Jongste aktiwiteit:

~ Oor hom kan ek nie dig nie, ek sal moet skryf ! ~

~ Oor hom kan ek nie dig nie, ek sal moet skryf! ~

Pa word sewentig en vanaand is sy aand. Ek sit voor my skerm want skryf moet ek oor hom skryf! ‘n Gedig ?…Nee sien, hy rym nie soos ander rym nie en sonnette en kwatryne is tien teen een meisies uit sy jong dae. Vorm en struktuur simboliseer vir hom ‘n vrou se lyf of anders van ‘n galjoen (die moerse groot een wat weggekom het).

Hy is ‘n weskusklong, gebore en getoë. Arm groot geword maar met ‘n zest vir die lewe wat op sewentig nog teen die suidooster beur en wat wonderwerke in ‘n oogwink kan laat gebeur. As hy ‘n bokkom eet (dinges, daai goed stink), as hy ‘n bokkom eet sou jy sweer dis aan melktert wat hy smul. Met sy leatherman knipmes (tot perfeksie blink en gepoets), sy beker koffie en sy pyp wat neffens hom lê en smeul, eet hy vis soggend, smiddae en saans. Mens sou dink, as jy arm groot geword het op die knersvlaktes van die weskus, met ‘n pa as visserman en met menigte dae slegs vis, patats en aartappels om te eet, dat jy met die jare ‘n teensin vir hierdie eenvoudige kos sal ontwikkel. Nie hy nie. Waag dit ook net om te sê dat vis stink, sal hy jou driftig reghelp …”Bogger dit, vis stink ga niks, vis ruik na vis!”

Hy’s nou al jare wewenaar en dis nie goed dat pa te veel vrye tyd op hande het nie, want dan doen hy kwaad. So die ou probeer homself sinvol besig hou. Hy kook konfyt! Nie sommer enige konfyt nie. Konfyt met lyf, geur, kleur, glans, gloed en soet. Konfyt met ‘attitude’! Kyk, as hy daai gasstofie” brandskop en sy pyp vir die gesplinterde houtlepel verruil, dan moet jy weet, vanmore pla jy nie die ouman nie. Hy sê konfyt kook is ‘n kuns en met sy houtlepel in sy hand maak hy Vincent van Gogh se naam gat!
Die ou kan ook vreeslik spog met sy konfyte, maar dammit, hy MAG maar want hy ken van! Sy gebottelde groenvye lyk soos jong Eva’s wat hy een een met sjokolade uit die tuin van Eden gelok het en hulle proe verbode lekker soos ‘n verbode vrug moet!
Sy gedoopte en gestroopte makataanskywe (nee, jy mag nie meer sê kafferwaatlemoen stukke nie want dis nou die nuwe Suid-Afrika )in elk geval, sy makataan is die kleur van saffraan en kraak girts as jy dit eet tot die stroop deur jou vingers loop.

Hy ry ‘n swart Volkswagen diesel bakkie met ‘n swart kappie. Die He & She ryskool waarsku alle jong aspirant leerling bestuurders om in die weskus op die uitkyk te wees vir oupa-jam en sy swart bakkie. Nee hy jaag nie, inteendeel, hy reken as jy konstant ‘n spoed handhaaf van maksimum 30 kilometer per uur, hoef jy nie te stop by stopstrate of spoed te gee op snelweë nie want daardie spoed kwalifiseer vir beide. Flikkerligte is iets wat die Jode uitgevind het om geld te maak en remskoene is oorbodig, want teen daardie spoed hoef jy nie skielik te stop nie. Hy is ook lief vir Saldanha want hier is net een robot en baie stopstrate en hy stop net by stopstrate as dit tyd is om sy pyp te stop (geen verkeersligte wat hom aanjaag nie).

Hy is ‘n storieverteller, kleurvol en deurweek met lieg en lag. Hy kan ‘n jakkals en wolfstorie so verkreukel dat die kleinkinders dink dit is opvolg stories van die Harry Potter reeks. Hulle lief oupa se stories en glo alles vir die heilige waarheid. Daarom dat ons al geleer het om ongemerk nader te staan as oupa begin stories vertel want die sensuurraad is soms nodig om die stories meer gebruikersvriendelik vir kinderoortjies te maak.

Ou Poppey het ook ‘n swak vir ‘n mooi vrou. Oud, jonk, maer of plomp, maak nie saak nie. Solank daar belofte skuil in vroulike rondings is sy aandag gevestig. Daarom dat sy sakke en paneelkissie van sy bakkie altyd vol lekkergoed is. Daarmee lok hy hulle nader vir ‘n geselsie en ‘n grappie en kan hy sy lagduiweltjie-oë laat speel oor die liewen Heer se mooiste skepping. So ry hy ook al jare met ‘n paar ‘vervalle’ kondome in sy bakkie se asbakkie rond. Toe ek eendag daarop afkom en hom al proesend daarna vra is al antwoord wat ek kry ” Daar is altyd hoop my kind, daar is altyd hoop” (giggel)

Kyk, hy het die lewe geleef en dit hard geleef, maar het ‘n waardigheid iewers vasgevang waarmee hy sy oudag beklee. Vandag saluut ek hom. My pa ,my tentopbreker, my lewensbeker !

Jy’s ‘n ou bogger pa, maar ‘n bogger met styl en waardigheid !
Ek het jou lief.
~ Uit die pen van Ammie Moon ~
© Almarie Truter




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed