Troostelose lewe. Na sy pensionering wil hy, met klavierbegeleiding, weer ‘n toneelloopbaan begin.

[Bach in Brazil, 2015; regie Ansgar Ahlers, met Edgar Selge, Aldri da Anunciação, Franziska Walser, Marilla Gabriela, Stepan Nercessian en Thaís Garayp met die kinders Pablo Vinicius en Dhonata Augusto ea.; drama , komedie, musiek; Duitsland / Brasil; vanaf 0 jare.]

En nou na al die jare ontvang Marten Brückling [Selge] uit Brasil ‘n brief waarin staan dat sy ou vriend gesterf het en hom ‘n baie waardevolle iets nagelaat het: Die oorspronklike handskrif van ‘n musiekstuk van Johann Sebastian Bach. Hy moet net na Brasil kom en sy erfenis persoonlik haal. Marten het sopas beleef hoe hy nie vir die jaarlikse Bachfees in Bückeburg aangeneem word nie — nee, hy is reëlreg uitgeskop, want hy speel al te langsaam en, nouja, oudmodies… „Maar ons wil mos die geesdrif van die jong mense vir Bach opwek!” Sy luim is nie juis op ‘n hoogtepunt nie.

Dit kos oorwinning, maar Marten Brückling klim bietjie nors en moerig op die vliegtuig na São Paulo, hy wat nie noemenswaardig uit sy geliefde Bückeburg weg gewees is nie. Natuurlik loop alles skeef: Hy verpas die verbindingsvlug na Ouro Preto en moet met ‘n oornagbus ry. Daar aangekom het hy taalprobleme met die taxibestuurder en, as alles verby is, sê hy, „Origami,” in stede van „Obrigado” (dankie). As alleenlopende toeris is hy prooi vir die eerst-beste rondloperskollie. Hy verloor alles, sy eufonium, sy papiere, ‘n deel van die klere wat hy aanhet en, o jammerskade!, sy waardevolle Bach-noteblad.

„Die enigste Brasiliaan wat Duits praat”, Candido [‘n skelmstuk soos Figaro, deur Anunciação wonderbaar gespeel] staan hom as tolk in die hospitaal by en nooi hom uit om by hom te kom woon aangesien hy glad niks meer besit en nie eers ‘n hotelbed kan bekostig nie. Candido oorreed Marten om as teengif probleemkinders in die Jeugverbeteringshuis in musiek te onderrig. Daar leer hy die kinders die bachse beginsels wat hulle gou begryp, en hulle bring hom, deur middel van improvisasie by voorbeeld, die tipies brasiliaanse ritme-gevoel by. So ontstaan ‘n soort cross-over tussen Samba en Bach. Ein dit ís musikaals! Ook musiekonderwysers het na die opvoering gesê, hulle meen dat Bach geen onreg aangedoen is nie.

Die verhaal is gou vertel, die raamwerk, die struktuur: Maar dis die woordverdraaiings, die vertaalspele wat al by „Origami” begin het, veral die dig-aan-die-kol-verby-maar-tog-nie-getref-nie „vertolkings” van Candido-Figaro-Fallstaff-Uilspieël wat ons (en veral die karakters wat saamspeel) van die ware pad afbring … en ons heerlik laat lag: Ons kan die teks onderlangs lees en verstaan dus wat die amptenaar sê as hy portugees praat, maar as Candido se „vertaling” anderkant uitkom, stem dit met haresbreedte nie daarmee ooreen nie. Ons kan hoor wat die Duitser sê en ons lees die vertaalteks daaronder van wat Candido sê. A-nee-a! (Marten antwoord byvoorbeeld op ‘n vraag dat die kinders goed is en natuurlik in Duitsland sou kon optree, „Julle gaan na Duitsland om te speel.” „Berlyn! Berlyn!” „Nee, die Bach-Musiekfees in Bückeburg.”) … Dit laat die kinders hoop dat hulle na Duitsland kom. Dit veroorsaak dat Marten sy lewe van nou af in ‘n ander rigting stuur. Stuk vir stuk kom sy besittings (deur die „vermiddeling” van Candido) weer terug en, voor hy of enigiemand kan keer, sit die kinders in ‘n vliegtuig op pad na die Bachse Musiekfees in Bückeburg…

Wat is nou die verbinding tussen Bückeburg in Nedersakse en Ouro Preto in Brasil?

Altwee dorpe, of liewer kleinstede, het ‘n ryk erfenis aan barok-argitektuur, is eenvoudig mooi plekke om te woon (Tja, fotogeen, sê mens). In die ene het die jongste seun van Johann Sebastian, Johann Christoph Friedrich Bach, ‘n kwarteeu lank geleef en as komponerende Hofkapellmeister gewerk – „der Bückeburger Bach”. En ter ere vier hulle jaarliks ‘n Bachfees daar. In die ander is ‘n Bach-vereniging met museum. En dié vereniging meen dat so ‘n skat eintlik in Brasil behoort te bly, dis mos iets wat die Brasiliane sal waardeer en as ‘n nasionale erfenis sal koester. Want alle musiek berus op die grondlae van die wette wat Johann Sebastian Bach uit die tone en note gehoor en opgeskryf het. Ook die samba.

Natuurlik is dit ‘n sprokie, natuurlik sou dit byna onmoontlik gewees het om agt talenteerde kinders op ‘n hopie in ‘n kindertronk saam te drom, natuurlik sou so ‘n uitgedroogde ou stokvis nie ‘n week in die tropiese klimaat uitgehou het nie. Maar in ons verhaaltjie het dit alles klopdisselboom afgeloop. Waarlik, ‘n sprokie.

‘n Vyfster-sprokie.

©15e. Desember 2016……………….◄]:o(…☼☼☼☼☼…(o;Þ………………………………………….tje




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed