~ Sestien jaar gelede het ek vir die eerste keer begin lewe ~
Vandag, tien jaar gelede, staan ek vroegoggend langs ons swembad in Upington, met ‘n koel luggie wat deur my hare speel. Ingedagte skep ek verdwaalde blare uit die swembad en my gedagtes draai soos altyd rondom my leë baarmoeder, rondom die doodsheid binne my. Twaalf verspilde jare kleef aan my vlees, laat my wees, want moederskap is nie vir my beskore nie.
Ek rebelleer. Met alles binne my wat hunker, kom ek in opstand oor nuttelose moederdele aan my lyf en borste wat nooit die voorreg sal hê om ‘n kind te soog nie. ‘n Liggaam wat haar skeppingsdoel verraai het, wat my uitverkoop het aan ‘n wêreld vol mammas en pappas en kindertjies vol lag, wat riem en rafel aan my gees deur elke nuttelose dag.
”My God, my God, waarom het U my verlaat” skree ek ten hemele wyl ek nie eers meer weet of Hy bestaan en of Hy my hoor nie. Trane vloed soos moedersmelk deur my hart, en verdrink ek soos elke ander dag in my kinderlose smart.
En toe kom die oproep. Ek is uitverkore, want ‘n sekelmaantjie is gebore en sy word aan MY hart gehaak. ‘n Geskenk van ‘n, tot nou afwesige God, om my lewe vol te maak. Sak ek op my knieë neer, nie in staat om die omvang van hierdie gebeurtenis te hanteer. Swem ek deur trane van vreugde en geluk, want ‘n aangenome klein wonderkind is vir my beskik.
Toe ek haar ses dae daarna, in ‘n ander vrou se kraam-teater vang, word EK gebore. Kry my lewe vir die eerste keer sin. Verval al die seer en rou spasies tussenin. Besef ek, dat al is daar geen identiese bloed wat tussen my en haar are vloei, sal ek die laaste druppel lewe uit my liggaam vir hierdie dogtertjie van my uitbloei. Met die eerste geboorte kreet het ek geweet, sy is myne, net myne en geen mens sal my ooit van haar kan skei nie, sal ooit weet wat bestaan tussen haar en my nie.
Sestien jaar gelede, het ek vir die eerste keer begin lewe !
Janke Sauerman : 18/08/ 2000 – ‘n dogter gebore, vir Ammie Moon beskore.
* Uit die pen van ”mammiemoon” *
© Almarie Truter
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek